Dis gevaarlik as ek oor sport begin dink. Skryf, nóg gevaarliker. Maar dié week pak die nostalgie my beet as dagblaaie begin bespiegel oor óf die neefs Jean-Luc en Daniel du Plessis saam gekies word vir die Stormers-groep vir Saterdag se Superrugby-wedstryd teen die Cheetahs. Vanoggend weet ons: môre draf die legendariese Carel en Michael du Plessis se seuns uit op Nuweland, nes in die glorieryke tagtigs toe die WP koning gekraai het.
Ek was ’n tiener van die tagtigs. Een wat met groot oë geluister het na stories van die Du Plessis-familie en ’n niggie se liefde vir broer Michael. Die lewe het sy loop geneem, die liefde het gekwyn, maar die Du Plessis-broers het my pad bly kruis.
In 1997 word Carel as Bok-breier gekies. Ek, ’n jong joernalis, kry die kans om weer met ’n Du Plessis te praat. Daardie onderhoud verskyn op 21 Mei 1997 in die dagblaaie, op die dag amper negentien jaar gelede.
Die storie is die storie, maar dis die foto wat dié week met my praat. ’n Foto wat saam met ander met wie my pad oor die jare gekruis het in ‘n raam in my tuiskantoor hang. ’n Jong Carel met sy vyftien maande-oue Lara op die een arm, en die driejarige Jean-Luc in die ander. Die einste Jean-Luc wat deesdae ‘n Stormers-trui oor sy kop trek. En ’n Springbok-rugbybal tussen hulle op die grond.
Die blondekop-seuntjie het op die dag van die onderhoud breër en soeter geglimlag as sy skaam pa. En Carel het tussendeur vertel dat sy kinders nie aldag so soet is nie. Want kort na die voltooiing van hul splinternuwe Kaapse huis het Jean-Luc ’n saag beetgekry en aan die naaste venster begin saag. “Dán word ’n pa beproef,” het Carel vertel, terwyl hy met ’n knipoog vir sy seun kyk en sê: “Ongelukkig ruil ek nog doeke om. Maar my dag vir koffie in die bed sal nog kom. Al is dit vyfuur in die oggend. Of hoe, Jean-Luc?” En ek wonder: dra Jean-Luc al vir Carel koffie bed toe aan?
Môre speel twee neefs saam op Nuweland, twee pa’s sit waarskynlik iewers op ’n paviljoen of agter ’n TV vasgenael. Bloedbroers.
In ’n ander storie pak twee broers (dalk meer?) die uitmergelende Comrades eerskomende Sondag. Sê die een in ’n WhatsApp gister: “Dis hoe jy hom hardloop, tree vir tree.” Met die wete dat sy broer dieselfde doen, iewers in die skare wat die naweek op Durban en omstreke toesak.
My oog vang ’n prentjie op Pinterest:
Regels voor broers . . .
Samen leuke dingen doen
Elkaar helpen as het nodig is
Naar elkaar luisteren
Zonder te oordelen
Lachen tot de tranen
Over je wangen rollen
Elkaars beste vrienden zijn
Onvoorwaardelijke liefde
Ek wonder of dieselfde geld vir bloedbroers? Dalk, dalk nie. Maar dié naweek beslis – as hulle vir dieselfde span speel en dieselfde ultra-marathon voltooi. Soos broers: samen leuke dingen doen, elkaar helpen as het nodig is . . .
Tot volgende week,
Marí