As jy al vir Bibi Slippers ontmoet het, sal jy weet sy is nie ’n skapie wat agter die trop aanloop nie. (Maar sy hou genoeg van skape dat sy nege speelse tatoeëermerke van skape op haar arm het, en sy teken hulle ook graag.) “Aweregs” is ’n woord wat by my opkom wanneer ek aan haar dink. En goudgeel, soos ’n sonneblom. Laasgenoemde het dalk iets te doen met die vrolike geel buiteblad van haar digbundel, of dalk met die rok wat sy na die ATKV Woordveertjie-toekennings gedra het (waar sy haar vierde letterkundeprys vir die jaar ontvang het). Maar waarskynlik alles met die feit dat sy haarself nie te ernstig opneem nie – al is sy baie ernstig oor dinge soos werk en die digkuns.
“Ek sien myself glad nie as ’n openbare figuur nie, en dit was nogal moeilik om aan mense se kommentaar oor my op sosiale media gewoond te raak. Toe delete ek myself op facebook en Twitter,” verklaar sy.
Bibi – sy is Beatrice Barbara gedoop, maar niemand noem haar ooit so nie – is nie net vanjaar se Groot Nuus as dit kom by poësie nie. Lesers sal haar naam herken van LitNet, waar sy inhoudsbestuurder en redakteur van kreatiewe skryfwerk was, en ook as artikelredakteur en joernalis by My Tyd, die Sondagkoerant Rapport se tydskrif van ’n klompie jare gelede.
“Die lekkerste storie wat ek daar gedoen het, was die een oor plattelandse haarkappers,” onthou sy. “Ek het in twee dae my hare drie keer laat knip, en so tussen al die lawwighede het daar ’n pragtige storie uitgekom. Al was van daai haarsnye ook skokkend, het ’n mens byna gered gevoel. Want haarkappers is sielkundiges, biegmoeders, alles.”
Haar joernalistieke vernuf is al twee keer met ATKV Media-veertjies bekroon, en dis werk wat sy geniet. “Ek is mal daaroor om na mense se stories te luister. Dit begeester my.” Een so ’n ervaring, onthou sy, was toe sy ’n klompie jaar gelede by LitNet gevra is om oudregter Albie Sachs na die Richmondse Boekefees te neem. “Die gees in daardie man … Dit het ’n massiewe indruk op my gemaak. Hulle maak nie meer sulke mense nie.”
“Die gees in daardie man … Dit het ’n massiewe indruk op my gemaak. Hulle maak nie meer sulke mense nie.”
Ná ’n kort draai by die tydskrif VISI, verdien Bibi deesdae haar daaglikse brood as inhoudsregisseur van Flits, kykNET se program oor mode, kuns en vermaak. Boekliefhebbers sal haar dalk ook onthou vir haar aweregse Via-boekprogram In die bed met Bibi. Tussendeur skryf sy alles van bemarkingskopie vir Showmax tot artikels en boekresensies.
“Ek vryskut asof my vaste kontrak môre tot ’n einde kom,” bieg sy. Sy het ook die verskillende uitdagings nodig om te keer dat sy verveeld raak. “Maar ja, so nou en dan klink ’n vervelige, rustige lewe nogal lekker!” sê sy laggend. “Ek het buitengewoon hoë energievlakke en moet besig bly.”
Haar hardwerkendheid kry sy by haar familie. “Hulle is almal werkholiste. Ek onthou Kersdae wat ons by my pa se werk by die Universiteit van Zoeloeland deurgebring het. My ouers het van sulke werksdruk altyd groot pret gemaak.”
Maar hoe gebeur dit dat die enigste dogter van ’n maatskaplike werker en ’n akademikus wat in dierevoeding spesialiseer, ’n uiters kreatiewe digter/joernalis/kunstenaar word?
“My pa, Stephen, is nou wel ’n akademikus, maar hy is baie kreatief. My ma, Betsie, is nie net maatskaplike werker nie, maar het ook in ’n stadium ’n klerefabriek gehad en trourokke gemaak. Albei is ook uitstekende storievertellers. Jy moes die lekker lang, snaakse e-posse sien wat hulle vir my geskryf het toe ek oorsee gewerk het.”
Haar broer, ook Stephen, werk in logistiek. Haar ouers is ook groot lesers.
“My pa was nog altyd, en noudat my ma rustiger is en nie meer so hard werk nie, lees sy ook baie.”
Of kom haar kreatiwiteit en woordvernuf dalk van haar verlangse verbintenis aan moederskant met C.J. Langenhoven?
Ná matriek op Empangeni was sy “goed op pad na ’n dramaloopbaan”, ’n feit wat glad nie as ’n verrassing kom nie. Vra maar die gehoor wat by vanjaar se ATKV Mediaveertjies amper geflous is toe ’n opgewonde Bibi op die verhoog hardloop om ’n (fop) Veertjie te gaan ontvang vir ’n produksie wat nie bestaan nie. Dié poets was deel van die aand se amptelike pret, en natuurlik ’n skertsende verwysing na vanjaar se Oscar-glips toe La La Land verkeerdelik as beste rolprent aangekondig is. Sy het van kleins af van kulturele aktiwiteite soos drama en kunswedstryde gehou. “In graad twee was ek ’n vis in die skoolkonsert. Ek het toe al gevoel ek moes eintlik die praatrol gekry het,” sê sy droogweg.
Maar ’n gap-jaar as lid van C-Kruis, ’n musikale bediening, het haar genees van loopbaandrome oor aktrise word.
“Ons het ’n jaar lank rondgetoer, en ek het net besef die leefstyl is glad nie ideaal vir my temperament nie. Ek soek meer vastigheid.” Toe skryf sy in vir ’n B.A. in beeldende kuns by Tuks.
In haar tweede jaar wou sy summier opskop om rolprentkunde te studeer. “Universiteit ‘shows you the size of your mind’,” haal sy die skrywer J.D. Salinger aan. Toe besluit sy maar om toestemming te kry om ekstra vakke by te neem, en in 2007 gradueer sy toe met nie een nie, maar twee BA-grade: een in beeldende kuns en die ander een in tale. Ja, erken sy, dit was “nogal” harde werk. Op universiteit het sy haar eerste proesel joernalistiek gesmaak as vryskut-kunsresensent vir Beeld.
Ná universiteit is sy Australië toe vir ’n vriendin se troue, en een ding het tot ’n ander gelei. So beland sy en haar destydse kêrel toe in Nieu-Seeland, waar Bibi onder meer kopie geskryf het.
Later is sy terug Australië toe. Dis juis daar in Nieu-Seeland waar sy begin gedigte skryf het.
“Ek dink dit het iets te doen met daardie gevoel van buitestaander wees wat ’n mens kry as jy in die buiteland woon, al is jy ook hoe gelukkig. Jy begin onwillekeurig binnetoe kyk. Jy voel steeds ontwortel.”
“Jy begin onwillekeurig binnetoe kyk. Jy voel steeds ontwortel.”
Dis toe dat sy aansoek gedoen het om ’n meestersgraad in kreatiewe skryfkuns aan die Universiteit van Stellenbosch onder leiding van prof. Marlene van Niekerk en dr. Willem Anker te doen. (Sy het tussen haar M-graad deur by LitNet en ook as joernalis gewerk.)
Sy het dit geniet om haar in die akademiese aspek van skryfkunde te verdiep. “Ek is baie leergierig en mal daaroor om heeldag net diep en lekker oor dieselfde ding te kan dink. Ek sal dalk nog eendag my Ph.D. wil doen – ek hou van uitdagings.”
Die skryfdeel van die meestersgraad was vir haar die moeilikste, al het Fotostaatmasjien, die praktiese resultaat daarvan, vanjaar behoorlik die Afrikaanse poësiewêreld oorrompel. (Dit is vanjaar al bekroon met die Eugène Marais-prys, die UJ-debuut-prys, die Elisabeth Eybers-prys en ’n ATKV Woordveertjie as beste digbundel, en was ook op die kortlys vir die Ingrid Jonker-prys vir poësie.)
Die titel kom van haar liefde vir fotostaatmasjiene (haar gunstelingwoord is “Xerox”.) “Ek hou regtig baie van fotostaatmasjiene. Ek het op universiteit derduisende rande se fotostate gemaak, en ook ander mense se weggooi-fotostate uit asdromme gevis en versamel. Ek het steeds bokse en bokse vol beeldskone fotostate – die gradiënte van wit na grys na swart is mooi; die teksture wat die masjien voortbring. Iets aan die estetika van fotostaatmasjiene spreek eenvoudig kliphard tot my.”
Die digbundel was vir seker die moeilikste ding wat sy in haar lewe aangepak het. “Ek het altesaam sewe jaar daaraan gewerk, en was einde 2014 al gereed om dit in te gee.” Sy lag toe sy vertel hóé kwaad sy was toe prof. Van Niekerk vir haar sê dat dit nog nie reg was nie. “Dit het seker maar eintlik oor my brose ego gegaan. Ek het toe mos al gedink ek kán skryf.” ’n Jaar later, in 2015, het sy uiteindelik haar meestersgraad in kreatiewe skryfkunde behaal.
Vandag is sy dankbaar dat sy binne die veilige ruimte van prof. Van Niekerk se meestersklas aan die bundel kon bly slyp, en nog ’n jaar saam met haar uitgewer Tertius Kapp daaraan kon “torring”. Want as ’n bundel eers daar buite is, in die openbare oog, kan jy niks meer doen aan verdoemende kritiek nie.
Wat het die skryf van Fotostaatmasjien haar geleer?
“Om aan so ’n skynbaar ’nuttelose’ ding soos ’n digbundel te bly werk oor so ’n lang tydperk, het my beslis ’n ander perspektief op tyd gegee. En as ek deesdae wil tou opgooi met iets, herinner ek my daaraan dat ek ’n meestersgraad kon klaarmaak en dat ek beslis nog kan uithou.”
Wag daar iewers in haar toekoms nog ’n digbundel?
“Nie gou nie. Maar ek gaan beslis nie ophou dig nie. Ek sal ook graag iets heeltemal anders wil skryf. Dalk kortverhale wat saam een storie maak. ’n Storie het ’n interne momentum wat ’n digbundel nie het nie.”
Sy sal in elk geval maar sien wat die tyd oplewer, want Bibi glo ook daaraan om haarself elke kort-kort te vernuwe. “My kort-kort is so drie jaar. Dis omtrent hoe lank my aandagspan is.”
Ons gesels oor In die bed met Bibi. Waar het die idee vandaan gekom om ’n TV-onderhoud te doen waar die gas en die aanbieder albei in die bed oor boeke sit en gesels?
“Die konsep was myne. Ek het gedink as jy iemand uit sy gemaksone dwing, kan jy ’n lekker ander soort onderhoud doen.”
En haar lekkerste opname vir die program? “Beslis die een met tannie Schalkie van Wyk en haar Yorkie. Sy’t meer energie as ek gehad! Sy het in ’n stadium selfs push ups gedoen,” lag Bibi. “Ons vibreer op dieselfde golflengte.”
Bibi woon sedert 2014 in Johannesburg in die voorstad Linden. Sy is mal oor die stad van Goud, maar erken dat sy met ’n swaar hart hierheen getrek het.
“Ek het baie van my lewe in die Kaap gehou. Ek mis dit nou nog om in die see te swem en fiets te ry werk toe, maar ek sorg dat ek minstens twee maal per maand Kaap toe gaan.”
Het sy ’n kêrel in die Kaap? Sy bloos bloedrooi voor sy vaag antwoord: “Daar is iemand.”
Lees is haar lekkerste tydverdryf. “Ek fliek ’n paar keer per jaar, maar besit nie eens ’n televisie nie – wat seker taamlik vreemd is as jy dink ek werk in die TV-bedryf. Wanneer ek kan, lees ek – en daar is nog stapels ongeleesde boeke op my rak. Ek het nou al vrede gemaak daarmee dat ek eenvoudig nie by alles gaan uitkom nie.”