Deur AJ Opperman
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }Madeleine van Biljon het ’n kussing besit waarop die woord “nee” 14 keer geborduur is. Haar suster Rouxline (sus Polla) het dit vir haar gemaak. Behalwe dat dit verklap dat sy stellig moeilik “nee” gesê het, dui dit op die vele dinge wat sy aangepak het en wat sy in haar skryfstukke as joernalis, rubriekskrywer en resensent verwoord het.
Sy kon uitbundig lag en was lief vir kuns en die woord. Onthaler en vriendin.
Vir Van Biljon was die joernalistiek ’n groot liefde. Sy was meer as ’n halfeeu in die bedryf.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }Ook was sy in 1983 en 1984 die president van die Kaapstadse Persklub, en sy het jare lank rubrieke en sketse vir talle publikasies geskryf, asook ’n kosrubriek in die Sunday Times. Die rubriek met die fiktiewe helper, Miranda.
Terselfdertyd was sy sekerlik een van die bekendste lesers in die land. Dit kan jy aflei uit Boeksusters wat sy en haar suster Cecile Cilliers in die beginjare van kykNET aangebied het. Ook met die bundel opstelle Geliefde Leesgoed wat in 1996 by Queillerie verskyn het. In dié bundel het sy oor verskillende skrywers se werk per hoofstuk geskryf. Onder andere Rachelle Greeff, Rykie van Reenen, D.J. Opperman, Petra Müller en ook haar dogter, Nettie Pikeur (haar skuilnaam as kosskrywer). Die skrywersname in die bundel het wyer gestrek: Jesaja (uit die Bybel) en Petronella van Heerden, die eerste vroulike mediese dokter in Suid-Afrika, se twee biografieë Kerssnuitsels en Die Sestiende Koppie. Van Heerden het albei vir haar geteken. Van Heerden was ’n vreugde in haar lewe. “Nan” het hulle haar genoem.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }Verder kon mense wat haar geken het haar leeswêreld gou waarneem. Stapels boeke was langs haar bed. Maar poësie was “not my line of country”, volgens ’n rubriek deur die joernalis Martie Retief-Meiring in “Van Alle Kante” in Die Burger met haar afsterwe in 2010.
Sy was Madeleine, Maad, soos geliefde vriende haar genoem het. En sy het volksbesit geword.
Sy is op 14 Mei 1928 op Lichtenburg gebore as Madeleine Leonore Pretorius, eersteling van Abraham Johannes (Bram) Pretorius, ’n landdros, en Madeleine Roux, ’n onderwyser. Nicholaas (Niek), die enigste seun, is tweede gebore, toe Cecile (wat ook ’n rubriekskrywer en resensent sou word) en toe Rouxline, na wie die sibbe as sus Polla verwys.
Van Biljon se ma is in 1952 oorlede. Haar pa het weer getrou en stiefpa van twee kinders geword.
Die gesin het vanweë haar pa se werk baie verhuis. Ná Lichtenburg was die gesin se adres Kaapstad, toe die Paarl, later Johannesburg, Bethal en Montagu, waar Van Biljon in 1945 gematrikuleer het.
Voordat sy op 1 Maart 1948 by die destydse Die Vaderland haar loopbaan in die joernalistiek sou begin (sy het gesê sy skrik as mense haar ’n skrywer noem), het sy eers ’n ander loopbaandraai gemaak.
’n Rigting in die verpleegkunde was ’n aanbeveling deur haar pa wat geglo het die joernalistieke beroep behoort nie in ’n vrou se visier te wees nie. Blykbaar het ’n sportverslaggewer hom vertel daar is nie plek vir vroue in die joernalistiek nie. Haar pa stel toe verpleegkunde voor. So het sy ’n leerlingverpleegster by die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad geword. “Ek het probeer. Dit was ’n volslae ramp,” het sy later gesê.
Die kortgeknipte verpleegloopbaan ten spyt het sy ’n besondere verhouding met haar pa gehad. Haar tweetaligheid was ook aan haar pa te danke. Volgens haar broer, Niek, het haar pa aan die Sondagetenstafel op Engels aangedring.
Van Biljon het ook in Sandra op ’n drafstap op kykNET vir die aktrise Sandra Prinsloo vertel haar pa was van mening dat jy die taal van die oorwinnaar beter as die oorwinnaar moet kan praat. Maar Van Biljon het gemeen sy praat met ’n aksent. Sy was ook ’n vertaler wat skrywers soos Marita van der Vyver, Deon Meyer en Margaret Bakkes se werk in Engels vertaal het.
Haar verhouding met haar pa het ook plek in haar skryfwerk gevind. In einste Geliefde Leesgoed se opstel oor Jesaja onthou sy haar pa se begeerte dat sy Jesaja as voorgeskrewe werk in matriek moes hê. “Hy kon so oorstelp raak deur: ‘En die gloeiende grond sal ’n waterplas word, en die dorsland fonteine van water; in die plek van die jakkalse waar hulle gelê en rus het, is gras met riete en biesies.’ Die liefde vir Jesaja is aan my oorgedra en ek raak net soos Pa meegevoer deur die taal en die name wat van die tong rol soos klinkende simbale: Karno, Karkemis, Arpad, Hamat, Samaria, Damaskus; name wat ek lees en gebruik om die hart te stil, soos gladde kommerkrale wat deur jou vingers gly.”
In die lees van Jesaja lê ook ironie. In 1998 het ’n debakel ontstaan toe Van Biljon in Finesse, ’n geestelike tydskrif, verduidelik het hoekom sy nie kan glo nie. Sy het haar geloofsgevoel vergelyk met ’n vriendin se antwoordmasjien: “Dit is nie dat ek nie wil nie, dis omdat ek nie kan nie.”
Sy het nie die moontlikheid van die bestaan van ’n Opperwese uitgesluit nie. “(M)aar glo? Ek vrees van nee.” Sy het verder geskryf: “Maar met die verloop van die jare en nou in my oudag, het my geloof stadig maar seker gekwyn, aangehelp deur ’n rasionele verstand en ’n besondere wye leeservaring wat ander gelowe aan my voorgestel het en ooreenkomste aangewys het tussen bykans almal.” Die dood van Jesus aan die kruis het haar mening verder geneem. Sy het gevra hoe ’n liefdevolle vader dít aan sy kind kan doen.
Dié agterbladrubriek het daartoe gelei dat Van Biljon ’n prys verloor het. Die ATKV Dames het haar in 1998 vereer met ’n Spesiale Toekenning vir haar bydrae tot die Suid-Afrikaanse gemeenskap. Met die lees van die Finesse-rubriek is ’n herrie ontketen en haar prys is uiteindelik teruggetrek. Omdat sy nie ’n Christen is nie.
In die onderhoud met Prinsloo op Sandra op ’n drafstap sou Van Biljon weer verwys na haar probleem met die begrip “in sonde ontvang en gebore”.
Die ATKV het ’n openbare verskoning aan haar gerig, in reaksie op die ATKV Dames se besluit.
In 1998 het Van Biljon aan Beeld gesê: “Ag nee, nee, nee, die hele ding met die ATKV het ek klaar van my af weggegooi. Ek sê jou mos, met die water wat verby is, sal die meul nooit weer maal nie. No, it is in the past, my dear. Ek is nie een wat rondloop met die vae hoop in my dat dinge anders kan wees nie.”
Van Biljon het haar lewe gelééf. Sy is in 1951 met dr Pieter van Biljon getroud, voormalige redakteur van die SA Mediese Tydskrif (SAMT) en bekende in mediese en joernalistieke kringe in Suid-Afrika. Die egpaar het vier kinders gehad. Madeleine (later die kosskrywer Nettie Pikeur), Mapula Swanepoel (ook ’n bekende in koskringe), Pierre-Jacques en Willem. Pieter is in 1988 oorlede. In daardie stadium het die egpaar in Oranjezicht, Kaapstad, gewoon. Sy het haar seun Pierre-Jacques (Kiep, soos sy hom genoem het) ook aan die dood afgestaan.
Behalwe die drukmedia (sy was vroueredakteur by Die Vaderland) was sy ook op die radio. Baie van haar rubrieke is in Vrouerubriek uitgesaai. Haar eerste bundel rubrieke Mevrou, Jy’s Lastig, het in 1967 verskyn. Daarna het daar Kwellings en Kwinkslae (1974) gevolg, Merely Madeleine (1975) en Afdraai na Bedroef (1996). Laasgenoemde was ’n bloemlesing van haar rubriek in Rapport “Skuins voor Maandag”. Die skryf van boekresensies het sy as “baie gesellig” bestempel.
As ouma is Van Biljon se bibliografie ook geraak. Boeke soos Hier is ons Huis (1990), Eduard kuier by Ouma (1992) en Madeleine van Biljon se Ouma-boek (1997) het ook verskyn. Sy het ses kleinseuns gehad.
Sy is op 23 Februarie 2010 op 81 oorlede. Al haar kinders was by haar.
Cilliers se telefoon het die volgende dag baie gelui. Met haar suster se afsterwe het Cilliers haar só onthou: “Ek het haar haar geheue beny – wyd belese, het sy selde die titel, outeur of inhoud van ’n boek vergeet. Sy het styl gehad, styl én flair. Sy kon lekker kook, en het met outoriteit oor kos en kokke gepraat. Soos oor die meeste ander dinge – soms tot die sibbe se ergernis.”
Die laaste paar jaar van haar lewe het sy in die Murambihuis in Wynberg gewoon. Wat sy die graagste wou behou het, kon sy. Onder meer sommige meubelstukke en talle boeke. En die kookboeke. Die leeslus wat sy enduit kon voed.
Die leesliefde en haar laaste tuiste laat jou dink aan die slotparagraaf in een van haar rubrieke getiteld “Laaiplek” wat in Kwellings en Kwinkslae opgeneem is: “Maar in mý huis op Laaiplek waar die koffie op die koolstoof kook en daar blou en wit koppies onder ’n wit doek op die kombuistafel staan, is daar die troos en die vrede. En julle moet ophou met my sukkel. Kort voor lank het ek my goed gepak en op Laaiplek gaan woon.”
Bronne: “Die Burger”: 22 Oktober 1996; 11 Mei 1998; 25 Februarie 2010; 4 Maart 2010. “Beeld” 16 Mei 1998. kykNET. Terblanche, Erika. “ATKV Skrywersalbum” 12 Augustus 2010. Van Biljon, M. “Geliefde Leesgoed”. Queillerie. 1996. Van Biljon, M. “Kwellings en Kwinkslae”. Tafelberg. 1974. “Finesse”. Mei 1998. Bykomende inligting Mapula Swanepoel.
Kan my kat of hond ook Alzheimersiekte kry? Dis wat jy moet weet oor "canine…
Sodra jy dink jy het al die voorskrifte onder die knie, hoor jy daar is…
Het jy geweet jou baba of peuter moet letterlik leer om sintuiglike inligting te filtreer…
Genoeg vir 6 Bestanddele 625 ml (2½ k) tee-en-vrugtesap 30 ml (2 e) gelatienpoeier…
Buiten vir sy uitsonderlike talent as musikant en liedjieskrywer, is Len Muller ook bekend as…
Hierdie webwerf gebruik koekies.