Beetpasta en geroosterde beet, en rooi-uie met roketpesto
Ingredients
Geroosterde beet en rooi-uie
4 middelslag-bete, geskrop en in kwarte gesny
4-6 baba rooi-uie, in kwarte gesny
¼ k (60 ml) olyfolie
Roketpesto
3 k (100 g) roketblare
3 k (100 g) basiliekruid
3 k (100 g) babaspinasieblare
1 e (15 ml) knoffel
1 k (100 g) amandels uitgedrukte sap en gerasperde skil van 1 suurlemoen
½ k (125 ml) olyfolie
2 e (30 ml) parmesaankaas, fyngerasper
Pasta
2¼ k (265 g) koekmeel
2 eiers
¼ k (60 ml) beetpuree (2 bete by 180 ˚C gebak tot sag en in ’n voedselverwerker verwerk)
Instructions
Geroosterde beet en rooi-uie
Verhit die oond tot 200 ˚C. Pak die beet en uie op ’n bakplaat uit en bedruip liggies met olie.
Rooster die groente vir sowat 1 uur of tot sag en gaar. Haal uit en laat afkoel.
Roketpesto
Sit die roketblare, basiliekruid, spinasie, knoffel, amandels en suurlemoensap en -skil in die mengbak van ’n voedselverwerker.
Gooi die olyfolie in ’n dun straaltjie by terwyl die masjien aan is en verwerk tot glad. Roer die parmesaan by en geur met sout en gemaalde swartpeper.
Pasta
Skep die meel in ’n groot mengbak en maak ’n holte in die middel. Breek die eiers in die holte en skep die beetpuree daarby.
Meng die meel, eiers en puree met jou vingers. Begin buite en werk na binne tot die eiermengsel goed gemeng is en ’n kniebare deeg vorm. Knie die deeg vir sowat 10 min. tot glad en elasties. Vorm die deeg in ’n plat sirkel en draai in kleefplastiek toe. Laat rus vir sowat 30 min. in die yskas.
Verdeel die deeg in 4 ewe groot balletjies. Bestuif die werkvlak en pastamasjien liggies met meel. Rol elke deegballetjie effens plat. Stel die pastamasjien op die laagste stelling (1) en rol die deeg uit. Vou die deeg dubbel en herhaal die rolproses twee keer. Strooi ná elke rolslag ’n bietjie meel oor die deeg. Stel die masjien hoër en herhaal die rolproses tot nommer 6.
Verhit water in ’n groot kastrol en voeg 1 e (15 ml) sout by. Bring die water tot kookpunt.
Rol die deeg deur die tagliatelle-snystelling.
Kook die tagliatelle vir sowat 2 min. in die kookwater, of tot sag maar nie pap nie. Dreineer in ’n groot mengbak. Bedruip liggies met 2 e (30 ml) olyfolie en meng deur.
Sit die pasta voor met die geroosterde groente, ¼ k (60 ml) roketpesto en strooi ’n ¼ k (60 ml) granaatpitte bo-oor.