Die nuwe televisiereeks, Divorce, is SJP se jongste projek wat haar nie net voor die kamera plaas nie, maar ook agter-die-skerms as Uitvoerende Vervaardiger.
Parker speel die rol van Frances, ’n vrou wat begin om haar lewe en huwelik met manlief Robert (vertolk deur Oscar-benoemde Thomas Haden Church) te heroorweeg. Dit word egter gou duidelik dat dit nie so maklik is om ’n huwelik te ontknoop nie en die kyker word van die intreeslag af saam met Frances geneem terwyl sy dié nimmereindigende proses begin.
Kykers kan uitsien na ’n sterbelaaide rolverdeling met akteurs soos Molly Shannon (Enlightened), Talia Balsam (Mad Men), Tracy Letts (Homeland), Sterling Jerins (World War Z) en Charlie Kilgore (Moonrise Kingdom).
Met sy unieke benadering tot egskeiding en die effek wat dit op die alledaagse vrou het, beloof Divorce om ’n wenner van ’n reeks te wees!
*Divorce begin op Dinsdag, 11 Oktober op M-Net Edge (kanaal 102) met ’n Express from the US-uitsending om 01:00, met ’n latere uitsending op Vrydag, 14 Oktober om 21:00.