Met daardie glashelder groen oë van haar kyk Dunay Darren op ‘n ander manier na die wêreld. Sy is mooi en sexy, ja, maar nie ‘n skoonheid sonder grysstof nie, sy is immers besig met haar meestersgraad in sielkunde. Sy was nog nooit van plan om net goeie kykmateriaal te wees nie. Sy het geweet wie sy is en wat sy uit die lewe wil he nog lank voor haar pad met Kurt Darren gekruis het. Juis dít is een van die hoofbestanddele vir die magic tussen dié twee.
“Ons het respek vir mekaar se drome. Ek glo dis ’n voorreg en seën dat ons albei vreugde put uit wat ons doen. Kurt kom byna elke dag met ’n glimlag tuis. Daar is soveel huwelike wat verbrokkel, want een van die partye is ongelukkig by die werk – dit wat hulle in ’n groot mate definieer. Dis vir my belangrik om my man gelukkig te sien, en ek weet hy voel dieselfde oor my passies en ideale,” sê sy stralend.
Glo dit of nie, maar voor hulle mekaar ontmoet het, het sy nie eens geweet wie ene Kurt Darren is nie. “Ek het my nooit sommer voor die TV neergeplak nie,” bieg sy, en het ook nie eintlik omgegee wat in die kolligwêreld gebeur nie. Ná die kennismaking wou sy niks van haar liewe Kurt af weet nie. Sy’t gehoor hy is maar ’n bietjie common. En dit het nie juis gehelp dat hy ’n help-my-sterk-lyk-hempie en ’n eina-broekie aangehad het toe sy hom ontmoet nie. Maar uiteindelik het die donkerkop met die lagkuiltjie in haar linkerwang besef daar’s nie wegkomkans nie. Kurt is dié een.
Voor ons mekaar ontmoet het, het ek nie eens geweet wie Kurt Darren is nie
“Ek het ’n bietjie geskrik toe ek die Kurt waarvan almal praat die eerste keer sien. Sy hare het in alle rigtings gestaan, hy’t op ’n bed gelê en ’n boxer short en ’n T-hempie aangehad wat soveel moontlik spiere moes wys,” vertel sy laggend van dié dag toe sy in Kurt se musiekvideo ‘Staan op’ moes optree.
Dit was so hittete of Dunay het glad nie op die stel opgedaag nie. “Dit het vir my gevoel ek was nie bedoel om dié dag in daardie video te wees nie.” Haar motor het die oggend op die grondpad ’n entjie van hul huis af gebreek.
“Ons het toe nog op ’n kleinhoewe in die Lanseria-omgewing gebly. Ek het my agent laat weet ek dink nie ek gaan betyds wees nie, want ek moes nog heelpad Centurion toe vir die video. Hy het voet by stuk gehou en gesê hy sal my kom oplaai as dit moet!” Dunay moes later hoor Kurt kon die hele dag nie sy oë van haar afhou nie. Hy het haar dié aand gebel.
“Ek het nie die nommer geken nie en gewik en geweeg of ek moet antwoord. Toe’s dit hy! Hy het sowaar skelmpies my nommer in die hande gekry.” Hy het haar saamgenooi na ’n konsert by die Centurion-teater. “Ek het eers nee gesê, maar toe gedink dis dalk tyd om nuwe mense te ontmoet.”
Sy het in daardie stadium pas uit ’n lang verhouding gekom. Romanse was nie vanselfsprekend in dié nuwe verhouding nie. “Kurt vertel nou nog vir almal dat ek hom nie eens ’n goeienagsoentjie wou gee ná ons eerste date nie! Ek is maar ’n bietjie outyds.”
In die aanloop tot hul verhouding het hulle het ure lank net gesels, pizzas geëet, DVD’s gekyk. Dunay het die arme Kurt twee maande lank laat sweet voor hy een aand moedeloos vir haar gesê het hy kan eenvoudig nie langer “net haar vriend” wees nie.
“Ek was oorbluf, want ons was sulke goeie pelle. Romanse het nooit in enige gesprek opgeduik nie. Toe het hy hom netjies langs my tuisgemaak en my gesoen! Natuurlik die einde van ons platoniese vriendskap!”
Hulle is nou byna agt jaar saam. Hoe lyk die romanse deesdae? “Kurt is nog net so romanties en bedagsaam soos altyd. Hy maak steeds vir my die motordeur oop en bederf my met koffie en beskuit in die bed,” sê Dunay, en vat aan die knoets van ’n diamantring aan haar linkerhand.
Hy is 42 en sy 28. Maar dié ouderdomsgaping van 14 jaar pla nie, want hulle is vir mekaar gemaak. “Hy’s ’n omgee-mens en het net ’n natuurlike manier om die beste in ander mense na vore te bring. Dié dat ek pens en pootjies voor hom geswig het!”
Romantiese Kurt het lank gewonder oor die perfekte geskenk vir sy geliefde op hul eerste huweliksherdenking in Januarie. “Ek wou graag vir haar iets besonders doen,” sê hy. Die verrassing? ’n Roos wat spesiaal na haar vernoem is: “My Dunay”. Kurt het ná ’n paar uur saam met die rooskweker Ludwig Taschner op dié welriekende donkerpienk roos besluit. Hulle het deur honderde rose gekyk voor hy sy groot besluit geneem het.
“Dit was só tipies Kurt,” sê Dunay. “Altyd die romantiesste! Die herdenking was werklik iets besonders. Nie elke man sal daaraan dink om so iets te doen nie. Hy is my beste vriend en behandel my ná al die jare steeds soos ’n prinses.”
Dunay pak vele projekte aan om ander te help – mens én dier. As daar nood is, spring sy in.
Sy was onlangs betrokke by die geldinsamelingsprojek vir radio-omroeper Darren Scott se seuntjie, Mark, by wie kanker gediagnoseer is. En by die sesjarige Jayden, ook ’n kankerlyertjie. “Ek het hom ’n paar keer gesien voor hy oorlede is. Een middag het ek vir hom speelgoed en ’n foto van Kurt geneem. Hy het erg pyn gehad, maar het niks gewys nie – net met sy karretjie op die bed gespeel. Vir ’n paar minute kon hy net kind wees. Die innerlike krag wat uit daardie mensie gestraal het … Ek het net weer besef hoe vanselfsprekend ons dinge aanvaar, en dat ’n mens elke oomblik moet lééf.”
Sy is ook druk besig om geld in te samel vir haar 31-jarige vriendin wat ná ’n motorfietsongeluk serebraal gestrem is. “Sy kan niks meer vir haarself doen nie, en weens ’n gebrek aan geld moes sy na ’n tehuis vir Alzheimer- en demensielyers gaan,” sê Dunay.
Dieper selfkennis is vir sommige mense ’n grens wat hulle liefs nie wil oorsteek nie. Maar Dunay is nie bang daarvoor nie. Sy het onlangs in een van haar spelterapieklasse ’n openbaring gekry oor haar dwingende behoefte om ander mense te help. “Ek het in trane uitgebars, want skielik het ek besef waarom ek myself geheel en al sal gee om ander mense se nood te verlig, terwyl ek soms nodig het om net rustig te word,” sê sy.
“Ons moes in dié spesifieke klas ’n aanbieding oor die toepassing van die gestaltteorie in ons eie lewe doen. Net daar het ek besef ek oorlaai myself om ander mense te help. My pa is ernstig siek met emfiseem en ek kan niks vir hom doen nie, maar ek kan iets vir ander mense probeer doen,” sê sy. Emfiseem is ses jaar gelede by haar pa gediagnoseer nadat veertig jaar se rook sy longe onherstelbaar beskadig het. Hy is al vyf jaar lank permanent op suurstof.
“Ek het dit daar vir myself uitgewerk en kon nie help om maar net te huil nie. Vanweë my hulpeloosheid oor hom, werp ek my in by ander mense se lot sodat ek voel ek help iéwers, al kan ek hom nie help nie,” sê sy.
Haar pa is net ’n skaduwee van die man wat hy eens was. Hy weeg skaars 40 kg en dis vir hom uitmergelend om van die voordeur tot by die motor te loop. Dit was vir haar die ergste om te sien hoe haar pa, wat eens ’n direkteurspos beklee het, sy onafhanklikheid verloor het.
“Ons het hom altyd gesmeek om op te hou rook. Vandag is hy spyt,” sê Dunay. “Ek het nog nooit gerook nie, en sal ook nie. Die jammerte is dat soveel mense nie die erns van emfiseem besef nie. Die siekte steel letterlik elke bietjie suurstof tot jy nie meer kan nie. En om iemand wat so na aan jou is só te sien ly … ek wens dit vir niemand toe nie. Maar al dié dinge het my net weer nuwe respek vir die lewe en gesondheid gegee.”
Dis dan ook as huldeblyk aan haar pa dat Jakkals, ’n mak swartrugjakkals, op haar troudag saam met haar in die kerk ingestap het. Dit is haar pa se troetelnaam vir dié enigste kind van hom. Hy kon slegs die laaste paar treetjies tot voor die kansel saam met Dunay stap. Dunay en haar ma het ook ’n baie sterk band. “Ons is meer as net ma en dogter, ons is vriendinne. Ek het ongelooflik baie respek vir haar.”
“Kurt het my uit my dop getrek. Ek was ’n baie gereserveerde mens. Skaam. Ek sou nooit juis met vreemde mense geselsies aanknoop nie. Skielik was ek in ’n mate gedwing om uit te gaan, mense te ontmoet en te gesels! As Kurt by gesellighede eenkant toe geroep word vir foto’s of onderhoude, kan ek nie in ’n hoek staan en tande tel nie.”
Kurt het my uit my dop getrek. Ek was ’n baie gereserveerde mens. Skaam
Aan die begin was dit vir haar vreemd as mense in restaurante of winkelsentrums hulle aanstaar. “Ek was heeltyd bewus van hoe ek eet, kou, drink,” sê sy, en waai met haar hand asof dit nou sommer onbenullig is. “Die aandag aan Kurt pla my gelukkig glad nie. Dit is vir my ’n goeie teken. Die mense stel nog in hom en sy musiek belang, en dis goed vir sy loopbaan. Ek het gelukkig geweet waarvoor ek my inlaat toe ek met hom begin uitgaan het. Dis ’n leefwyse en ’n mens moet daarby aanpas.”
Hul verhouding verval nooit in vervelige roetines nie. “As ons bymekaar is, beplan ons lekker dinge en hou die vlam lewendig.” Kurt se groot lus vir die lewe bly nog vir Dunay een van sy aantreklikste eienskappe. “O, en hy kan so impulsief wees! Hy sal op die nippertjie besluit ons gaan weg. Ek is al ’n gesoute tienminute-taspakker!”
Op ’n keer was hulle Zambië toe om die witwaters in ’n kano aan te pak. “Ek het geweet dis ’n wonderlike ervaring, maar die gedagte aan die kolkende water het my doodsbenoud gehad. Ek was die vorige aand skoon in trane daaroor. Arme Kurt het bly troos dat ek maar op die wal kan bly. Maar ons het dit gedoen! En dit was heerlik en ek was natuurlik ure daarna nog op ’n adrenalien-high!”
Die twee is op die uitkyk na ’n huis met ’n gróót erf en baie bome waar kinders sorgeloos kan speel. ’n Groot gesin is deel van hul toekomsplanne. “Ek is gebore om ’n ma te wees,” sê sy sonder huiwering.
“As kind het ek altyd gesê ek wil ’n kinderarts word. Maar ek het gou genoeg agtergekom ek hou nie van bloed nie, dus het ‘kinderarts’ tot almal se vermaak na ‘mamma’ verander. Omdat ek ’n enkelkind was, het ek besluit ek wil meer as een kind grootmaak. Daar rus ’n baie groter verantwoordelikheid op enkelkinders se skouers. Ek wens soms ek het ’n broer of suster gehad wat net ’n bietjie kon oorneem wanneer dinge te erg gaan met my pa, byvoorbeeld,” sê sy.
As kind het sy sommer in ’n boom geklouter en geweier om af te kom wanneer dinge haar gepla het. Vandag verkies sy perdry én erken met so ’n skelm laggie dat sy dikwels aan spanning ontvlug deur inkopies te doen. “Dit het maar net ’n kalmerende uitwerking!”
Hulle wil nog so ’n bietjie wag voor die kinders kom. “Kurt se loopbaan is nou op sy kruin en hy werk harder as ooit. En ek wil graag my studie klaarmaak en ’n spelterapiepraktyk begin. Elke ding het sy tyd,” sê sy. “Kinders is so weerloos en omdat hulle nie die vaardighede het om te kan sê watter emosies hulle ervaar nie, is speel so ’n natuurlike wyse om hulself uit te druk.”
Sy en Kurt het onlangs die KuDu-stigting (’n samevoeging van die eerste twee letters van hul name) op die been gebring, waardeur hulle geld vir mense in nood wil insamel. Hulle fokus nie op ’n spesifieke projek nie, maar sal die geld na goeddunke skenk. “Ons verstaan dat geen sukses of welvaart vanselfsprekend is nie. Ons weet ook dat ’n mens net vandag het. En jy moet daarmee die beste doen wat jy kan.”