Ek’s uitgeboul. Onkant betrap. Stomgeslaan. Stilgeskok.
Dis skuins voor elf op ’n Koue Bokkeveld-oggend. In die skoolsaal, een van dié wat skielik opstaan uit die stof langs die grootpad, sit Matrieks, bont gepantser met musse, serpe en handskoene. Terwyl menige ander Matriekkind vakansie hou is dié lotjie reg vir Winterskool. ’n Hekkie om te oor voor die wêreld wag. Jy kan skaars ’n speld hoor val. Honger. Honger vir leer is hulle.
Ek’s daar saam met die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) om te praat oor hoe jy na Matriek jou geldsake moet bestuur. Wat is ’n begroting? Goeie skuld? Slegte skuld? En: wat is die verskil tussen behoeftes (dit wat jy moet hê om finansieel te oorleef) en begeertes (dit waaroor jy droom, maar wat jy nie noodwendig kan bekostig nie).
Die groot groep jonges met die musse, serpe en handskoene maak lysies. Skryf netjies (geen rekenaar, tablet of foon in sig nie), vingers styf van die koue. Behoeftes: kos, water, huis, ’n kombers of twee. Begeertes (dié lysie heelwat langer as die ander): lugtyd, selfoon, klere, ’n huis vir my ma, ’n woonstel vir my, ’n kar, nog klere . . .
Die ry dogters sit langs mekaar. Hul hou toe, kyk skuldig op. Wys dan tog. Behoeftes: kos, water, huis, ’n kombers of twee. Begeertes: lugtyd, selfoon, klere, ’n huis . . . ’n wit man.
Uitgeboul. Onkant betrap. Stomgeslaan. Stilgeskok. Ek hou my pose. “En dié?” “Hy gee jou alles. Dan’s behoeftes en begeertes gecover,” sê sy. Hulle knik. Ek stap aan.
Behoeftes. Begeertes.
Verder af bekyk ek die seuns se lysies: Behoeftes: kos, water, huis, ’n kombers of twee. Begeertes: lugtyd, selfoon, klere, ’n huis . . . seks. Ek swyg. Stap aan.
So is dit dan, dink ek later. Grootword. Die dinge wat ons vorm. Dis nie maklik nie. Jy moet weet wat, hoe, waar om te soek, vir wie om te luister. En nie te luister nie.
Elke jaar dié tyd vat twintigstuks jong mense van die Universiteit van Stellenbosch die pad om geld in te samel vir die evangelisasiewerk wat Bybelkor in Suid-Afrikaanse gevangenisse doen. Soos baie ander uitreikaksies wat dié tyd van die jaar deur universiteite en kolleges landwyd aangepak word, is daar ’n doel. Atlete se mikpunt: R40 000.
Iewers in die vroeë negentigs was ek ook ’n Atleet en het ons die land elke Julie vir drie weke van Beitbrug tot in Stellenbosch deurkruis, die 1975-droom van stigters Fanie Richter en Norman Burger waar gemaak. Vanjaar se Atlete doen dit weer en ons oues toer saam via WhatsApp en Facebook.
En die punt is? Ek hoor hoe my broers die kloutjie en die oortjie by mekaar probeer bring.
Ek vat die pad terug Kaap toe, huis toe na my besoek aan die skool in die stof. Daar waar die kinders doodstil sit, aandagtig luister, eerlik praat, soms te eerlik. Hul behoeftes en begeertes deel.
Sê weer hardop: kyk op, doen, doen meer. Ons is nie gemaak om die wêreld alleen te pak nie. Iemand moet die guts hê om te sê ’n wit man en seks gaan nie jou behoeftes en begeertes aanspreek nie. Iemand moet Bybelkor help om hul geld te kry. Iemand moet help om behoeftes en begeertes te rig. Iemand moet.
Dalk ek? Dalk jy?
Tot volgende week,
Marí
www.incontext.co.za