Bloublasie, jou bloublikskottel! Wat jy moet weet oor bloublasies deur Salomé Delport. Hooffoto: istock/Alina McCullen
#rrGesondheid Gebrand deur ‘n bloublasie? Hier is die kortpadskakel na noodhulp vir ‘n bloublasiebrand.
Het jy geweet? Bloublasies wat saam uitspoel is almal óf links óf regs. Só sê die Australiese Museum in Sydney.
As jy mooi kyk na al die vars bloublasies op die brandersoom sal jy sien dat die stringknoop waar dit aan die blasie heg byna almal aan dieselfde kant van die middelrif sit: óf regs óf links.
In die oop oseaan is daar min of meer ewe veel regse en linkse bloublasies in elke armade, soos ’n “vloot” bloublasies (of Portuguese man-of-war, of bluebottles in Engels) genoem word.
Hoekom sien jy dan net een tipe op die sand lê? Die windrigting bepaal of die linkses of regses uitgespoel word. Dit is Moeder Natuur se manier om te verseker die hele armade nie deur een windstorm na ’n gewisse landsdood gejaag word nie. Slim, nè!
Wanneer bloublasies na ’n winderige dag uitspoel, kan jy jouself aan die delikaatheid daarvan verkyk – aan die deursigtige blasie met sy indigo-blou riffie, en die akwakleurige tentakels wat meters ver elegant en ongeërg deur die waters wieg en swink. Broos maar braaf genoeg vir die oseane van die ganse wêreld. En altyd met die blink kant bo, selfs tot op die laaste. Bloublasies is ’n mooi voorbeeld vir ons – maar giftig ook.
Kan jy sterf van ’n bloublasiebrand?
Nee wat. Maar dit het al gebeur, moet ons bysê. In Januarie 2012 is die 58-jarige Roland Singh oorlede na ’n bloublasie by die Strand hom raak geslaan het – sover bekend die enigste geval in ons land.
Wikipedia gee ’n lys van mense wat weens kontak met bloublasies en jellievisse in Australië oorlede is. Die rekord, wat van 1883 bygehou word, lys net drie bloublasiesterftes in 135 jaar.
Ons hoor nie sommer van bloublasiesterftes langs die kuswaters van ander kontinente nie, waaruit mens seker mag aflei dat bloublasies eerder lastig as gevaarlik is.
Miskien verklaar dit waarom min behoorlike navorsing oor hulle gedoen word én hoekom ons in die war bly oor die beste manier om ’n bloublasiebrand te behandel.
Waar sit die gif van ’n bloublasie?
Ja, soos jy verneem het sit dit in die blou “toue” of tentakels.
Die werking van die gifselle is kompleks en interessant én bepaal hoe jy ’n bloublasiebrand moet hanteer.
Die hele lengte van elke tentakel is oordek met nematosiste, soos bloublasies se gespesialiseerde gifselle genoem word. Hulle is in groepies gerangskik wat batterye genoem word.
Gif kom inderdaad in klein pakkies, dus. Die Australian Museum verduidelik dat elke gifsel maar net 0.001 mm in deursnit is. ’n Gifsel lyk soos ’n hol bolletjie met weerhakies en ’n gifnaald binne-in. ’n Dekseltjie sluit die bolletjie dig. Die dekseltjie is druksensitief. Selfs net ’n klein bietjie druk, soos as die water se beweging dit teen ’n vissie (of jou kuit) slaan, laat dit oopwip. Die bolletjie dop buitentoe uit, die weerhakies laat die gifsel tot 1 mm diep in die vel van die prooi inplant, en die angel spuit sy gif uit.
Op elke tentakel is dermiljoene gifselle, maar gelukkig is net party onmiddellik aktief. Die Universiteit van Hawaii bereken dat maar net 1% van die nematosiste met die eerste kontak aktiveer. Vermoedelik is party nog nie volwasse nie, of het hulle reeds hul gif in vorige jagpogings uitgestort.
Maar – en dit is hoekom die regte hantering na kontak so belangrik is – tot 50% van die gifselle kan met enige verdere stimulasie hul gif vrystel. Laboratoriumwerk wys dat hulle tot 24 uur lank reageer op stimulasie. Daardie brand kan wéér begin. En al brand dit nie kan die gifselle jou oor die volgende paar uur nog gif toedien – net so ’n aaklige gedagte. Daarby is ons dosis-sensitief vir bloublasiegif. Hoe meer gif jy ontvang hoe erger is jou reaksie daarop.
Die punt is dat jy die enige verdere blootstelling aan die gif wil vermy. Ons moet dit op twee fronte teenwerk, sê die Hawaiiese navorsers. Buiten dat ons moet keer dat meer gifselle geaktiveer word, kan ons ook die gif self inaktiveer.
Wat help teen ’n bloublasie se gif en gifselle?
Dit is beslis waar al die verwarring inkom. Die rate en selfs amptelike prosedures reik van grillerig (“kom ek piepie gou daarop”) tot teenstrydig. Hier is die gewildstes – reg en sleg:
- Die ou mense sê giet asyn oor.
- Sedert die 1980s is die amptelike noodhulpriglyn wêreldoor egter dat asyn vermy moet word en selfs die brand kan vererger.
- Jy moet liewer aluminiumsulfaat opsit – met ander woorde ’n bakpoeier-en-water pasta of ’n middel soos Stingose.
- Ander sê weer dat die drade met seewater afgespoel moet word.
- Nee, sê nog ’n ewe oortuigde groep, vars water is beter.
- Uit ’n biochemiese oogpunt klink yspakke en koue water logies, want koue onderdruk chemiese reaksies en sal dus die gif minder aktief maak.
- Nee, nee, warm water is die beste, sê wat dit al probeer het.
- Gooi Coke oor – of bier, of brandewyn
- Daar is selfs raad dat jy oor die vel met ’n mes of bankkaart moet skraap, om die agterblywende angels af te skraap.
- En laastens is daar die eg Suid-Afrikaanse brigade wat by Robertson’s Meat Tenderizer sweer.
Lees ook: Help hierdie boereraat vir bloublasiebrande?
Gelukkig het die Universiteit van Hawaii die saak nagevors en die volgende vas gestel:
1 Tyd tel
Hoe langer jou vel in kontak met die tentakels is, hoe groter is die kans dat meer gif vrygestel word.
2 Moenie die vel druk of vryf nie – veral nie met sand nie
Selfs net die ligste bietjie druk aktiveer die agterblywende nematosiste. Druk kan tot drie keer meer van hulle stimuleer om gif vry te stel.
3 Spoel die drade dadelik af – asyn is tog die beste vir bloublasiebrand
Spoelmiddels kan die gifselle en hul gif óf aktiveer óf selfs deaktiveer. Die span het ’n rits van die bekende rate vergelyk en gevind dat outydse asyn die heel beste van al die spoelmiddels werk. Dit stel die gifsel onskadelik én inaktiveer sy gif byna volkome – twee vlieë met een klap.
4 Alle soorte asyn help teen bloublasies
Enige asyn – mout, appel, wyn, bruin of wit – werk, mits dit nie verdun word nie.
Noodhulpmiddel uit die apteek soos Lidocaine en Sting No More (nie hier beskikbaar nie) was nie doeltreffender as asyn nie.
5 Hitte help uitstekend teen bloublasiebrand
Die ondersoek kon ook die koue-vs-hitte-debat uitsorteer. Twintig minute se kontak met koue water het meer as dubbeld die aantal gifselle geaktiveer, in vergelyking met kamertemperatuur. Die tweede verrassing was hoe sleg koue met hitte vergelyk: koue vir veertig minute het meer as 100 keer soveel gifselle geaktiveer as hitte. Die span vermoed dat koue die gif doeltreffender laat werk.
6 Seewater help niks. Maar dit is beter as vars water
Seewater aktiveer nie die gif nie maar deaktiveer dit ook nie. Dit is dus nie nadelig nie maar dit help jou ook nie.
7 Hierdie populêre middels teen bloublasiebrand help niks en is selfs skadelik
Jy het vir seker as gehoor dat uriene, skeerroom en bakpoeier help. Die navorsers het die gewilde rate vergelyk en hulle so gerangskik in volgorde van taamlik nutteloos tot selfs gevaarlik:
- skottelgoedseep
- vars water
- Coke
- magnesiumsulfaat (Stingose, pasta van water en bakpoeier)
- skeerroom
- suurlemoensap
- kommersiële soutwater (saline)
- uriene en
- alkohol.
Dit is inderdaad gevaarlik om alkohol en uriene oor bloublasiebrandwonde te giet omdat hulle die vrystelling van die gif aanhelp. Die navorsingspan het gevind dat hoe meer alkohol in ’n drank is, hoe gevaarliker is dit as spoelmiddel teen bloublasiebrand. So is brandewyn, whisky, tequila of vodka selfs nadeliger as gewone wyn of bier.
En wat van Robertson’s Meat Tenderizer vir bloublasiebrand? Lees hier.
Nog interessanthede omtrent bloublasies
- Eintlik is ’n bloublasie ’n vierling. Jy sien net een diertjie, maar volgens die Universiteit van Hawaii bestaan ’n bloublasie eintlik uit vier diertjies wat ’n maag en seunuweestelsel deel. Die opsigtelikste is die blasie, of pneumatofoor met sy riffie, wat die groepie bo die water hou. Die tentakel is eintlik ’n daktilosoïed, wat die kos opspoor, vang, en bring na die gastrosoïed, wat die vertering beheer en sorg dat al vier gevoed word. Die gonosoïed sorg vir voortplanting van almal.
- Daar is tekens dat die getalle bloublasies toeneem, volgens Italiaanse syfers. Niemand weet of dit te doen het met klimaatsverandering of die versouting van die see nie.
- Al is bloublasies giftig, is hulle smulkos vir ander seediertjies, soos die periwinkelslak wat baie algemeen op ons strande net onder die sand naby brandersoom leef, terwyl die sonvis en seeskilpaaie dieper in die oseane hulle jag.
- Daar is twee spesies bloublasies, maar vir praktiese doeleindes is hulle ewe giftig.
Hoofbron
Lees die oorspronklike navorsingartikel hier