Ek het nog altyd ’n sagte plekkie vir die underdog gehad en gedink dat ek reg en geregtigheid kan laat seëvier deur ’n prokureur te word,” vertel Bettina Wyngaard, Kaapse regsgeleerde en skrywer.
Sy het op Grabouw in die Wes-Kaap grootgeword en deesdae woon sy weer daar.
“Ná my studie aan die Universiteit Stellenbosch het ek lank in Grahamstad en daarna in Kaapstad gewerk. Ek het die stedelike gejaag en onpersoonlike manier waarmee mense mekaar behandel – soos ek dit veral in Kaapstad ervaar het – verfoei. Ek het byvoorbeeld ’n jaar in Kaapstad in ’n woonstelblok gebly en my bure nooit met ’n oog gesien nie. Tuinmaak in potte werk ook nie regtig vir my nie.”
Deesdae is sy ’n regskonsultant wat kerke, nie-regeringsorganisasies en ander instellings adviseer. “My maatskappy se naam is Colui Consultants. ‘Colui’ is Latyn vir die voorbereiding en omdolwe van grond sodat dit bemes en beplant kan word.”
Ons gesels oor haar skryfwerk. Wou sy altyd skryf?
“Ek het op laerskool al geskryf, en in graad agt het een van my opstelle in die skoolkoerantjie verskyn. Iemand het twee jaar gelede een van daardie koerantjies vir my gegee en nou skaam ek my dood vir die kinderlike eenvoud daarvan! My enigste verskoning daarvoor is dat ek net twaalf was!”
Sy het besluit om haar hand aan ’n roman te waag omdat daar geen karakters in Afrikaanse skryfwerk was met wie sy haar kon vereenselwig nie.
“Ek het in ’n stadium heeltemal opgehou om Afrikaans te lees en het Engelse werke begin lees van wonderlike skrywers soos Maya Angelou, Alice Walker, Toni Morrison en ander met wie se karakters ek my kon vereenselwig. In Afrikaans was daar net EKM Dido. Ek wou iets lees wat nader aan my werklikheid kom en ek het besef dat ék dit waarskynlik sal moet skryf. Ek wou lees en skryf vir en oor die mense om my.”
Toe skryf sy Troos vir die Gebrokenes (Umuzi, 2009), ’n boek oor ’n verskeidenheid maatskaplike kwessies wat die verhaal vertel van drie geslagte vroue in die bruin gemeenskap van Pineview, Grabouw – hul lief en leed en hul verhouding met mekaar. Maar die boek het ook ’n universele boodskap, en een resensent het tereg gesê dat die verhaal hom in enige plek in die wêreld waar omstandighede swaarkry-mense bymekaar gooi, sou kon afspeel.
“Die uitdaging was om bruin karakters te skep wat drie-dimensioneel is en wat oor die hele spektrum van ras, geslag en dies meer met lesers kan praat”
Dit was vir haar ’n reuse-verrassing toe die boek met die Jan Rabie/Rapport-debuutprys bekroon is.
“Ek het glad nie die oorweldigende, positiewe reaksie verwag nie.”
Sy het boonop die eerste keer daarvan gehoor toe sy in die koerant lees dat die boek op die kortlys vir die kompetisie was. Met haar tweede en derde boeke het sy heeltemal van skryfrigting verander. In Vuilspel en Slaafs leer ken die leser die polisievrou Nicci de Wee, ’n gay, bruin vrouespeurder op die Kaapse Vlakte.
“Dis nogal intimiderend om vir jou heel eerste skryfpoging ’n prys te wen – ek het druk gevoel om nie ’n one hit wonder te wees of dieselfde resep tot vervelens toe te herhaal nie,” erken sy.
“Ek wou emosionele afstand kry tussen Troos en wat ook al daarna kom, en ’n genre-verandering het sin gemaak. Boonop het korrektiewe verkragting, die onderwerp van Vuilspel, gesmeek om as speurroman vertel te word.”
Daar was by haar geen twyfel dat haar hoofkarakter ’n bruin vrou sou wees nie.
“Maar ek wou ook ’n stem gee aan ’n stemlose groep, en dit het sin gemaak dat een van die karakters wat enduit in die roman bly lewe, gay sou wees”
Ná ’n bietjie wik en weeg, het sy besluit dit kan netsowel die hoofkarakter wees. “Ek was bewus daarvan dat dit nog nie in Afrikaanse fiksie gedoen is nie. Inteendeel, ek dink nie daar is ’n gay vrouespeurder in Engelse fiksie nie!” Sy het besef sy loop ’n risiko deur af te wyk van wat lesers as die bekende ervaar, maar sê sy het die volste vertroue gehad dat lesers hulle met Nicci sou kon vereenselwig, ongeag haar seksualiteit.
Bettina skryf graag oor genderkwessies
“Dit interesseer my, en ons leef in ’n wêreld waarin vroue daagliks te kampe het met soveel struikelblokke en gevare bloot omdat hulle vroue is. Ons is al so gewoond daaraan om onveilig te voel en op high alert te wees dat ons nie besef hoe abnormaal dit eintlik is nie.”
Sy skroom nie om sterk temas te takel nie. Slaafs, haar jongste roman, handel oor die ontstellende werklikheid van mensehandel. “Ek skryf gewoonlik oor iets wat my nuuskierigheid prikkel of my so ontstel dat ek eenvoudig meer daarvan moet weet. In Troos het ek geskryf oor gesinsgeweld nadat ek in my regswerk met heelparty gevalle te make gekry het.”
Bettina glo dis noodsaaklik om deeglike navorsing te doen voor jy skryf – sy het byvoorbeeld op Grabouw grootgeword en was nog nooit voorheen in ’n appel-fabriek nie. “Ek het ’n fabriek besoek en met van die werkers gesels om ’n gevoel van hul daaglikse werklikheid te kry.”
In Vuilspel takel sy die ontstellende onderwerp van korrektiewe verkragting – die daaglikse vrees van gay swart vroue in veral townships. Gay-wees word dikwels in swart gemeenskappe gesien as iets wat deur seks met ’n man “genees” kan word – groepe vigilantes beskou dit as hul verantwoordelikheid om gay vroue te verkrag. In baie gevalle word die vrou ook vermoor. Bettina het besluit om daaroor te skryf toe sy kort ná mekaar ’n Carte Blanche-insetsel, asook ’n nie-regeringsorganisasie se verslag daaroor gesien het. Die verskynsel het haar diep geskok.
“Ek het vantevore nog nooit eens daarvan gehoor nie maar toe ek begin navraag doen, kom ek agter dat dit ’n vrees en ’n realiteit is waarmee townshipvroue met ’n alternatiewe seksuele identiteit daagliks saamlewe. Ons wat buite townships leef, weet nie daarvan nie.”
Sy het deur middel van ’n organisasie wat met gay vroue in townships werk, onderhoude gevoer met vroue wat verkrag is, met verkragting gedreig is, of in vrees vir hul veiligheid lewe. “Danksy die bemiddeling van ’n organisasie wat gay predikante se regte wil beskerm, het ek ook met gay predikante in hoofstroomkerke kontak gemaak. Hulle wil ook seksualiteit op die besprekingsagenda plaas. Die idee om Nicci se partner ’n priester te maak, het ná hierdie onderhoude ontstaan. Die bom rondom seksualiteit in die kerk het op dieselfde tyd gebars toe ’n gay biskop in ’n Anglikaanse kerk in Amerika ingeseën is.”
Vir Slaafs was die 2010 Wêreldbekersokkertoernooi die prikkel vir Bettina se boek. “’n Aantal organisasies het kragte saamgesnoer om ons vroue en kinders te beskerm en bewusmakingsveldtogte oor mensehandel gevoer. Ek het daaroor begin nalees en artikels oor die verskynsel vir die plaaslike gemeenskapskoerant geskryf – ek het veiligheidsmaatreëls ook ingesluit sodat mense hulle teen mensehandel kan beskerm. Ek kon nie met die slagoffers praat nie, maar kon wel gesels met die aktiviste en mense wat met slagoffers werk.”
Sy voel baie sterk oor die werklikhede van mensehandel. “Ongelukkig skep die huidige vlugtelingkrisis wat ISIS in Turkye en Sirië veroorsaak, die ideale omstandighede vir mensehandel. Enige plek waar daar onrus is, soos oorloggeteisterde lande, of lande in ’n swak ekonomiese toestand, is ’n sagte teiken. Mense word na ’n ander land gelok met beloftes van ’n beter lewe. In Italië, waar daar gespesialiseerde organisasies werk om mensehandel te bekamp, reken hulle dat daar maandeliks sowat drieduisend mense die land onwettig binnekom, baie van hulle die slagoffers van mensehandel. In Amerika is dit so ’n groot probleem dat daar sedert Februarie vanjaar ’n program is om lugwaardinne op kommersiële vlugte op te lei om op die uitkyk na moontlike slagoffers te wees.”
Die syfers laat ’n mens se hare rys.
“Daar is jaarliks minstens 800 000 slagoffers wêreldwyd en 34% hiervan is kinders. Kinders tussen agt en twaalf is die grootste risikogroep”
En dis nie net vroue wat teikens is nie. “Mans en kinders word ook verkoop. Mense word verkoop om as arbeiders of seksslawe te werk, vir gedwonge huwelike, of sodat hulle organe verwyder en verkoop kan word. Sommige slagoffers word selfs vermoor sodat hul liggaamsdele as moetie verkoop kan word. ”
Bettina werk tans aan twee nuwe romans. “Die een is nog ’n speurverhaal met Nicci en Kie, en die ander ’n roman wat die wel en wee van ’n familie oor ’n tydperk van vyftig jaar uitbeeld.”
Wanneer sy nie werk of skryf nie, stap sy graag met haar Jack Russel, Angel, of sy werskaf in die tuin. ’n Nuwe passie is inkleur. “Vandat ek inkleurboeke vir volwassenes ontdek het, kan ek ure lank inkleur. Ek het selfs voorlopig my paintball gun opgehang,” skerts sy. “Ek geniet dit ook om te kook en foto’s te neem, hoewel ek nie met een van twee besonder goed is nie.”
Lees meer oor mensehandel en die voorkoming daarvan by www.humantraffickingfoundation.org