Bloublasiebrand: Werk hierdie boereraat? deur Salomé Delport.
#rrGesondheid: Hou ’n bottel asyn saam met jou botteltjie Robertson’s Meat Tenderizer in jou strandsak. Dit kan bloublasiebrand binne 30 sekondes stopsit.
Ma’s (altans my ouma, ma én ek, toe dit my beurt was om met die kinders see toe te gaan) hou ’n botteltjie Robertson’s Meat Tenderizer in die motor of strandsak.
Jy kan lag, maar hier is ons rede daarvoor.
Voor jy kan “bloublasie” sê word hierdie botteltjie uitgeruk sodra iemand deur ’n bloublasie in die branders raakgeslaan word. Dit word ruimhartig oor die rooi strepe gesprinkel. Sommige mense maak ’n pasta aan en vryf dit in, maar omdat jou vel nat is, koek die poeier gewoonlik sommer saam op die vel.
Die slagoffer word dan in ’n handdoek toegewikkel, huis toe geneem en in ’n warm bad geprop vir ’n halfuur of so. As die pyn nog nie bedaar het nie kry hy ’n koppie flou swart tee met baie heuning en ’n koekie, en ’n Disprin tien minute later.
Lees ook: Aspirien: Wondermiddel, mits …
Na ’n uur droog die snikke gewoonlik op, en die ma’s verklaar selfvoldaan “sien jy, meat tenderizer help altyd”.
Maar help dit régtig?
As ’n mens verstaan hoe die gif werk, is daar tog verskeie aspekte van dié boereraat wat sal help.
- Lees hier alles oor bloublasiegif soos deur die Universiteit van Hawaii nagevors.
- Lees hier oor Noodhulp vir bloublasiebrand.
Hoe lank duur ’n bloublasiebrand?
Die feit is dat die gif van ’n bloublasie na sowat ’n uur uitwerk. Jy kan ook maar net op jou tande byt vir ’n uur. Die feit dat ’n slagoffer ’n uur na die insident goed voel sê dus niks van die sukses van ons raat nie.
Navorsers het bevind dat asyn binne 30 sekondes die gif en gifselle neutraliseer. Met asyn byderhand hoef jy nie ’n uur vas te byt nie!
Warm water en hitte help teen ’n bloublasie se gif
Ma se raat om die slagoffer in ’n bad warm water te plaas is uitstekende advies. Die Hawaiiese navorsing het bevind dat hitte baie help om die vrystelling van verdere gif teen te werk. Hulle vermoed dat die gif ’n korter of ’n langer uitwerking het en/of later deur die gifselle uitgestort kan word. Hitte na die vel met met asyn afgespoel is sal beslis help.
Die ideale watertemperatuur is 45°C – goedwarm, maar darem nie sodat dit jou brand nie. Maar as die slagoffer direk uit die koue see kom kan dit te warm voel. Tap eerder geleidelik warm water by, en laat hom 20-40 minute in die bad bly.
Wat jy ook al doen moenie koue, yspakke of koue water as terapie probeer nie. Uit ’n chemiese oogpunt klink koue goed omdat dit gewoonlik chemiese reaksies effens of selfs heeltemal onderdruk. Maar die ondersoek het gewys dat twintig minute se kontak met koue het meer as dubbeld die aantal gifselle geaktiveer, in vergelyking met kamertemperatuur.
Die tweede verrassing was hoe sleg koue met hitte vergelyk: koue vir veertig minute het meer as 100 keer soveel gifselle geaktiveer as hitte. Die span vermoed dat koue die gif boonop meer doeltreffend laat werk.
Tee en ’n disprin is goed vir die simptome van bloublasiebrand
Hoofpyn, maagpyn, naarheid en selfs diarree is algemeen na bloublasiekontak. Die slagoffer het waarskynlik ook behoorlik geskrik, en ly dus ook moontlik aan ’n mate van skok.
Al Ma se raad is goed: Warm tee help ook om die persoon op te warm. Die heuning, propvol glukose, of selfs ’n suikerlekkertjie, sal help om die bloedglukose gou op te stoot. Selfs die koekie maak sin: dit bevat ook suiker en dus glukose; en dit “voer” die maag, aangesien jy nie veronderstel is om aspiriene op ’n leë maag te drink nie. Verder sal aspiriene in enige vorm die pyn en allergiese reaksie op die gif help teenwerk wat die bloublasiebrand veroorsaak.
Wat Ma verkeerd doen: Moenie vryf aan ’n bloublasiewond nie
Wanneer die bloublasie se tentakels kontak maak met die vel, slaan sy gifselle in die vel in. Enige druk op die gifselle laat hulle oopspring en hul gif vrystel. Daarom moet jy nooit vleissagmaakmiddel of sand oor die bloublasiewonde of aangetaste vel invryf nie. Probeer so min as moontlik aan die vel raak. Moet ook liewer nie die slagoffer in ’n handdoek toedraai nie.
Spoel die drade af – verkieslik met asyn. Jy kan die drade ook op en weg van die lyf af lig met iets soos ’n strooitjie of jou bril se oor. Werk versigtig om verdere kontak met die vel te vermy.
As ’n warm bad beskikbaar is, laat die slagoffer self bad toe loop. As jy hom in ’n handdoek toewikkel en dra is die kans groot op verdere velkontak, wat die agterblywende gifselle kan sneller. Hy kan in sy swemklere in die bad bly.
Lees ook: Vakansieskoonheid SOS
So, werk Robertson’s Meat Tenderizer vir bloublasiebrand of nie?
Daar ís ‘n potensiële verklaring waarom dit werk:
- Robertson’s vleissagmaakmiddels bevat papaïen, ’n ensiem wat proteïene afbreek.
- Bloublasiegif bevat, onder andere, proteïene.
- Dit is dus moontlik dat die papaïen in die vleissagmaakmiddel die proteïen in die gif afbreek en dit sodoende onskadelik stel.
Die Hawaiiese span het gewis nie van ons boereraat geweet nie, en dit dus nie getoets nie. Maar dit het teoreties meriete – ’n teorie wat wag vir iemand om dit na te vors.
Vir seker gaan ma’s oor die land steeds die botteltjie Robertson’s inpak … van nou af net saam met ’n groot bottel asyn!
Lees ook: Vakansiewenke vir ouers met jong kinders