Akteur, skrywer, regisseur, komediant, kortfliekmentor en deesdae ook vervaardiger – dis Bennie Fourie in ’n neutedop. Bennie en Bouwer Bosch se kortfliek Vuil Wasgoed is in 2014 vir ’n SAFTA benoem en by daardie jaar se Silwerskermfees as beste kortfliek bekroon. ’n Deel van die Silwerskermprys was kontant om die fliek in ’n vollengte rolprent te ontwikkel, wat op 8 Desember in rolprentteaters landswyd begin draai. Bennie is ook die skrywer van die gewilde kykNET-reekse Hotel en Sterlopers, en hy het een van die hoofrolle vertolk in die lokettreffer Vir die Voëls. Maar wat laat hom tiek?
Lees ook: Tim Theron gesels oor Vuil Wasgoed
Lees ook meer oor Silwerskermfees 2017: Die wenners
Vertel ’n bietjie meer van jou kleintyd en grootwordjare
Ek is in Pretoria gebore en het op ’n kleinhoewe op Kameeldrift net buite Pretoria grootgeword. My pa is ’n dominee en my ma was ’n Afrikaansonderwyser maar werk nou voltyds vir die kerk. My ouers bly steeds in die huis waar ek grootgeword het. Ons is ’n baie hegte gesin. Ek het twee ouer broers en ’n jonger suster, en ons het nog ’n sussie gehad wat oorlede is toe sy twee was. Ons vier verskil almal met twee jaar, en is beste vriende. My twee broers was twee jaar saam met my in dieselfde koshuis op die PUK, en ons vier toer gereeld Suidelike Afrika plat.
Watter soort kind was jy?
As jy in ’n pastorie grootword, is daar nie tyd vir stil en skaam wees nie. Daar is heeltyd besoekers wat gegroet moet word en koffie moet kry. Ek het nog altyd daarvan gehou om mense te laat lag en my ma het my gereeld gevra om by van die gesellighede impersonations te doen. Op skool was ek so bietjie van ’n goody two shoes. Ek sou nie sê ek het gatgekruip nie – kom ons sê maar ek was oorgemanierd (lag). Ek was hoofseun op laer- en hoërskool en junior burgemeester van Pretoria – dit sê seker duidelik genoeg ek was ’n “pliggie”. Maar ek was darem nie te soet nie – eerder soet-stout. Ek dink ek het myself eers werklik op universiteit leer ken toe ek myself uitgedaag het om te ondersoek wat ék regtig wil doen en nie wat ek dink mense van my verwag nie.
Wat het eerste gekom: akteur wees, of flieks maak? En wanneer het jy geweet jy wil akteur wees?
Ek het regte geswot op Potch en per toeval die passie ontdek. Ek het daarvan gehou om mense te vermaak, maar wou dit nie vir ’n bestaan doen nie. Ek wou eerder ’n vaste werk hê. Maar toe kom ek in ’n koshuis wat nie sterk was op kultuurgebied nie, en skielik moet ek en ’n vriend baie vinnig leer skryf vir die koshuistoneel en eerstejaarkonsert. Dis ook waar ek vir Stiaan Smith ontmoet het wat Hotel saam met my geskryf het – hy het vir ’n ander koshuis geskryf. Toe word ek deel van ’n improvisasie-komediegroep, Lagnes, saam met onder andere Tim Theron (Mooirivier, Klein-Karoo, Jagveld). My groot passie vir toneelspeel en kreatief wees, het daar begin. Ek is gek na improvisasie, en het toe besef ek moet ’n skuif maak.
Het jy toe klaar studeer?
Ja. Ek het ’n B.Com.- regsgraad verwerf, en nagraadse diplomas in besigheidbestuur en onderwys.
Waar het die idee vir Hotel vandaan gekom?
Ek was nog altyd ’n groot aanhanger van die mockumentary genre. Toe ek die geleentheid kry om ’n idee vir ’n reeks aan kykNET voor te lê, het ek geweet dis wat ek wil probeer. Daarna het ek gedink aan ’n plek waar ’n verskeidenheid mense met verskillende posbeskrywings noodgedwonge moet saamwerk, en besef ’n hotel leen hom tot lekker absurde situasies.
Som jou in een sin op
Ek is passievol oor wat ek doen en vasbeslote om gehaltewerk te lewer terwyl ek terselfdertyd soveel pret het dat dit lyk of ek nie werk nie.
Wat is jou idee van perfekte geluk?
Om jou eie tyd te kan bestuur en dit so te kan doen dat jy die meeste van daardie tyd kan deurbring saam met mense vir wie jy lief is. ’n Mens lewe te kort om nie te doen waarvan jy regtig hou nie.
Wat is die karaktertrek waarvan jy die minste hou in jouself?
My nederigheid (skertsend). Maar ernstig: ek is regtig hard op myself – wat soms goed kan wees, want dit dwing jou om harder te werk om iets reg te kry. Terselfdertyd steel dit ook die geluk wat jy kan ervaar as jy bloot geniet wat jy doen.
Watter frases of woorde gebruik jy te veel?
Uhm…. Die woordjie “uhm”. En my ma sê ek vat te veel aan my gesig as ek praat.
Watter talent sou jy die graagste wou hê?
Musiek! Ek sou graag wou klavier speel. My pa is verskriklik musikaal – hy speel iets soos elf instrumente.
As jy een ding aan jouself kan verander, wat sal dit wees?
Nee wat, ek speel die kaarte wat uitgedeel is. Ek dink ’n mens kan kies om daagliks te verander en algaande meer te verander in dit wat jy wil wees. Ek kan dalk soms ook so ’n bietjie sinies wees – maar ek werk daaraan (lag).
Wat beskou jy as jou grootste prestasie?
Dis nie my prestasie nie – eintlik seker meer my ouers se prestasie – maar ek is baie dankbaar en trots op die verhouding wat daar tussen my en my boeties en sussie (en die toegevoegde aanhangsels) is. As dit by werk kom, is Vuil Wasgoed die kortfliek ’n groot trots. En ek is ook baie trots op Hotel.
Wat is jou kosbaarste besitting?
My pa se familiering. Ek dra hom nie, maar ek is ’n baie trotse vierde generasie Barend Christiaan Greyling. My ouers het ook vir my ’n ou Halda-tikmasjien ná die eerste reeks van Hotel gekoop. Ek tik gereeld op hom net om in die regte bui te kom.
Watter van jou karaktertrekke is volgens jou die opvallendste?
Ek dink ek het die vermoë om mense te laat glimlag. Ek haat ’n somber stemming en glo ek laat mense se ligte kant na vore kom.
Wat weet mense nie van jou nie?
Ek is nogal ’n nutsman. Ek bly in ’n woonstelkompleks in dieselfde gang as Mila Guy, Simoné Nortmann, Melissa Willering en Ansu Visser, en ek is gereeld besig om vir hulle rakke op te sit, gate te boor en enigiets wat breek, reg te maak. Ek is baie lief vir houtwerk en maak meubels uit hout en koper. En ek is gek na avontuur! O ja, en ek het byna twee jaar lank vir kleuters in Korea skoolgehou.
Lees ook: Die nuwe glanspaartjie: Ansu Visser & Edwin van der Walt
Is jy nog enkellopend? Watter eienskappe is vir jou belangrik in ’n vrou?
Ja, ek is nog. My nommer is 084… (lag) Maar ek is rustig daaroor. Ek sou graag wou voel ek en my vrou is ’n span – dit sal lekker wees om op ’n manier saam met my vrou te kan skep en saam nader aan die Here te groei. En om vrek baie pret saam met haar te hê. Het ek nou te veel goed genoem? (lag)
Die man agter (en voor) die kamera
Bennie is baie opgewonde oor Vuil Wasgoed. Die vollengte rolprent is bekroon met vyf toekennings by vanjaar se Silwerskermfees, en is ook gekies vir die Portland- rolprentfees in Amerika. Bennie was medevervaardiger en draaiboekskrywer én speel in die fliek.
“Dis die verhaal van twee vriende, Wim en Kevin, wat ’n eenvoudige wassery besit. Bedags is hul werk saai, maar snags ‘leen’ hulle hul kliënte se klere vir middernagtelike partytjies,” vertel Bennie. Maar hul lewe word in ’n oogwink omvergegooi toe hulle op een so ’n partytjie die afgekapte vinger van ’n berugte bendebaas in ’n baadjie ontdek, met skreeusnaakse gevolge.
Bennie skryf sy sin vir humor en sy liefde vir komedie aan sy pa toe. “Hy is die man met die meeste grappies wat ek ken, hy is allesbehalwe ’n suurknol-dominee.” As skrywer put hy sy kreatiewe inspirasie uit sy instink vir komedie meer as iets anders. “Ek omring my ook met ’n gedugte skryfspan – mense wat nie net goed skryf nie, maar wat vir my ook komies is, en saam skaaf ons aan die teks.”
Wanneer hy wel lees, geniet hy komiese fantasie uit die pen van Terry Pratchett en Douglas Adams. “Ek lees ook graag C.S. Lewis en Timothy Keller, en ek dink Francine Rivers se Redeeming Love is ’n boek wat elke man moet lees.”
Tussen al die bedrywighede deur werk Bennie ook kliphard aan sy volgende groot droom: befondsing vir opleiding by Second City in Chicago, wat beskryf word as die wêreld se voorste komedieklub, komedieteater en skool vir improvisasie.