Instructions
Maak gegeurde botter
Meng 250 g sagte botter met ’n groot hand vol vars kruie (grasuie, pietersielie, tiemie, dille en roosmaryn werk goed), die uitgedrukte sap en skil van ’n halwe suurlemoen, ’n fyn gekapte knoffelhuisie, sout en gemaalde swartpeper na smaak. Verdeel in twee en skep op stukkies kleefplastiek. Vorm in rolletjies en sit in die yskas. Smelt oor geroosterde groente, geskroeide beesfilet, geroosterde vis of roer deur warm aartappels. Hou vir tot tot 2 weke in die yskas, of vries vir tot drie maande.
Maak geurige olies
Verhit 250 ml (1 k) olyfolie (nie te warm nie). Voeg ’n hand vol vars kruie van jou keuse by en verpulp in ’n voedselverwerker. Gooi deur ’n sif en skep in ’n glasbotteltjie. Hou in ’n donker kas. Maak ook seker die blaartjies of takkies is met olie bedek.
Maak ook hierdie lekker kruie-omelet met krakerige groenslaaivulsel
Maak jou eie pesto
Kap 2 groot hande vol basiliekruid, 50 g (½ pakkie) dennepitte of makadamianeute, 2 knoffelhuisies, 50 g (½ k) gerasperde parmesaan en sout na smaak in ’n voedselverwerker fyn. Voeg 80 ml (¹⁄³ k) olyfolie drupsgewys by en geur met swartpeper. Skep in ’n gesteriliseerde botteltjie en hou vir tot twee weke in die yskas. Gebruik as doopsous, roer deur pasta of gebruik as ’n smeermiddel oor geroosterde vleis en bruschetta.
Lees ook: Kook met kruie
Kruie is hoogs bederfbaar
Droog oorskietkruie: bind dit in bossies saam en hang in jou kombuis op. Stoor in ’n lugdigte houer sodra die kruie droog is.