As jy op Karolien se troudag baie oplettend was, sou jou oog dalk met elke tree of drie die parmantige ‘I’ en ‘Do’ op die sole van haar trouskoentjies gevang het. Eintlik moes jy dit nié raakgesien het nie, want die woorde wat sy net voor die seremonie op haar balletskoene se sole geskryf het, was ’n private boodskappie vir haar bruidegom. So is Karolien. Iemand wat op ’n vars manier haar liefde met oorgawe uitdruk en baie gou baie diep in jou hart inkruip. Sy ly ook aan bipolêre depressie. Nie dat dit hierdie vasbyter terughou nie. Sy is ’n opgeleide giminstruktrise, het wyd gewerk in die toerismebedryf en as toergids 27 toeriste op ’n toer tot in Sentraal-Afrika geneem.
Die wêreld is haar werkplek, en toe die liefde tref, was dit geen verrassing dat ’n buitelander haar hart gewen het nie. ’n Verhouding was die natuurlike, volgende stap.
“Ek wou nog altyd ’n ma wees maar het nie eintlik in daardie stadium aan ’n kind gedink nie. Ons was die meeste van die tyd ver van mekaar af, en as ons twee ’n tydjie kon saam wees, was ons so gelukkig en so verlief dat niks anders by ons opgekom het nie. Skielik, ná ’n jaar van mekaar sien wanneer ons kon, was ek swanger. Ja, ek weet jy kan vra wat het ek dan gedink, maar dit was steeds ’n skok.”
Ander paartjies sou kon trou. Maar Karolien was op litium, en ’n baie hoë dosis daarby
Sy het geweet wat dit beteken: te veel risiko vir die baba én vir haar. Dus ’n aborsie.
“Dit was die swaarste ding wat ek in my hele lewe moes doen – verreweg die moeilikste waardeur ek nog is. Al het ek volgens my dokter die regte keuse gemaak, vreet dit my van binne af op.
Daar is ’n leegheid in my wat met net niks vol kom nie.” Behalwe met ’n baba. “Ek weet mense sê vroue met bipolêre depressie moenie ma word nie. Die lang tyd sonder medikasie is net te erg vir die meeste van ons. Maar ek het ook doodeenvoudig geweet ek sál dit op een of ander manier regkry.” Dis toe dat Karolien en haar man – hulle is intussen getroud – begin nalees. En op die een suksesstorie na die ander afgekom het. “Hoe meer ek gelees het, hoe meer het ek besef dit is moontlik. Bipolêre vroue kán gesonde, normale babas in die wêreld bring. Dis moontlik … net nie so maklik vir ons nie.” “Moeilik” het nie vir Karolien of Pete afgeskrik nie. Hy is immers ’n soldaat. En met Pete aan haar sy (“my eie rots”, soos sy hom noem) en vyf jaar se ondervinding waarin sy geleer het presies hoe om haar bipolêre depressie met groot sukses te bestuur het hulle weer probeer. Dié keer op die regte manier.
Eksperte en planne
Nog voor die swangerskap aangepak is, is hulle na haar psigiater en ginekoloog. Die spelreëls vir swangerskap saam met bipolêre depressie is anders as vir ander paartjies, en hulle wou dit deeglik verken. Projek Baba sou getrou hiervolgens aangepak moes word. Die probleem lê by litium. Dis is vir Karolien, soos vir baie ander bipolêre, die medisyne waarop sy baie goed vaar … en kan bekostig. Maar in die jare sewentig het dokters begin oplet dat baie babas van ma’s op litium gebore word met skade aan die hartklep of met Ebstein se afwyking (’n fout op die elektriese puls wat hartklop beheer, wat daartoe kan lei dat die hart by die helfte van lyers opeens permanent stop). Die litiumbabaregister is toe begin om te kyk hoe groot die risiko’s is. Vandag is dit duidelik dat litium veral in die eerste drie maande van swangerskap hartskade kan veroorsaak, met ’n risiko wat van 10 tot 400 keer hoër is as vir babas van ma’s wat nie op litium was nie.
Daarby is litium beslis toksies vir babas, en kan hulle blou wees met geboorte en van diabetes tot tiroïed- en hartprobleme hê. Toevalle met of kort ná die geboorte is ook moontlik, soms so intens dat die baba in ’n koma kan gaan en selfs kan sterf. Maar sonder litium ruk bipolêre depressie gou handuit en kan die ma wipplank van manie na depressie, partykeer so vinnig dat sy binne selfs ure oorslaan van die kenmerkende hiperaktiewe “op” fase waarin sy tipies onbeplande, ondeurdagte dinge kan aanpak tot die depressiewe fase waarin sy maklik so depressief word dat selfmoord ’n werklike risiko is. Klink dit soos ’n catch-22? Sekerlik. Maar vroue met bipolêre depressie hét opsies, sê dr. Ilze Koen, professor in psigiatrie by die Mediese Fakulteit van Stellenbosch.
“Die publiek het die wanpersepsie dat bipolêre vroue swangerskap moet vermy – wat gemoedsteurings heel onnodig stigmatiseer. Daar word selfs geglo dat ’n verhouding ook buite die kwessie is omdat sy dan ook haar maat van kinders ontneem. “Dit is nonsens. Psigiaters stem glad nie saam nie: bipolêre vroue – vroue met enige soort gemoedsteuring – kan beslis gesonde babas hê. Wat ons wel sê, is dat jy verantwoordelik moet lewe en jou swangerskap moet beplan. Ideaal gesproke behoort alle vroue swangerskap te beplan. Bipolêre vroue moet net bykomende reëlings tref.” Elke vrou is anders, en daarom is die riglyn baie eenvoudig: gesels met jou dokter, psigiater én ginekoloog … en doen dit vóór jy begin en nie eers nadat jou swangerskaptoets positief wys nie.
Wagtyd
Dis moontlik, maar soos Karolien dit ervaar, nie noodwendig maklik nie. Haar man is in die Amerikaanse weermag en lang tye van die huis af weg. Sy kan nie in Suid-Afrika by haar ma kom bly nie, want die Amerikaanse weermag gaan nie haar mediese sorg hier betaal nie. Vir haar is hierdie swangerskap te dikwels ’n alleenpaadjie. “Maar my dokters is baie positief en behulpsaam. Ek hou nie van alles wat hulle sê ek moet doen nie, maar dan onthou ek dat ons as span saam aan hierdie swangerskap werk.” Waar ander vroue die wagtyd net kan geniet, is Karolien s’n ’n balanseertoertjie tussen haar, die baba en die medikasie. Sy moes die litium eers stadig los en aanpas by nuwe medikasie met ’n kleiner risiko vir die baba voor sy mag probeer het om swanger te word.
In hierdie tyd is sy deur ’n paar skrikaanjaende “af”-episodes – meestal op haar eentjie. In die eerste helfte van haar swangerskap is sy verskeie kere gehospitaliseer. Sy moes veral in die eerste drie maande haar dokter weekliks, en soms daagliks, spreek sodat die vlak van haar nuwe medikasie fyn gemonitor kan word. Dit het beteken bloed moes getrek word en haar medikasie moes ooreenstemmend aangepas word – wat haar gemoed soms onbeheerbaar laat skommel het, en soms weer simptome soos naarheid, duiseligheid en angstigheid veroorsaak het. Sy het al gedehidreer, word gemonitor vir diabetes, is ontsettend naar en leef elke oomblik met kommer oor haar baba. Omdat sy nou veral sukkel met depressie, moet sy dopgehou word, wat ’n onafhanklike 25-jarige uit die aard van die saak irriteer. Maar deur dit alles breek die opgewondenheid oor haar baba deur, net soos by enige ander ma. “Maar dis nou eers genoeg van die negatiewe! Vir iemand wat niks meer begeer het as om swanger te word nie, kla ek darem nou te baie. Ek kan nie wag tot ek die eerste keer my baba op die sonar sien nie. “Soms is ek ’n klein bietjie bang ek gaan nie ’n goeie ma wees nie maar noudat ek ’n kind gaan hê, weet ek ek sal my gesondheid goed móét bestuur omdat ek baie graag my eie kind mooi en self wil grootmaak. “My man is so gelukkig. Dit is amazing dat ons twee ná al die harde werk ’n gesinnetjie gaan hê. Die Here is baie goed vir ons.”
*Karolien (skuilnaam) is nou twintig weke swanger en verby die grootste swangerskaprisiko’s. Die bevalling wag nog, wanneer die risiko vir die baba weer styg. In die weke ná die geboorte styg haar eie risiko op maniese en depressiewe episodes tydelik weens die groot hormonale skommelings. Borsvoeding is dalk ook uit aangesien die medikasie vir bipolêre depressie in borsmelk aanwesig is, teen omtrent 30% van die konsentrasie in die ma se bloed.