Begeertes, lyk dit my, het ‘n slegte naam. Ek vermoed die verhaal van Eva se vergryp aan die verbode vrug het “begeertes” en “versoekings” in dieselfde kategorie laat beland – die afdeling onder die hofie “sondeval”.
Dekades lank het ek my begeertes met agterdog betrag. Kon enigiets wat vir my aanloklik gelyk het, ook goed wees?
Mettertyd het ek agtergekom groepe hou van etikette: nasies, religieuse en politieke groeperings, families, vriendekringe – elk het sy eie reeks aspirasies en taboes. Is jou begeerte in ooreenstemming met dit wat die groep hoog ag, is dit “goed”. Wyk jou begeerte van die groepsnorm af, is dit “sleg”. Wee jou as jy op uiteenlopende groepe se voorskrifte inkoop.
Die wysheid van die grysheid (moet dit nou asseblief nie letterlik opneem nie) het my laat insien dat geen groep weet wat vir mý reg is nie. Dit wat my unieke menswees pas, moes ek deur skade en skande leer. En, verrassing der verrassings, daar ontdek ek toe dat my begeertes wonderlike rigtingwysers is. Hulle lei my na die idees, ervarings, en mense wat die beste in my na vore bring. En my met ‘n vreugde vul wat ek brand om met ander te deel.
Dalk is dit ‘n waagstuk om in die openbaar te erken dat ek my begeertes ‘n stem gee en selfs voor party van hulle swig. Sal dit help as ek belowe om ‘n maand lank alle appels te vermy?