Beeld van ’n vrou: Nelle Dreyer deur Corlia Fourie
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }Nelle Dreyer het in die jare sewentig op die voorblad van rooi rose en verskeie ander Suid-Afrikaanse tydskrifte verskyn. Toe het sy dit gewaag om oorsee te gaan werk, en was die eerste Suid-Afrikaanse model wat internasionaal sukses behaal het. Sy het op die voorblaaie van menige toonaangewende tydskrif soos Vogue en Harper’s Bazaar verskyn.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }Sy het voor die lens van groot internasionale fotograwe soos David Bailey, Pierre Luigi, Gian Paolo Barbieri, F. Gianni, Rocco Mancino en Bob Kriegler gewerk. Sy het ook saam met bekende Suid-Afrikaanse fotograwe soos Barry Dunne, Barry Lategan, Desmond Bowes-Taylor, Beresford McNally en Tom Burgers gewerk.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }Nelle was nie net buitengewoon fotogenies nie. Haar onberispelike modesmaak en bewustheid van watter bybehore haar op haar beste sal laat lyk, het tot haar sukses bygedra. Sy het ook nie in ’n tyd toe dwelms amper outomaties deel van die modetoneel was, haar daaraan vergryp nie, nie haar geld uitgemors nie en meestal gesond geleef en geëet.
Nelle is in 1950 in Kaapstad gebore, die oudste kind van Helperus Ritzema Van Lier Dreyer en Nelle Dreyer. Haar oupa aan vaderskant was dr. Andries Dreyer, argivaris van die NG Kerk. Hy was ook ’n sendeling en is met ’n Carnegie-beurs Amerika toe om lesings vir teologiestudente te gee. Haar ma se mense was boere in die Groot-Karoo.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }Ritzema was ’n praktiese man wat onder meer hul huis in ’n armer deel van Kaapstad eindeloos herbou en reggemaak het. Haar ma, wat ’n dosent in liggaamsopvoeding aan Stellenbosch was, het ná die troue vir dowe kinders by ’n Rooms-Katolieke skool skoolgehou. Later het haar ouers ’n maatskappy begin wat motors aan veral buitelanders verhuur het. Nog later het hulle ’n plasie naby Hermanus besit en komkommers gekweek.
Albei haar ouers was besonder aantreklike mense. Haar pa het ook graag mooi aangetrek en haar ma het as jong vrou klasse bygewoon om meer van mode en styl te leer sodat sy nie by haar man afsteek nie. In haar outobiografie, van Pleinstraat tot Parys, vertel Nelle hoe baie moeite haar ouers gedoen het om hulle vir spesiale geleenthede uit te vat en hoe sy as kind haar mooi ouers bewonder het.
Haar ma het in ’n individuele voorkoms geglo en het oorsese tydskrifte deurgewerk vir idees vir klere, wat sy dan self gemaak het. Haar ma, wat aan homeopatie geglo het, het ook gesorg dat sy en haar jonger broer, Vanlier, gesond eet en dat hulle aan sport deelneem. Nelle wat gehou het van lekker eet, vertel dat sy dikwels by haar ma gekla het dat sy nou vet word. Waarop haar ma gesê het: “Maar jy weet mos hoe om maer te word. Eet baie rou groente en vermy suiker.”
Nelle kon van kleins af sê wat sy dink en sy is nie tereggewys nie. Maar toe sy as volwassene by verskeie mans betrokke geraak het, het hulle dit nie goedgekeur nie. Nelle het gesê dat sy nie kinders wil hê nie en daarom nie in die getroude lewe belang stel nie. Sy is heel openlik oor die aborsie wat sy in Kaapstad gehad het, en later in Italië het sy weer ’n swangerskap beëindig deur Londen toe te vlieg.
Sy het op omtrent dertig as model uitgetree, en daarna ’n Amerikaner in Parys ontmoet saam met wie sy bereid was om die res van haar lewe te slyt.
Nelle het nie as tiener aan modelwerk as ’n loopbaan gedink nie, maar sy het gedroom van ’n avontuurlike lewe wat haar na mooi plekke sou neem.
Toe sy in 1969 as sjampanjenooi vir die Maties gekies is, het baie foto’s van haar in koerante verskyn en die land was gaande oor die mooi Matie. Die Sondagkoerant Beeld (vandag Rapport) het ’n interuniversitêre kompetisie vir sjampanjemeisies gehad en toe Nelle hoor daar is ’n prysgeld van R250 (destyds baie geld) was sy baie lus om deel te neem. Maar haar pa was gekant teen situasies wat die vrou uitbuit, en het gedink Sondagkoerante is snert. (Haar ouers was in dié tyd oorsee.)
Nelle het deelgeneem en gewen. Daarna het sy haar B.A. handelkursus opgeskop en besluit om die volgende jaar (1970) argitektuur aan Ikeys te gaan studeer. Intussen, het sy vir haar ouers gesê, wil sy “haar eie ding doen”.
Op ’n “Engelse” partytjie in Rondebosch het sy ’n mooi kleinniggie, Renita, ontmoet wat as sekretaresse by fotograaf Tom Burgers gewerk het. Renita het vertel dat Tom toetsfoto’s van haar vir haar portefeulje neem wanneer hy ’n kansie het. Nelle het Tom ontmoet en die fotograaf het ingewillig om dieselfde vir haar te doen. (Modelle het ’n portefeulje nodig om werk in dié bedryf te kan kry.) Vir dié sessies moes hulle die klere aantrek wat Tom vir modefoto’s vir Landbouweekblad gebruik het. Don McKenzie het ook foto’s van haar vir ’n handelstydskrif geneem en Nelle was verstom toe sy R40 verdien.
Renita het haar vertel van ’n Fair Lady-oudisie in Langstraat en sy is soontoe met die portefeulje wat sy Tom oorreed het om van haar en Renita in hul eie klere te neem. Die fotograaf Richard Cutler het haar gekies om in Fair Lady se 1970-modebylaag te verskyn.
’n Week ná die modesessie het die Universiteit van Kaapstad laat weet sy is vir die kursus in argitektuur gekeur. Maar teen daardie tyd het Nelle reeds besluit dat die kursus van sewe jaar te lank is, en buitendien wou sy en Renita oorsee gaan reis en werk.
Nelle was verloof, maar sy het begin twyfel omdat haar verloofde van kinders gepraat het en sy besluit het sy wil nie kinders hê nie.
Sy en Renita is Europa toe. Hulle het by Athene en die Griekse eilande begin en is daarna Rome toe. In haar outobiografie skryf Nelle: “Rome is my stad. Dis hemels om laat in die aand op die sypaadjie sonder ’n trui te sit en nie koud te kry nie. Die gevoel van saligheid wat nie weggewaai word soos in die Kaap nie.” Sy skryf ook: “Die sensasie van die rissiesous met die spaghetti en die stroperige wynsous oor die vleis is ongelooflik lekker.” Die maer meisies in hul sweedsleersjoebroekies met hoë stewels was vir haar baie mooi. En Antonio wat agter haar aangedrentel het, was ’n Latynse minnaar uit die boeke. Die verloofde in Kaapstad was gou vergete.
Ná Italië was die ander lande wat hulle besoek het vir haar vaal. Dit was vir haar heerlik om terug te gaan Rome toe en Antonio te vergesel na die plekke wat hy vir sy werk besoek het.
Sy en Renita het in Italië modelwerk begin doen. Fotograaf Pierre Luigi het van Nelle se voorkoms en haar portefeulje gehou. Vir die eerste keer het ’n fotograaf se ateljee vir Nelle reg gelyk met behoorlike beligting en groot spieëls. Daar was ook nie van haar verwag om haar eie grimering te doen en haar eie bykomstighede saam te neem soos wat destyds in Suid-Afrika die geval was nie.
Terug in Kaapstad het Petrusa Roodt gesorg dat sy gou weer werk kry. Haar ideaal was om New York toe te gaan, en met Petrusa se hulp is haar foto’s na Eileen Ford se agentskap in New York gestuur. Toe sy daar kom, was Eileen verstom omdat Nelle haar lang hare afgesny het. Nelle skryf dat sy dadelik besef het: “In Amerika doen jy wat die norm is: die foto’s in jou portefeulje moet presies soos jy lyk, en jy moet soos al die ander meisies lyk.”
Gelukkig het baie kliënte van haar kort hare gehou. Sy het ook nie veel respek vir die Amerikaners se sin vir modes gehad nie. “My aanvanklike brood-en-botter-besprekings is op presies dieselfde vlak as die Landbouweek-blad se modebylaag. Maar my talent en ervaring om tweederangse klere na eersterangse klere te laat lyk, kom goed te pas.”
Ná vier maande begin groter kliënte soos Vogue en Harper’s Bazaar haar gebruik en in byna elke uitgawe van die New York Times pryk Saks Fifth Avenue se foto van haar op die middelblad.
Maar die koue winter het haar teruggedryf suide toe. Terug in Suid-Afrika het sy ’n groot huis gehuur met die geld wat sy in Amerika verdien het en begin om met die hulp van die jong fotograaf, Barry Dunne (met wie sy ook ’n verhouding gehad het), vir haar ’n indrukwekkende portefeulje op te bou. In dié tyd was daar heelwat kreatiewe bedrywigheid in die mode-bedryf en Nelle het later vir ’n verslaggewer gesê dat dít vir haar die beste tyd in die mode-bedryf was.
Eers toe sy tevrede was dat dit vir haar nie net werk nie, maar van die beste geleenthede sou gee, is sy Italië toe, dié keer na Milaan.
“Molto bello,” (baie mooi) het Ricardo Guy, die voorste modelagent in Milaan gesê toe hy na Nelle se skyfies op die ligboks kyk. Sy het gejok en gesê sy is 23. (Want, skryf sy, om op 26 in Milaan te kom werk, is belaglik.) Werk het dadelik ingestroom, en nie sommer sulke werk nie: Vogue, Harper’s Bazaar en Linea Italiana.
As meer ervare model het sy nie soos van die jonger modelle by playboys betrokke geraak nie. In die lang somervakansie het sy en ’n nuwe vriend en manlike model, Hudson, München toe gevlieg om die werkmoontlikhede in dié stad te toets. Wat veral aanloklik was, was dat sy drie keer meer betaal sou word as in Italië. Maar die Duitse werk het veral uit posbestellingskatalogusse bestaan. “Die ironie om ná jare lange ondervinding weer in Landbou-weekblad-rokke te staan – net om groot geld te verdien.”
Ná vyf wintermaande van in die week heen-en-weer vlieg tussen verskillende Duitse stede en naweke na Milaan, het sy daarna uitgesien om saam met haar ouers op Hermanus vakansie te hou. Hudson is saam. Haar ma se enigste kommentaar: “Al weer ’n mooi man.”
Toe Hudson later nie meer so in aanvraag in Italië was nie, het sy saam met hom Parys toe gegaan, al was die meeste van haar werk nog in Italië en Duitsland. Maar sy het die modeskoue in Parys geniet.
In Desember 1980 was sy in Suid-Afrika en het ’n Russiese baron op ’n partytjie in Plettenbergbaai ontmoet. In Parys het sy vir Hudson gesê dat sy op 29 moeg is vir die modewêreld en huis toe wil gaan om met Nicky te trou.
Die plan was van korte duur. Nelle het intussen op Bob, ’n Amerikaner wat in Parys woon, en in wie se woonstel Barry Dunne ’n kamer gehuur het, verlief geraak. Sy het die miljoenêr op Plettenbergbaai gelos en is met Bob getroud. Sy het tot met haar dood in 2015 saam met hom in Parys gebly.
“Voorbladnooi – van Pleinstraat tot Parys” deur Nelle Dreyer. Protea Boekhuis. 2011.
Kan my kat of hond ook Alzheimersiekte kry? Dis wat jy moet weet oor "canine…
Sodra jy dink jy het al die voorskrifte onder die knie, hoor jy daar is…
Het jy geweet jou baba of peuter moet letterlik leer om sintuiglike inligting te filtreer…
Genoeg vir 6 Bestanddele 625 ml (2½ k) tee-en-vrugtesap 30 ml (2 e) gelatienpoeier…
Buiten vir sy uitsonderlike talent as musikant en liedjieskrywer, is Len Muller ook bekend as…
Hierdie webwerf gebruik koekies.