Deur Suzanne Kotzé. Hooffoto: Pexels
Deesdae word ’n groot ophef van slaap gemaak en hoe noodsaaklik dit is om genoeg te slaap. Volgens slaapkundige dr. Dale Rae het die ontdekking van die gloeilamp ons sirkadiese ritme deurmekaargegooi omdat daar nie meer natuurlike lig en donker is nie.
’n Groot deel van daglig bestaan uit blou ligstrale, en energiebesparende LED-liggies en elektroniese apparate soos skootrekenaars en slimfone straal ook ’n groot hoeveelheid blou lig uit.
Wanneer ons aan blou lig blootgestel word, skei ons liggame nie serotonien af wat ons help slaap nie.
Vir jou vel om te herstel het dit genoegsame slaap nodig (nie minder as ses uur nie, maar ook nie meer as 12 uur nie). Terwyl jy slaap, maak jou vel nuwe selle en die menslike groeihormoon word afgeskei (baie kenners bestempel dié hormoon as die “fontein van jeugdigheid”). Die menslike groeihormoon (human growth hormone) herstel en vernuwe alle weefsel, ook jou vel, terwyl jy slaap. As jy nie genoeg slaap nie, onderbreek jy die afskeiding van die hormoon. As jou sirkadiese ritme versteur word, lei dit ook tot oksidatiewe spanning wat veroudering aanhelp.

Foto: Polina Kovaleva, Pexels
Wat kan jy doen om beter te slaap?
- Vermy koffie en alkohol saans.
- Vervang blou gloeilampe, veral in jou slaapkamer, deur geel gloeilampe.
- Keer straatligte wat in jou kamer inskyn met gordyne of blindings.
- Slimfone bevat ook ‘n “blue light filter” waar jy jou foon se liggie heeltemal na ‘n warmer kleur kan stel.
- Belê in goeie beddegoed.
- Hou jou kamer aan die kant en rustig sodat klere wat rondlê en ‘n chaos jou nie laat dink aan wat jy eintlik nog moet doen voordat jy gaan slaap nie.
- As jy geneig is om te jeuk, smeer ‘n strelende lyfroom (sonder bestanddele soos parfuum en alkohol) aan voordat jy gaan slaap.
- Hou die temperatuur in jou kamer gemaklik (nie te koud of te warm nie).
Sommige dermatoloë meen blou lig-radiasie kan ook tot pigmentasie en aknee lei.
Die oplossing? Gebruik produkte wat anti-oksidante bevat om jou te beskerm.
Lees ook: Wat jy kan doen wanneer bekommernis oor werk jou wakker hou
