Beeld van ’n vrou: Nadine Gordimer deur Henriëtte Linde-Loubser
In ’n brief wat sy in die jare negentig aan die Indiese skrywer Salman Rushdie gestuur het, beskryf Nadine Gordimer haarself as “’n kaalvoetmeisie van Springs”, maar die meisiekind sou uiteindelik as ’n literêre reus, asook die “stem en die gewete van Suid-Afrika” (’n benoeming wat vir haar steurend was) bekend staan.
Sy het hier aangebly terwyl ander stryders vir nie-rassigheid die land in selfopgelegde ballingskap verlaat het. Gordimer kon vreesloos die waarheid skryf soos sy dit sien, sonder om die persoonlike of openbare gevolge daarvan in ag te neem. Vir haar kon ’n skrywer nie bekostig om angstig te wees nie en eerlikheid was vir haar ononderhandelbaar.
Dennis Walder skryf in ’n huldeblyk dat Gordimer in die dieptes kon delf van menslike interaksie binne ’n gemeenskap van rassespanning, politieke onderdrukking en seksuele ongemak.
Haar skryfwerk het ’n sosiale agtergrond geskets wat subtieler was as enigiets wat politici kon opdis. Dit was ’n weerspieëling van die pad van passiwiteit en blindheid na een van weerstand en stryd, van verbode vriendskappe, gesensordes en ondergrondse netwerke. Sy het ’n milieu geskep waarbinne dit moontlik was om jou ’n wêreld anderkant verdeling te verbeel.
Gordimer was ’n skrywer en aktivis, iemand wie se boeke felle emosies kon ontketen en sekerhede kon skud. Sy was ’n voor-vegter vir die stemloses – Seamus Heaney het haar ’n “guerilla of the imagination” genoem.
Nadine is op 20 November 1923 op Springs gebore. Sy was die dogter van Isidore Gordimer, ’n Jood uit Litoue en Hannah (Nan) Meyers, ’n immigrant uit die Engelse middelklas. Isidore was 14 toe hy hom as juwelier en horlosie-maker op Springs gevestig het. Nan het haar huishouding met ’n ysterhand regeer. Ronald Suresh Roberts skryf in sy biografie, No Cold Kitchen, dat Gordimer genoem het dat haar pa “above himself” getrou het en dit is waarskynlik die rede waarom Isidore as ’n randfiguur in haar jeugherinneringe huiwer.
Toe Betty, Nadine se suster wat vier jaar ouer as sy is, skool toe is, het Nadine vir haar ’n verbeeldingsvriend aangeskaf en haar eie sosiale wêreld geskep. Op nege het sy haar eerste “werk”, ’n patriotiese gedig ter ere van Paul Kruger, geskryf. Haar eerste kortverhaal is in ’n Suid-Afrikaanse tydskrif gepubliseer toe sy 15 was.
Op skool was Nadine ’n ekstroverte meisie met ’n droom om ’n danser te word, hoewel haar “liriese impuls” daartoe gelei het dat sy begin skryf het.
Nadat ’n ooraktiewe skildklier in 1934 by haar gediagnoseer is, het haar ma besluit liggaamlike inspanning is nou taboe. Weens haar “swak hart” is sy op elf uit die skool gehaal en dans was buite die kwessie.
Nadine het haar vermaak deur in die bed te lê en lees. Oor hierdie eensame kinderlewe het sy haar ma verwyt en in No Cold Kitchen noem Roberts die hoofstuk oor Nadine se adolessensie “House Arrest”.
Tog het hierdie fisieke inperking haar juis ontvanklik gemaak vir dit wat boeke haar kon leer. Formatiewe lees voed jou, het sy later opgemerk. Om te lees is om te leef.
Nadine het miskien nie formele skoolopleiding gehad nie maar boeke was haar vriende en deur die bestudering van ou meesters soos Proust, Tsjechof en Dostojefski het sy haar geskool. Haar intellektuele reis het begin met die lees van The Jungle deur Upton Sinclair, die werk wat haar van haar “onskuld genees” en haar politieke bewussyn gevestig het.
’n Kursus aan die Universiteit van die Witwatersrand het ’n nuwe fase in haar lewe ingelei. Sy het die kursus nooit voltooi nie maar dit was ’n omgewing waar sy wonderlike vriendskappe met jong swart intellektuele en skrywers gesmee het. In Johannesburg het sy ook vriende gemaak met die arbeidsaktivis Bettie du Toit wat ’n geweldige invloed op haar politieke denke en haar groeiende teenkanting teen wit heerskappy gehad het.
In 1949 verskyn Gordimer se eerste kortverhaalbundel, Face to Face en gou daarna nog twee, Town and Country Lovers en The Soft Voice of the Serpent. Hierna het sy internasionaal voelers uitgesteek en van haar verhale het in die tydskrif The New Yorker verskyn. Die eerste daarvan was “The Lying Days” in 1951.
Haar eerste huwelik in 1949 met Gerald Gavronsky waaruit haar dogter, Oriane, ’n jaar later gebore is, was volgens Roberts gou sonder fut. In dieselfde jaar nog verskyn The Talisman waarin ’n verveelde vrou ’n verhouding met ’n kunstenaar aanknoop en daarna voortdurend tussen die veilige mure van die huwelik en buite-egtelike eskapades huiwer. Hierdie wisselende hunkering tussen sekuriteit en waagmoed het ’n immer terugkerende tema in Gordimer se werk geword.
Die enigmatiese Uys Krige is een van die mense wat die grootste invloed op Nadine se skryfwerk gehad het. As protégé van Krige het sy in Sophiatown begin kuier en vriende gemaak – ’n ervaring wat die inspsirasie was vir haar tweede boek, A World of Strangers (1958).
Nadat Nadine en Gerald uitmekaar is, het sy verlief geraak op Reinhold Cassirer, haar tweede man en die liefde van haar lewe. Hy was ’n Nazi-voortvlugtige en het uit ’n gesiene Duitse familie gekom. Hulle is op 29 Januarie 1954 getroud en het ’n seun, Hugo (1955). In Frerestraat, Parktown-Wes het die sigeuner uiteindelik rus gevind. Dit het nie beteken dat Nadine toegelaat het dat ’n gesinslewe haar verstik nie.
Soggens het sy getrou geskryf en niemand durf haar steur nie. Sy het geglo ’n vroueskrywer kan slegs deur die toepassing van streng selfdissipline en ’n bietjie genadeloosheid die gesin oorleef.
Roberts verwys in sy boek na die “obsessiewe eienskappe” wat Nadine as skrywer gehad het. Uit haar pen het uiteindelik 15 romans, verskeie bundels kortverhale, nie-fiksie en ander skrywes gevloei. Haar laaste novelle, Get a Life, het in 2005 verskyn. Haar werk is reeds in veertig tale vertaal.
Vir Gordimer was die skrywer en skryfwerk androgeen. Dit is alombekend dat sy die uitlating gemaak het: “ons skryf nie met ons genitalieë nie”. Sy het geglo dat vroulike en manlike skrywers nie deur geslag aan bande gelê word nie en daarom kan skrywers hulle die intiemste detail in die ander se geslagsidentiteit verbeel. Haar kortverhaal, Time Did (1980), was ’n voorbeeld van hierdie androgene aspirasies.
Hoewel sy haarself nooit as ’n politieke figuur gesien het nie, was sy beslis ’n radikale kritikus van die politieke situasie in die land. Sy het dikwels benadruk dat sy nie ’n liberaal is nie, maar wel ’n wit Suid-Afrikaanse radikaal. Sy was ’n fel kritikus van swart sowel as wit liberalisme.
Vir Gordimer was haar skryfwerk hoofsaaklik ’n voorstelling van die Suid-Afrikaanse werklikheid. Sy het graag die verbanne Tsjeggiese skrywer, Milan Kundera, aangehaal: Die stryd van die mens teen mag, is die stryd van die geheue teen vergeet. Vir haar was die groot stryd binne die meeste Suid-Afrikaners van die tyd, dié van oorlewing deur te vergeet.
Drie van haar werke is op verskillende tye in Suid-Afrika verban en ’n tydelike verbod is op talle ander geplaas. Sy het uit verskillende oorde teenkanting teen haar skryfwerk gekry. Sy het telkens beklemtoon dat sy nie van nature polities ingestel is nie maar dat omstandighede van 1958 tot 1989 dit onvermydelik gemaak het.
In ’n kragtige toespraak in 1982, “Living in the Interregnum”, noem Gordimer dat niks wat sy daar sou kwytraak soveel waarheid as haar fiksie kan praat nie. Dit was die soort skrywer wat sy was – gefokus op haar skryfkuns, want vir haar was dit deur skryfwerk dat die skrywer menslike gedrag probeer verstaan en die betekenis van wat mense beleef, probeer vasvang.
Tot aan die einde het sy teen die beperkinge op vryheid van spraak geveg. So onlangs soos 2012 was haar kritiek teen die ANC fel. Met die opstel (saam met André P. Brink) van die petisie teen die beplande wetgewing op die vryheid van spraak het sy teenstand bly bied: “Let’s keep (the protest) going. Throw another log in the fire!” was haar woorde.
Sy was ook nie tevrede met die regering se hantering van sake nie en het nie geskroom om haar misnoeë te kenne te gee nie. Die misdaad, korrupsie, die verslapping van waardes binne die regering, die hantering van die MIV/vigs-pandemie en die onderwyskwessie het haar diep teleurgestel.
Nadine Gordimer was petite, met die fyn beenstruktuur van’n ballerina, maar sy was gedug. Formeel, in beheer en sjarmant, maar onmiskenbaar ’n vrou van staal. Sy was uitge- sproke, sterk, prakties en het nooit daarvan terug gedeins om swaarde te kruis nie.
Maar sy was ook ’n goeie luisteraar en vir Maureen Isaacson, ’n goeie vriendin, was Nadine ’n inspirerende mens. ’n Warm vrou met ’n wonderlike sin vir humor, al was sy reguit.
Sy het nie dwase geduld nie. Menige joernalis wat met haar onderhoude moes voer, het dit in angs en bewing gedoen. Soos met haar vriendin, Susan Sontag, het Gordimer hierdie angstigheid en vrees as beledigend beskou. Sodra sy besef het iemand gaan haar sinvolle vrae vra, het sy haar waaksaamheid verslap en kon die mens agter die voorbehoud na vore tree.
Karina Szczurek het ná ’n onderhoud met Gordimer in 2011 met verwondering oor hierdie vrou geskryf. Szczurek onthou die oggend toe sy by Nadine se huis instap en die stralende vrou daar sien. Grasieus in ’n wit kaftan, met haar hare stylvol gekap, klein oorringe aan die ore, het sy Szczurek met lewendige bruin oë takseer. Op 88 was sy steeds ’n skoonheid.
Al het Gordimer in die apartheidsjare in ’n bevoorregte posisie grootgeword, het sy dit haar lewenstaak gemaak om teen ongeregtigheid en ongelykheid te veg. Sy was vurig en reguit, maar immer patrioties. Die mens wat oor jare heen uit onderhoude, gesprekke en ook uit haar skryfwerk na vore tree, is iemand wat haar droom vuriglik bly soek het; ’n droom van ’n regverdige, nie-rassige Suid-Afrika. Haar werk word beskou as ’n toewyding aan diegene wat ly.
Gordimer bly ’n skrywer wie se invloed nog vir geslagte kan geld. Sy is ’n inspirasie vir jong kunstenaars. Opkomende skrywers kan by haar leer van fokus en dissipline, want sy was nooit bang om die ongemaklike ding by die naam te noem nie, om te waag en dan daarvoor in onguns te wees nie. Sy het onwrikbaar volstaan by dit waarin sy geglo het. En so sal Suid-Afrika en die wêreld haar onthou, soos saamgevat in die woorde van Craig Higginson: “Een ding wat Nadine Gordimer beslis nie was nie, is bang. Vir so ’n klein mensie, was sy baie magtig”.
Bronne: Bazin, N.T. en Seymour, M.D. 1990. Conversations with Nadine Gordimer. University Press of Mississippi: Londen.
Roberts, R.S. 2005. No Cold Kitchen. STE: Johannesburg.
Smith, D. 2014. “Nadine Gordimer dies aged 90”. The Guardian, 15 Julie 2014.
Spector, J. Brooks. 2014. “Farewell Nadine Gordimer, Creator of a Universe of Anger, Angst, Irony and Hope.” http://www.dailymaverick.co.za
Szczurek, K.M. 2014. Nadine Gordimer (1923-2014). http://karinamagdalena.com/tag/uys-krige
Walder, D. 2014. “Nadine Gordimer Obituary. The Guardian, 14 Julie 2014.”
http://zar.co.za/print/gordimer.htm
http://www.achievement.org