Deur Regina Malan
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }Juliet Armstrong, gevierde keramiekkunstenaar en professor in die Kunstedepartement aan die Universiteit van KwaZulu-Natal (UKZN), se onkonvensionele en kleurryke persoonlikheid is ná haar dood deur haar nabymense eerbiedig. In ’n omsendbrief aan personeel en studente aan die universiteit word kennis gegee van ’n feestelike herdenkingswaak in haar geliefde tuin in Pietermaritzburg waar sy gewoon het. Dit sou die vorm aanneem van “a good meal with wine and song, tributes and memories …” En dan word almal gemaan: “Dress flamboyantly.”
Juliet sou vir seker haar goedkeuring met ’n knipoog bevestig het. Haar dogter, Jessica Hart, vertel dat haar ma dol was op ’n lekker kuier – eers almal saam in die kombuis aan die groente kap en roer. Baie rooiwyn, lag en gesels en debatteer …
“Niemand kon onthaal soos sy nie. Wanneer my ma die spyskaart saamgestel het, kon jy jou klaarmaak om goed te eet waarvan jy nooit eens sou kon droom nie.”
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }’n Jare lange vriend David Walters, ook ’n meesterkeramiekkunstenaar, getuig van haar meelewendheid en gewildheid. “Sy het altyd gegee – haar tyd, haar meelewing en haar ervaring as kunstenaar. Op haar begrafnis het meer as vierhonderd mense ná die diens opgedaag om tee te drink. Party van hulle was eerstejaarstudente wat haar nog net ’n paar maande geken het, maar elkeen kon ’n storie vertel van wat Juliet hulle geleer het en watter invloed sy op hulle gehad het.”
Dit beteken nie dat Juliet se erflating net in haar gesellige geaardheid en stofskop in die rigting van konformisme lê nie. Sy was ’n produktiewe Suid-Afrikaanse keramiekkunstenaar wat baanbrekerswerk in dié veld gedoen het. As kunstenaar en dosent was haar bydrae tot die keramiekgeskiedenis, -teorie en veral -praktyk enorm. Ná haar dood is ’n belangrike retrospektiewe uitstalling van haar werk in die Tatham-galery in Pietermaritzburg gehou.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }Wie was dié wêreldwyd erkende keramis? Juliet Yvonne Armstrong is op 8 Februarie 1950 in Durban gebore en is ná ’n kankersiekbed op 22 Augustus 2012 in Pietermaritzburg oorlede. David Walters het soms by Juliet gekuier toe sy as jongmens nog by haar ouers gewoon het. “Dit was nogal ’n deftige huis met ’n wonderlike tuin,” onthou hy. Hy en Peter Schutz, ’n beeldhouer wat ook reeds oorlede is, het soms in die nag by die tuin ingesluip en arms vol anthuriumlelies gesteel om aan meisies uit te deel.
Pas klaar met universiteit waar sy in 1972 ’n BA-graad in beeldende kuns aan die destydse Universiteit van Natal verwerf het, is Juliet oorsee waar sy haar lewe op haar kenmerkende, nie-konformerende manier begin leef het. Sy het ’n nagraadse diploma in glasblasery en industriële keramiekwerk aan die politegniese kollege in Leicester, Engeland, verwerf.
Voor sy haar loopbaan as kunstenaar en dosent met mening aangepak het, het sy in Duitsland as au pair vir die beroemde Porsche-familie gewerk en Amerika platgereis. Reis sou altyd een van haar groot liefdes bly. Van 1977 tot met haar dood in 2012 het sy aan die Universiteit van KwaZulu-Natal klasgegee. In 1986 is sy as senior lektor in die Departement Kuns op die Pietermaritzburg-kampus aangestel, en in 1999 het sy ’n professoraat in die departement aanvaar.
In die vroeë jare sewentig was die Suid-Afrikaaanse pottebakkerskuns nog taamlik in sy kinderskoene. Die plaaslike kunstenaars het nog in ’n tradisionele, Anglo-Oosterse styl gewerk. Juliet het onmiddellik ’n vars, moderne bries in die Suid-Afrikaanse kuns geblaas. Ná haar twee jaar lange studie in nywerheidsontwerp het sy ’n veel meer kontemporêre blik op ontwerp gehad en ook ’n groter fokus op die bruikbaarheid van keramiek. David Walters sê haar werk was ook veel meer kontemplatief as waaraan hulle gewoond was.
Nadenke is ’n wesenseienskap van goeie kuns. Keramiekwerk het nog altyd tot ’n meningsverskil gelei: wanneer is dit blote handwerk (craft) en wanneer is dit kuns? Frank Jolles, ’n erenavorsingsgenoot aan UKZN, wys daarop dat handwerk dikwels ’n bietjie geminag word omdat dit kwansuis weinig intellektuele inspanning verg. Goeie kuns, daarteenoor, gaan oor ’n uitdrukking van die meer ontasbare aspekte van die lewe. Deesdae word dit wel aanvaar dat produkte wat vroeër as blote handwerk afgemaak sou word, ook aan dieper, subtieler aspekte van menswees uitdrukking kan gee.
Juliet se kuns het op albei bakkies van hierdie weegskaal gepas. Sy het baie nagedink en navorsing oor ontwerp en materiale gedoen. Sy was bewus van die tradisionele keramiekbeginsels waarop haar eie werk berus het, maar sy het ook in die maak van bruikbare potte die kuns raakgesien. Haar werk saam met van die bekendste Zoeloe-vroue wat kunstige bierkleipotte (utshwala-potte) gemaak het, is een van haar grootste nalatenskappe.
Sy het onder die gemeenskappe in Noord-Natal gewerk, veral saam met die Magwaza-familie onder wie Buzephi en Shongaziphi Magwaza belangrike pottebakkers was, en met vroue uit die Nala-dinastie. Sy het hierdie pottebakkers op die wêreldkaart geplaas en volgens professor Terence King die vitaliteit van hul werk bevestig. Deur haar toewyding is gewys hierdie tradisionele kleipotte wat nie op ’n wiel gedraai word nie, maar met kleirolle opgebou word, is nie bloot ’n oorblyfsel uit ’n oudmodiese tradisie nie, maar kunstige houers wat individuele en gemeenskapswaardes, asook kreatiwiteit vergestalt.
Haar dogter, Janet, vertel ook: “Haar hele fokus was op die vrouepottebakkers van KwaZulu-Natal. Elke dag het dosyne foonoproepe en sms-boodskappe heen en weer gevlieg. Sy was betrokke by die fynste detail van hierdie vroue se lewe. Ons het haar dikwels aangemoedig om meer tyd vir haarself te maak, ’n bietjie terug te tree van haar oorgawe aan hierdie vroue en ook aan haar studente, maar sy wou nie.” In die proses is Juliet toegelaat om deel te neem aan rituele rondom die maak van hierdie potte waartoe buitestanders normaalweg glad nie toegang het nie.
Met haar eie werk het Juliet vernuwing gebring en as ’t ware haar meer “tradisionele” kollegas toestemming gegee om met hulle kuns te eksperimenteer. “Sy het ons geleer om rondom ons en vorentoe te kyk pleks van aanhoudend terug,” sê David Walters.
Sy het onder meer potloodsketse, houtsneewerk en fotografie beoefen, maar haar grootste kunsbydrae is haar werk met beenporselein, ’n “aaklige medium”, soos Ian Calder dit stel, en een wat geweldige presisie van die kunstenaar verg. Sy was gefassineer deur porselein en was jare lank die enigste Suid-Afrikaanse kunstenaar wat in dié medium gewerk het. Haar fassinasie het gelei tot haar wye navorsing oor die gebruik daarvan as ’n medium vir beeldhouwerk. Sy het dit reggekry om ’n metode te ontwikkel waardeur die waterinhoud van porselein verminder kon word om sodoende ’n buitengewoon harde deursigtige wit medium te verkry.
Haar porseleinwerk uit veral die sewentiger- en tagtigerjare oorweldig jou as waarnemer en waardeerder van haar kuns. Daar is ’n byna asemlose delikaatheid en suiwerheid in die fyn, soms deursigtige houers wat op ’n bedding van gegote staal of dalk op koraal nestel. Altyddeur werk sy met die konsep van ’n houer. ’n Houer of bak of pot is ’n praktiese nutsvoorwerp, maar terselfdertyd straal haar onontkenbare kunssinnigheid uit haar werk en verkry die werk ook simboliese eienskappe.
Teen die bekrompenheid van Suid-Afrikaanse keramiekkuns in die sewentigs en tagtigs in het Juliet ook vroulike borsvorms in porselein gegiet, met dieselfde delikate verruklikheid as resultaat. Een van haar werke is ’n vorm van haar eie bors.
Selfs met klein brokkies porselein skep sy kuns. ’n Voorbeeld is haar reuse-werk “Izimpukane obisini” (Vlieë in die melk) wat op ’n Nguni-beesvel gemodelleer is. Die hangende kunswerk bestaan uit meer as seshonderd brokkies porselein wat met staalkabels en penne aanmekaar vasgemaak is. Volgens Matthew Partridge is die oppervlak daarvan deursigtig vanweë been-as wat by die mengsel gevoeg is en die beweging en weerkaatsings van die porseleinstukkies het die effek van flikkerende lig. ’n Paar van die teëltjies is met donker kolle bespat om die kolle op die beesvel na te boots. Met haar kennis en belangstelling in die Zoeloekultuur het Armstrong ook in dié kunswerk ’n Zoeloe-verwante simboliek bewerkstellig. Omdat beeste volgens die tradisie aan die voorouers behoort, word die velle gesien as middele van goddelike beskerming. Hierdie “beesvel”-kunswerk het Juliet geskep as ’n simbolies beskermende bedekking vir haar oorlede ma.
As dosent het Juliet se hartstog vir haar vakgebied baie studente aangelok. Een vertel hoe sy op die trappe buite die departement sou sit en rook en elkeen wat net die geringste belangstelling in keramiekwerk toon, sou aanmoedig om haar lesings by te woon. Een van haar “suksesverhale” as dosent is die kunstenaar Fee Halsted wat die uitsonderlike en wêreldbekende Ardmore-keramiekreeks, met die uitbundige byvoegsels van Afrika-figure op meer tradisionele keramiekhouers, ontwikkel het. Halsted het nie beplan om keramiekwerk te bestudeer nie en wou op skilderwerk fokus, maar Juliet het haar aangemoedig om ’n tweejarige nagraadse diploma in keramiek te doen.
Houers, groot en klein, het Juliet gefassineer. Op haar “emmer-lys” vir reise na veraf plekke wat sy nog wou onderneem, was ’n besoek aan die geheimsinnige Vlakte van ’n Duisend Kruike in Laos. Groepe van tot driehonderd reuse-kruike van klip, van een tot drie meter hoog, kom oral op dié vlakte voor. Opgrawings het gewys dat dit waarskynlik begrafnisruimtes uit die Brons- en Ystertydperk is. Die houers is dus meer as tweeduisend jaar oud.
Hier, by die Vlakte van ’n Duisend Kruike, het Juliet se dogter, Janet, haar ma se as kom strooi. “Hierdie enorme houers lyk asof hulle deur reuse daar neergegooi is tydens ’n heerlike partytjie. My ma sou mal gewees het daaroor. Sy was so lief vir ’n lekker partytjie. Ek het voor sonsopkoms gekom, ’n koppie uitgeklim, ’n bietjie geteken, met my ma gepraat en toe haar as oor die vallei uitgestrooi. Dit het reg gevoel en sy was so naby … ”
Bronne Partridge, Matthew: Careful thought sets Juliet Armstrong’s ceramic sculptures apart, Business Day, 26 Jun. 2014; Sinkins, Estelle: The Legacy Left Behind, The Witness, 8 Mei 2014; Pure Alchemy: http://news.artsmart.co.za; Jolles, Frank: Zulu Ceramics in Transition, www.sahumanities.org/ojs/index.php/SAH/article/viewFile/309/295; King, Terence: Restraint and Richness in the Ceramic Work of Juliet Armstrong, www.natalia.org.za (Natalia 43, 2013); KwaZulu Natal Society of Arts: Juliet Armstrong 1950–2012, www.kznsagallery.co.za/news/2012/august/juliet_armstrong
MSI is opgewonde om ons eksklusiewe vakansieverkope aan te kondig, wat van 10 Desember tot…
Die lewe is te kort om al jou eie foute te maak. Leer by ander…
Los jy jou potjies se deksels oop of staan jou skoonheidsprodukte in die son? Dan…
Maak hierdie maklike gemmerbier - dit bevat nie gis nie! Dis die heerlikste afkoel-drankie.
Vonkelwyn is ryk aan geskiedenis Die tradisie om met vonkelwyn iets te vier word histories…
Met hierdie wenke sal jy soggens die spreekwoordelike gousblom eerder as die molshoop wees, al…
Hierdie webwerf gebruik koekies.