Beeld van ’n vrou: Martha Gellhorn deur Christine van Deemter
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }Haar man, Ernest Hemingway, het haar “die ambisieusste vrou op aarde” genoem. Sy het van haar eie lewe gesê: “Ek is van plan om myself tevrede te stel, en as dit van my ’n uitgewekene maak, kyk of ek omgee.”
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }Dié spesifieke uitgewekene, Martha Gellhorn, was ’n baanbrekerjoernalis, skrywer en oorlogskorrespondent. Sy was ook mooi, slim en dapper. Dié kombinasie het haar geliefd, maar meestal berug gemaak.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }Vir meer as ses dekades het Martha onverskrokke van die voorste linies verslag gedoen: oor die Spaanse Burgeroorlog, die Tweede Wêreldoorlog, Viëtnam, konflik in Suid-Amerika … Eers met die uitbreek van die Bosniese oorlog in die jare negentig het sy toegegee dat sy te oud is om te gaan. Toe was sy diep in die tagtig.
Maar dis die jare voor en gedurende die Tweede Wêreldoorlog wat haar gedefinieer het, asook haar huwelik met Hemingway. Dié naam wou sy later nie naby haar eie sien nie, want “ek is nie ’n voetnota in iemand anders se lewe nie”.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }Martha Ellis Gellhorn is op 8 November 1908 in St Louis, Missouri gebore, die derde kind en eerste dogter van George en Edna Gellhorn. Edna se ma was glad nie te vinde vir haar dogter se huwelik met die Duitse George nie. Sy het gemeen Edna kon beter doen. Maar Edna vas vasbeslote: sy het geweet George Gellhorn sal haar nooit verveel nie. Sy was reg, en hulle het ’n lang en gelukkige huwelik gehad – die norm waaraan Martha al haar verhoudings sou meet.
Haar ma se vriende het die jong Martha as slim, elegant en ietwat snobisties beskryf. Martha het van haarself gesê sy is “te lank, te spraaksaam en te lief vir my eie grappies”. Ma en dogter was na aan mekaar, en Martha sou haar ma altyd as haar eerste liefde sien. Edna was ook ’n toegewyde aktivis wat geveg het vir alles – van gratis klinieke tot beter skeiwette en gelyke regte vir vroue.
In 1926 het Martha haar by haar ma se alma mater, Bryn Mawr-universiteit in Pennsylvanië ingeskryf. ’n Ramp. Sy is voor die einde van haar tweede jaar daar weg, want sy het gesê ’n graad sal haar net in staat stel om die tipe werk te doen wat sy nié wil doen nie. Sy het twee groot ambisies gehad: sy wou skryf en oorsee gaan. Sy het as junior verslaggewer by die Albany Times Union werk gekry waar sy haar voorliefde vir mense en hul stories ontdek het. Maar kort voor lank was sy verveeld en het haar tasse gepak vir Parys. Europa, het sy gevoel, “is die plek waar mense lag”.
Toe sy in 1930 met ’n tas, tikmasjien en $75 daar aankom, het sy gevoel sy hoort in die opwindende stad. Maar sy het werk nodig gehad. Die burohoof van die New York Times het gelag toe sy haar dienste aanbied. Uit desperaatheid het sy as assistent in ’n skoonheidsalon gaan werk – dit het twee weke gehou.
Martha wou “oral gaan, alles sien” en was vasbeslote om haar pad oop te skryf. Maar die bietjie vryskutskryfwerk wat sy gedoen het, het nie die pot aan die kook gehou nie.
Sy het besluit om die toe nog onontwikkelde Franse Riviera haar basis te maak. Maar sommer gou het sy weer haar rugsak gepak en oor die Pireneë koers gekies Andorra toe en toe weer Parys toe. Op 14 Julie 1930 het haar dagboek net een inskrywing gehad: “Ontmoet Bertrand.”
Bertrand de Jouvenel was ’n skrywer, joernalis en politieke aktivis. Hy was ook die Franse skrywer Colette se stiefseun én minnaar. Hy was getroud, maar dit het hom nie gekeer om Martha die hof te maak nie. Hy het haar oorrompel en die twee het Europa platgetoer. Maar Martha het gou vasgevang gevoel, en tien maande ná haar aankoms in Parys is sy terug Amerika toe. Sy was swanger met Bertrand se kind, maar het ’n aborsie laat doen. Sy het nooit ’n woord daaroor geskryf nie, en het dit soos alles anders in haar lewe hanteer: vinnig en sonder om veel daaroor te tob.
Ná vier frustrerende maande by haar ouers in St. Louis, het sy die Missouri Pacific Railway oortuig om vir haar ’n treinkaartjie te borg in ruil vir publisiteit. Die Post-Dispatch-koerant het ingestem om haar artikels te koop, en sy het van kus tot kus deur Amerika gery en artikels oor vroulike bulvegters in Kalifornië en ontnugterde Franse prostitute in Mexico geskryf. Sy was besig om haar skrywersoog te verfyn – en te vergeet van Bertrand, haar “engel van verwoesting”, soos sy hom gedoop het.
Maar Bertrand was op pad New York toe. Ondanks hewige teenkanting van albei families, het die twee ’n silwer Dodge vir $25 gekoop en die suide platgereis. Martha se pa was glad nie ingenome met sy dogter se buite-egtelike verhouding nie, en het selfs vir haar gesê: “Daar is twee tipes vroue, en jy is die ander soort.” Al het dit haar ontstel, het dit haar nie gekeer nie. Ná ses maande is sy en Bertrand terug Europa toe.
Sy het by Vogue as mode-assistent begin werk, maar toenemend bewus geraak van die politieke klimaat en onstabiliteit in Europa. Sy het ook vryskutartikels gedoen en behoorlik op dreef gekom met haar joernalistieke werk. Sy het artikels geskryf oor die Ekonomiese Wêreldkonferensie in Londen (wat sy in ’n ruglose Schiaparelli-rok bygewoon het – haar lang, lenige lyf en blonde hare het model gespeel vir Schiaparelli en Chanel); sy is lid van ’n jeug-afvaardiging na Duitsland; sy het oor die Franse oproeringe van 1934 geskryf; help stig La Lutte des Jeunes, ’n progressiewe tydskrif. Maar haar en Bertrand se verhouding het dieselfde troebel paadjie as die Europese politiek geloop, en in Junie 1934 is hulle uitmekaar.
In Oktober is Martha op die Normandie terug Amerika toe, waar sy Harold Hopkins, een van Franklin D. Roosevelt se raadgewers, ontmoet het. Hy was een van die argitekte van die sogenaamde New Deal, en binne ’n maand het Martha op ’n trein geklim om Harold se oë en ore te wees oor die situasie van Amerikaners in die Depressie. Sy was 25 en die jongste lid van die span verslaggewers. Droogte en armoede het die land in ’n wurggreep beetgehad, en wat Martha gesien het, sou haar vir die res van haar lewe beïnvloed. Sy het vir Harold woedende briewe geskryf oor die vrees in die mense se oë, en die patetiese noodprogramme.
Sy het ook in dié tyd ’n hegte en lewenslange vriendskap met Eleanor Roosevelt gesmee. (“Sy gee lig af,” het sy van Eleanor geskryf.) Maar sy was alleen, moedeloos, en kwaad – en het besluit sy het genoeg gesien.
Sy het met hernude passie pen op papier gesit, en in 1936 het The Trouble I’ve Seen die lig gesien. Skaars ’n paar maande ná haar pa die vier kortverhale oor haar ervarings in die Depressie gelees het, het hy gesterf. Eers kort voor haar eie dood het Martha erken dat, van alles in haar lewe waaroor sy spyt is, die gevoel dat sy haar pa teleurgestel het, die pynlikste is.
Dit was tyd vir ’n vakansie, en Martha, haar ma en broer Alfred het op Key West in Florida besluit. Dis daar, in die nou bekende Sloppy Joe’s-kroeg, dat Martha “’n groot, vuil man met ’n ietwat slordige wit broek en hemp” ontmoet het: Ernest Hemingway. Hy is beskou as die grootste skrywer van sy tyd, én hy het ’n oog vir mooi, jong, slim vroue gehad. Hy was wel getroud met sy tweede vrou, Pauline, maar hy en Martha het dadelik van mekaar gehou. Sy was ’n groot bewonderaar van sy werk, en hulle het ure lank oor politiek, oorlog en boeke gesels. Die Spaanse Burgeroorlog was in volle gang, en Martha was desperaat om te gaan. Onder groeiende gissings in die literêre kringe dat hulle ’n verhouding het (al het hulle nog nie), het hulle planne gemaak om Europa toe te gaan. Hemingway het nie met geld of akkreditasie gesukkel nie, maar sy moes ’n artikel aan Vogue verkoop om vir haar bootkaartjie te betaal. Die artikel het oor die skoonheidsprobleme van die middeljarige vrou gehandel en die sewe en twintigjarige Martha moes ’n primitiewe chemiese skraap kry. “Dit het my vel geruïneer,” het sy later vir ’n vriendin geskryf, “maar dit het my in Spanje gekry.”
Sy het die volgende paar jaar in Europa deurgebring en al agter konflik aan getrek – van Spanje tot Tsjeggo-Slowakye en Finland.
Maar ’n liefde was aan die broei. In 1940 het sy Hemingway se derde vrou geword, en al was die eerste paar jaar van hul verhouding gelukkig, was sy nooit eintlik fisiek aangetrokke tot hom nie. Hulle het in Kuba nesgeskop. Hemingway het haar leer skiet en visvang, maar die pasgetroudes het meestal aan hulle onderskeie boeke gewerk – en op mekaar se senuwees. Albei was vurige mense en die vonke het gereeld gespat.
Martha – wat nie kon stilsit terwyl daar êrens iemand is wat swaarkry nie – het rusteloos geword. Europa was in oorlog gedompel, Amerika is betrek, en sy was nie daar nie. “Ek wonder heeltyd watter soort wêreld hieruit gaan kom,” het sy vir Eleanor Roosevelt geskryf. Haar woorde was profeties: “Die groot misdaad wat die Nazi’s ontwerp het, is om die wêreld met haat te vul, want die haat gaan bly soos ’n infeksie in die bloed, selfs ná die slagting verby is.”
Ná menige rusie met Hemingway oor die oorlog (hy wou bly en sy wou gaan), het sy tog haar ou kontakte by Collier’s-tydskrif opgesoek en media-akkreditasie gekry. In 1943 is sy sonder Hemingway Europa toe.
Londen was ’n ander stad as die een wat sy laas in 1938 gesien het. Bomme het die stad in puin gelê, en dit was byna onmoontlik om goed soos koeverte of ’n tandeborsel te kry. Die weermag het dit ook vir korrespondente moeilik gemaak om rond te beweeg, maar Martha was dolgelukkig om deel van die aksie te wees.
’n Deel van haar behoefte om oorlog toe te gaan, was om aan haar beklemmende huwelik te ontvlug. Tog het sy Hemingway gemis en hom gevra om hom by haar aan te sluit. Hy kon akkreditasie by enige koerant of tydskrif kry, maar hy het Collier’s gekies – en Martha ontneem van haar status as amptelike korrespondent. Sy het haar nie daardeur laat afskrik nie, en deur pure vindingrykheid steeds beter stories as hy gekry. D-Dag het sy haar op ’n hospitaalskip versteek, en as ’n draagbaardraer op die strand geland. Sy is betrap en teruggestuur Engeland toe, maar dit het haar steeds nie gekeer nie. Sy het alleen deur Europa gereis, en wye draaie om hoë offisiere geloop (wat haar kon deporteer). Pleks van die amptelike roetes te volg, het sy met die jong soldate gesels, en oor die oorlog soos deur hul oë gesien, berig.
Met die bevryding van die Dachau-konsentrasiekamp was sy die eerste joernalis wat deur die hekke gestap het – ’n ervaring wat haar geskud het. “Die geraamtes sit in die son en krap die luise van hulle af. Hulle het nie ouderdom of gesigte nie; hulle lyk almal dieselfde en soos niks wat jy ooit sal sien as jy gelukkig is nie.”
Sy was vinnig besig om ’n reputasie te ontwikkel vir haar onverskrokkenheid en ’n eerlike oog, maar in teenstelling met haar professionele sukses, was haar persoonlike lewe besig om uitmekaar te val. Haar huwelik het nie die toets van oorlog en wedersydse kompetisie deurstaan nie, en sy en Hemingway is in 1944 geskei. Sy is die eerste en enigste vrou wat hom ooit verlaat het. Jare later het hy vir sy uitgewer geskryf: “Het ’n nuwe bediende met die naam Martha en dit is ’n plesier om haar bevele te gee. Martha, wel, was ’n pragtige meisie. Ek wens net sy was nie so ambisieus en oorlogmal nie.” Ná die oorlog het Martha nog gereis en uiteindelik in 1948 in Mexico gaan bly. In haar vyf jaar daar het sy The Wine of Astonishment geskryf, ’n redelik morbiede storie oor oorlog. Resensies was gunstig, maar dit was steeds nie ’n topverkoper nie. Sy was moeg vir oorlog, en moeg vir die mensdom. “Ek wil langs ’n swembad lê en net droom van mooi goed soos sjokolade-sundaes.” Sy was veertig, en het besluit dat wat sy die meeste begeer nie ’n sundae is nie, maar ’n kind: “Dis wat ’n mens nodig het: iemand wat al die liefde kan neem wat jy kan gee.” Haar soektog het haar na Italië geneem waar sy halsoorkop verlief geraak het op ’n “blonde vettie”, ’n 14-maande oue oorlogswesie. Ná ’n moeilike en uitgerekte aanneming is sy en Sandy, soos sy hom genoem het, Amerika toe. Die vlug was hel. “Om met ’n baba te vlieg, is moeiliker as om oor die Russiese inval in Finland te skryf,” het sy droogweg opgemerk.
Tipies Martha het die drang om te reis en te skryf nooit verdwyn nie. Haar toegewydheid aan en verontwaardiging oor oorlog het haar aangevuur, en sy het oor al die groot konflikte van die twintigste eeu verslag gedoen. Haar artikels uit Viëtnam het Amerika geskok – niemand voor haar het geskryf oor die burgerlikes se lyding nie. Haar artikels is eers onderdruk, en die Amerikaanse weermag het haar uit Viëtnam geskop. Maar sy het nie stilgebly nie – die wêreld moes weet wat aangaan. Sy was tot haar dood ’n hardnekkige kampvegter vir alle verdruktes.
In 1998, op die ouderdom van 89, het sy selfmoord gepleeg deur ’n oordosis pille te drink. Sy het gevoel haar tyd was verby, dat sy haar lewe geleef het soos sy wou. Soos sy dit opgesom het: “Ek wil nie goed wees nie. My idee van goed is wat armsalige mense is. Ek wil hel op wiele wees, of dood. Net ’n dwaas sal verkies om pynlik en gevaarlik ongelukkig te wees, eerder as verveeld: en ek is so ’n dwaas.”
Bronne: http://iml.jou.ufl.edu/projects/Fall98/Bleichwehl/default.htm
http://www.kirjasto.sci.fi/gellhorn.htm
http://www.salon.com/media/1998/03/12media2.html
Martha Gellhorn: A Life. Caroline Moorehead. Uitgegee deur Vintage, 2004.
MSI is opgewonde om ons eksklusiewe vakansieverkope aan te kondig, wat van 10 Desember tot…
Die lewe is te kort om al jou eie foute te maak. Leer by ander…
Los jy jou potjies se deksels oop of staan jou skoonheidsprodukte in die son? Dan…
Maak hierdie maklike gemmerbier - dit bevat nie gis nie! Dis die heerlikste afkoel-drankie.
Vonkelwyn is ryk aan geskiedenis Die tradisie om met vonkelwyn iets te vier word histories…
Met hierdie wenke sal jy soggens die spreekwoordelike gousblom eerder as die molshoop wees, al…
Hierdie webwerf gebruik koekies.