Dit tref ’n Kaapse veearts, vang ’n pediater se seuntjie in die moederskamer op ’n Sondag en versprei met tye soos ’n veldbrand onder die kleintjies in crèche. ’n Hele paar Kaapse kinders is gediagnoseer met wat die ouers in die omgang “bek-en-klou-seer” noem, soos klein Marno Barnard.
Marno was siekerig, vertel Murrie, sy ma. “Ons gesinnetjie hou van ons kos, en toe hy nie wou eet nie het ek geweet iets is fout. Later die aand het hy gekla sy mond is seer. Toe ek kyk, sien ek seertjies op sy tong. Ons is na ’n vriendin wat ’n verpleegsuster is, wat heel eerste na sy hande en voete gekyk het en my die seertjies uitgewys het.
“’n Mens wonder hoe op aarde jy as ma sulke seertjies miskyk, maar dit sit diep in die vel en is aan die begin nie opvallend nie. En blykbaar kan jy net mooi niks daaraan doen nie. Dit moet maar net vanself oorgaan.”
Al noem ons dit “bek-en-klouseer” is dit nié dieselfde siekte as by diere nie, sê pediater Etienne Bruwer. “Hand-voet-en-mond-siekte (HVM-siekte) word by mense deur die Coxsackie- en Entero-virusse veroorsaak, en by diere deur ’n heeltemal onverwante virus, Aphtae epizooticae.
“Mense kan ook nie bek-en-klouseer van diere aansteek nie. Maar ons eie variasie is ook hoogs aansteeklik, veral waar groepe kleintjies bymekaar is soos in ’n crèche en by dagmoeders.
“Dit is skaars onder volwassenes maar hulle kry dit vir seker. Ek is bewus van ’n veearts wat HVM-seertjies in sy mond gekry het.”
Wat jy moet weet
Het maatjies dit? Dit word veral deur direkte kontak en speeksel versprei, soos wanneer kleintjies speelgoed deel … of fopspene en soentjies. Daar is geen vaksien daarteen nie. Hou maar jou kind weg van siek maatjies, en as hy in kontak was, hou hom dop vir tekens daarvan.
So lyk dit Dit begin met ’n ligte koors, seer keel en olikheid – baie soos ’n doodgewone verkoue. Ná een tot twee dae sal jy die eerste rooi en pynlike seertjies in sy mond sien, dikwels op die tong en meestal agtertoe. Dan volg die veluitslag op sy handpalms en voetsole en soms op sy boudjies. Die seertjies lê diep in die vel en gaan nie stukkend soos waterpokkieblasies nie. Nog ’n verskil: waterpokkies kom oor die hele lyf voor. Kinders is gewoonlik binne ’n week gesond. Kinders kan ’n paar weke later ’n nael of twee verloor. Dit groei vanself terug.
Probleme Die siekte neem sy eie loop, maar hou dop vir die volgende:
*Die mondseertjies is die moeilikste omdat kinders weens die pyn en ongemak ophou eet en drink, wat tot dehidrasie kan lei, waarvoor hulle soms gehospitaliseer moet word.
*Party outjies ontwikkel gingivitis, of pynlike ontsteking van die tandvleis. Hier en daar ontwikkel ’n outjie ensefalitis (breinontsteking), wat baie ernstig is. Neem jou kind dadelik dokter toe as sy nek styf trek en hy baie koorsig raak.
Maak so
Hou hom tuis en weg van ander kinders. Dit is nie nodig om hom tuis te isoleer nie maar werk soos met iemand met griep en beperk jul lyfkontak. Moenie nou soen en druk nie. En moenie dat jou ander kinders sy beker, eetgerei en speelgoed deel nie.
Was jou hande elke keer ná jy met hom gewerk het, soos as jy hom gevoer het en veral ná jy sy doek geruil het, aangesien die virusse ook in feses voorkom.
Hy kan eet en drink net wat hy wil maar sal waarskynlik min eetlus hê. Maak veral seker hy kry genoeg water, melk, drinkjogurt of vrugtesap sodat hy nie ontwater nie.
Gee hom ’n nie-aspirien pynpilletjie. Vra by die apteek of by jou tandarts vir ’n verdowende mondsalfie of –spuitmiddel.
Ontsmet en was al sy klere, beddegoed, gebruiksitems en eetgerei afsonderlik. Vee oppervlakke waarmee hy in kontak was met ’n ontsmetmiddel af.