Beeld van ’n vrou: Nora Ephron deur Corlia Fourie
Die rolprente met Nora Ephron as draaiboekskrywer (en later ook as regisseur) het ons laat tintel van lekkerkry. Dink maar aan When Harry Met Sally, Sleepless in Seattle en You’ve Got Mail. Die toneel waarin Sally ’n orgasme in ’n restaurant namaak, het feitlik dadelik ’n klassieke rolprent-oomblik geword. En die pittige sêgoed tussen Harry (gespeel deur Billy Crystal) en Sally (Meg Ryan) oor die verskillende maniere waarop mans en vroue verhoudings ervaar, was komies maar ook met ’n goeie skeut waarheid.
Nora Ephron wat in 2012 ná ’n stryd teen kanker aan longontsteking oorlede is, se pittige skryfstyl en kwinkslae was nie net tot rolprente beperk nie. Ook as joernalis was sy bekend vir haar geestigheid en haar vriende vertel dat sy met bemoedigende woorde donker tye verlig het.
Dié dinamiese vrou het haar stempel op verskeie gebiede afgedruk: as joernalis, draaiboekskrywer, vervaardiger, regisseur en dramaturg. Oor haar word daar gesê dat sy haar nie deur toe deure laat keer het nie. Sy het hulle doodeenvoudig oopgeskop. Sy was nie altyd suksesvol nie, maar sy het nooit toegelaat dat mislukkings haar onderkry nie.
Sy vertel dat dit haar ma, Phoebe, was wat haar lewensfilosofie bepaal het. Haar ma het gesê dat die tragedies van vandag die potensiaal het om die komiese stories van môre te word. En die gesin het dit ook so uitgeleef.
Nora is in die stad New York gebore, die oudste van vier dogters van ’n Joodse gesin, maar het in Beverly Hills grootgeword. Haar ouers het saam-saam die draaiboeke van romantiese komedies soos Desk Set vir Katherine Hepburn en Spencer Tracy in die jare vyftig geskryf. Nora se susters Delia en Amy is ook draaiboekskrywers en haar derde suster, Hallie Ephron, is ’n joernalis, boekresensent en ’n misdaadskrywer.
Nora het in ’n onderhoud met Ariel Gonzalez van Huff Post Entertainment gesê dat sy aanvanklik nie draaiboeke wou skryf nie – eintlik meer uit rebellie teen haar ouers as enigiets anders. Sy wou joernalis word.
Joernalistiek het haar sedert haar hoërskooldae bekoor, vertel sy. Sy het genoeg rolprente en TV-reekse oor joernaliste gesien om haar te laat glo dat sy nie net wil skryf nie, “maar ook ’n joernalis as ’n kêrel wil hê,” het sy spottenderwys bygevoeg.
Op universiteit – Wellesley-kollege in Wellesley, Massachusetts – het Nora talle briewe aan haar ouers geskryf oor die goed wat op kampus gebeur. Hulle het later dié voorvalle as grondslag vir ’n Broadway-toneelstuk gebruik. Dié stuk, Take Her, She’s Mine, is later in ’n rolprent verander met Sandra Dee in die hoofrol. Dit is tragies dat albei haar ouers in hul later jare toe hulle nie meer so baie gewerk het nie, alkoholiste geword het.
Ná universiteit het Nora in haar eerste werkonderhoud by Newsweek op die vraag waarom sy vir Newsweek wil werk, geantwoord: “Omdat ek wil skryf,” waarop sy meegedeel is dat daar nie vroueskrywers by Newsweek is nie. Hulle sal nie vandag so iets vir ’n vrou sê nie, voeg sy by, en destyds was dit ook nie eens heeltemal waar nie. “Daar was een of twee vroueskrywers wat oorgebly het van die groep wat in die Tweede Wêreld-oorlog aangestel is toe die mans waarskynlik ‘belangriker’ werk moes doen. Daar was geen ander keuse as om vroue te gebruik nie, maar hulle was vasbeslote om nie weer daardie fout te maak nie.”
Sy moes toe maar met ’n minderwaardige pos tevrede wees. Maar ’n paar jaar later is sy as rubriekskrywer by die New York Post aangestel ná die redakteur ’n stuk wat sy oor die Post geskryf het, in ’n satiriese tydskrif gelees het. Sy het vyf jaar lank by die Post gewerk. Daarna het sy ook ’n rubriek oor vrouesake vir Esquire geskryf. Hier het Nora naam gemaak met die wye hoeveelheid onderwerpe wat sy met humor, insig en oortuiging aangepak het. Sy het veral oor haar liefde vir kook, New York en seks geskryf, in daardie volgorde, en sommiges het na haar verwys as die moderne Dorothy Parker. Maar sy het ook artikels geskryf oor onderwerpe soos haar alma mater, Wellesley, omdat hulle ’n generasie van “onderdanige” vroue grootgemaak het en die feministiese aktivis Betty Friedan oor haar rusie met Gloria Steinem betig.
Haar huwelik met die skrywer Dan Greenburg het ná nege jaar in die skeihof geëindig.
In 1975 het sy Carl Bernstein ontmoet. Bernstein was een van twee joernaliste (die ander een was Bob Woodward) van die Washington Post wat die Watergate-skandaal onthul het en tot pres. Richard Nixon se bedanking gelei het. Dit het die twee joernaliste in “sterre” verander. ’n Jaar ná hul ontmoeting is Nora en Bernstein getroud.
In Heartburn, die boek wat sy geskryf het ná die verhouding ook op ’n egskeiding uitgeloop het, sê sy: “I married him against all evidence. I married him believing that marriage doesn’t work, that love dies, that passion fades, and in so doing, I became the kind of romantic only a cynic is truly capable of being.”
Op versoek van haar man en Bob Woodward het sy in daardie tyd saam met Bernstein die draaiboek vir All the President’s Men herskryf. Die twee joernaliste was nie tevrede met William Holden se weergawe nie. Op die ou end het Nora en Bernstein se draaiboek ook nie die paal gehaal nie. Die man-vrou span het glo ten koste van Woodward vir Bernstein die groot held gemaak. (In die prent word Bernstein deur Dustin Hoffman gespeel en Bob Woodward deur Robert Redford.)
Maar al haar werk aan die draaiboek was tog nie verniet nie. Iemand in die bedryf het dit gelees en haar toe haar eerste opdrag vir ’n draaiboek, die keer vir die TV, aangebied.
Jacob was ’n baba en Nora swanger met Max toe sy in 1979 agterkom dat haar man ’n verhouding met ’n gesamentlike getroude vriendin het. Die vriendin, Margaret Jay, was die dogter van die destydse Britse Eerste Minister James Callaghan en vrou van Peter Jay, toe Brittanje se ambassadeur in Amerika.
Die skok het veroorsaak dat Max vroeg gebore is.
Nora was seergemaak en woedend en het die 1983-roman, Heartburn, oor die verbrokkeling van haar huwelik weens Bernstein se ontrouheid geskryf. Die hoofkarakters in die boek was kwalik bedekte weergawes van haarself en Bernstein. In die storie het Nora geskryf oor ’n man, Mark, wat so promiskueus is dat hy “selfs met ’n vensterblinding seks kan hê”. Sy het ook gesê dat die karakter, Thelma (gegrond op Margaret), soos ’n kameelperd met groot voete lyk. Bernstein het haar met ’n hofsaak en naamskending gedreig, maar dit het net by dreig gebly. Die boek is verfilm met Jack Nicholson en Meryl Streep in die hoofrolle. Mike Nicholls was die regisseur.
Anders as ander rolprentregisseurs, vertel Nora later, het Nicholls van draaiboekskrywers gehou en hy het al in ’n vroeëre stadium van die verfilming van die baie suksesvolle Silkwood vir haar (en medeskrywer Alice Arlen) op die stel toegelaat.
Dis aan Nicholls te danke dat Nora so gou soveel oor die vervaardigingsaspek van rolprente geleer het. Maar die resensente was nie mal oor Heartburn nie.
Walter Goodman sê in ’n New York Times Review: “Nora Ephron’s novel Heartburn was stuffed with food jokes, sex jokes, food-sex jokes en Jewish food-sex jokes. It was like a bowl of rice pudding dotted with raisins.” Hy voel dat Streep en Nicholson hul bes doen, maar dat die storie net te lig in die broek is.
Maar Nora was tevrede: “As jou man jou kul met ’n padkafeekelnerin, sorg net dat Meryl Streep jou rol speel. Jy sal net soveel beter voel.”
Haar volgende draaiboek, Cookie, is nie suksesvol verfilm nie. Maar die een daarna, When Harry Met Sally, het ’n klassieke, romantiese komedie geword. Die storie is gedeeltelik gegrond op regisseur Rob Reiner se pogings om ’n maat te kry ná die verbrokkeling van sy huwelik met die regisseur Penny Marshall.
Die prent begin met die ontmoeting van Harry (Billy Crystal) en Sally (Meg Ryan), en stel die vraag: “Kan mans en vroue vriende wees of staan seks altyd in die pad?” Die einde is voorspelbaar maar die verhaal maak eers ’n klomp amusante draaie wat die kloof tussen die geslagte illustreer. Die vrou wat die onvergeetlike gevatte sin: ”I’ll have what she is having”, gesê het, was Reiner se ma.
Toe die volgende rolprent waarvoor sy die draaiboek geskryf het, My Blue Heaven – by die kaartjieskantore misluk, het sy besluit om volgende keer haar eie draaiboek te verfilm. “As jy ook die regisseur van ’n prent is, hoef niemand te wonder wie vir die mislukking kwalik geneem moet word nie.”
Maar dit was haar tweede prent as regisseur én draaiboekskrywer, Sleepless in Seattle, met Tom Hanks en Meg Ryan, waaroor rolprentgangers opgeklits was. Tom Hanks speel ’n eensame, slapelose wewenaar en Meg Ryan ’n joernalis. Die twee ontmoet mekaar eers teen die einde van die prent. Die prent se inspirasie was An Affair to Remember wat in die jare vyftig gemaak is.
’n Paar jaar later kry Nora dit reg om een van die bekendste Hollywoodse komedies, Ernst Lubitsch se The Shop Around the Corner, vir eietydse gehore aan te pas. In You’ve Got Mail speel Tom Hanks en Meg Ryan weer teenoor mekaar, maar dié keer ken hulle mekaar uit die staanspoor. Dié slag is die kinkel die feit dat hulle nie van mekáár hou nie, wel van iemand wat vir hulle oulike e-posse stuur.
Nora se laaste prent as regisseur/draaiboekskrywer was Julie & Julia met Meryl Streep as die gevierde TV-sjef, Julia Child, en Amy Adams as Julie Powell, ’n blogger wat deur Child begeester is en haar voorneem om elke resep in die sjef se boek Mastering the Art of French Cooking te maak.
Nora was vir ’n derde keer getroud. Die slag was dit ’n gelukkige huwelik en sy en die skrywer Nicholas Pileggi, was tot en met haar dood in Junie 2012 25 jaar lank saam.
Bronne: Verskeie webwerwe, o.m. www.huffingtonpost.com/arianna-huffington/remermbering-nora-ephron; www.guardian.co.uk/film/2012/jun/27nora-ephron; www.goodreads.com/author/quotes/5691.Nora_Ephron