Beeld van ’n vrou: Joan Rivers deur Mariëtte Crafford
As die eerste vrou wat ’n laataand-program op ’n hooftelevisie-netwerk aangebied het, was Joan Rivers ’n baanbreker – en ’n draaksteker. Met haar vurige gees en hoëhak-ontwerperskoene het sy diep spore getrap waar engele ligvoets loop.
Dit was met haar heengaan op 4 September 2014, byna drie maande ná haar 81ste verjaardag, dat die wêreld bestek opgeneem het van Joan Rivers en haar aanskoulike loopbaan wat oor 55 jaar gestrek het.
Tot ’n paar dae voor haar dood het sy nog in die kollig gestaan as komediant, televisie-aanbieder, vervaardiger, skrywer en aktrise.
Al het lofredes oor haar nadat sy dood is in byna elke publikasie verskyn, heers allerweë ’n gevoel dat sy nie in haar leeftyd die erkenning gekry het wat haar toegekom het nie. Sy was ’n sonderlinge komediant en ’n rolmodel vir talle ander, maar is dikwels oor die hoof gesien.
Tot aan die einde het baie mense haar begaafdheid misgekyk en haar net gesien as “’n bejaarde frats met ’n plastiekgesig wie se rakleeftyd verstryk het”. Feministe het haar oor haar veelvuldige verjongingsoperasies gekritiseer.
Trou aan haar eerlikheid en selfbespottende aanslag het sy saamgespot. “Ek het soveel plastiese snykundige operasies ondergaan, dat my liggaam aan Tupperware geskenk moet word wanneer ek doodgaan.”
Maar haar nalatenskap is allesbehalwe plastiek van aard. Met haar ysere wil, titaansterk persoonlikheid en hart van goud, kan jy haar eerder op die periodieke tabel onder die edelmetale gaan plaas. Sy was die onteenseglike eietydse “koningin van komedie”.
Haar optredes oor meer as vyf dekades op wêreldverhoë en televisie as eiesoortige komediant en satirikus wat skromeloos taboes getakel het en in die donkerste situasie iets lagwekkends raakgesien het, het haar die aansien van “’n legende”, “’n komedie-ikoon” en “baanbreker” besorg. Maar terselfdertyd is sy ook – juis vanweë haar onverdoeselde eerlikheid en onverdunde sosiale kommentaar – as “’n bitterbek” en “ketter” uitgekryt en op die brandstapel gesmyt.
Die loopbaan wat sy gekies het – skreeusnaaks soos wat sy as satirikus-komediant was – was nie ’n grap nie.
“Dis so ’n wrede bedryf,” het sy in die dokumentêre rolprent oor haar lewe, Joan Rivers: A Piece of Work, gesê. “Maar ek het nie ’n keuse nie.” Sy wou ’n vermaaklikheidskunstenaar word vandat sy kon onthou.
Met verbete toewyding het Joan Rivers wat as Joan Alexandra Molinsky op 8 Junie 1933 in die New Yorkse voorstad Brooklyn, as die tweede dogter van Russies-Joodse immigrante gebore is, haar drome agternagesit. Haar pa, Meyer C. Molinsky, was ’n dokter en haar ma, Beatrice, was (volgens Joan se beskrywing) “’n moeder” van beroep.
Nadat sy van 1950 tot 1952 aan Connecticut College studeer het, het sy in 1954 ’n BA-graad met Engelse letterkunde en antropologie as hoofvakke aan Barnard College behaal.
Sy was in 1955 vir ses maande met James Sanger getroud en het onder meer as ’n toergids, skrywer en proefleser en moderaadgewer gewerk. Op aanbeveling van haar agent Tony Rivers, het sy in dié tyd haar naam na Joan Rivers verander, en klein rolletjies in verhoogstukke begin vertolk. In die laat vyftigerjare het sy as ’n lesbiër teenoor ’n jong Barbra Streisand in ’n verhoogstuk Driftwood, opgetree.
Nadat sy ’n paar jaar lank in komedie-klubs opgetree het (onder meer onder die verhoognaam Pepper January), het sy ’n voorsmaak van televisie-optredes gekry toe sy ’n gas was op The Tonight Show waarvan Jack Paar tóé die gasheer was. Toe sy op 17 Februarie 1965 weer as gas op The Tonight Show opgetree het, was Johnny Carson die gasheer. Daardie aand het hy voorspel dat sy ’n ster sou word. Nie lank daarna nie is sy op 15 Julie 1965 met Edgar Rosenberg, wat ook haar bestuurder was, getroud. Hul dogter (Joan se enigste kind), Melissa, is op 20 Januarie 1968 gebore.
Dit was meer as twintig jaar en tallose optredes as aktrise en komediant later – sy het in dié tyd ook as skrywer haar debuut gemaak – dat Carson se voorspelling bewaarheid is. In 1986 het sy geskiedenis gemaak deurdat sy as aanbieder van The Late Show Starring Joan Rivers, die eerste vrou geword het wat ’n laataandprogram op ’n hoof-televisienetwerk, Fox Television Network, aangebied het.
Skaars ’n jaar later is sy en Edgar (glo vanweë sy struwelinge met die kanaal) afgedank. Toe hy drie maande later selfmoord pleeg, was Joan ’n enkelouer, beroepsgewys uitsigloos en geldelik diep in die skuld. Sy het opnuut vir haar ’n staanplek begin oopveg deur grappe te maak en terselfdertyd soos ’n slaaf te werk.
Met haar heengaan het haar loopbaan wat oor ’n hand vol dekades gestrek het, haar sukses en oorlewingsvermoë as kunstenaar weerspieël: sy was in verskillende hoedanighede (as aanbieder, aktrise, stemkunstenaar, skrywer, vervaardiger en regisseur) betrokke by 27 rolprente, 43 televisieprogramme en -reekse en vyf teaterstukke. Daarby het sy twaalf boeke geskryf, en is sy vir twee Tony-, ’n Emmy- en twee Grammy-toekennings benoem waarvan sy die Grammy in 1984 as die beste aanbieder van ’n geselsprogram gewen het. Sy het ook in 1989 ’n ster in die Hollywood Walk of Fame gekry.
Maar Joan Rivers moes oor die hele bestek van haar loopbaan deurentyd haar pad na sukses en aansien blý oopveg. Dikwels het sy nederlae gely – soos toe sy ná ’n jaar as aanbieder van The Late Show afgedank is – en moes sy weer opstaan, die stof afskud en vorentoe beur.
In dié tye was dit haar drang om as vermaaklikheidskunstenaar suksesvol te wees, haar onuitputbare werkvermoë en haar verknogtheid aan humor wat haar deurgesien het en haar loopbaan dekades lank aan die gang gehou het.
Met verloop van tyd was sy nie net ’n suksesvolle individu nie – sy het ’n hele bedryf geword met sakebelange in onder meer juweliersware en uitgebreide liefdadigheidsprojekte as toegewyde Jood en filantroop. Daarby was sy ’n liefderyke ma vir haar dogter, Melissa, en haar kleinseun, Cooper.
Joan en Melissa het ook as kollegas saamgewerk in talle televisiereekse, waaronder Celebrity Apprentice 3 – wat Joan ook gewen het. Melissa was ook een van die vervaardigers van Fashion Police wat Joan aangebied het.
Om deurentyd vorentoe te gaan en ongekarteerde gebiede in te neem, was vir haar ’n bestaansrede. “Ek probeer altyd om die grense te verskuif en om hulle te laat luister. Om hulle na die waarheid te laat luister en om daaroor te lag.
“Ek het sukses behaal deur hardop te sê wat almal anders dink,” het sy haar aanslag verduidelik.
Deur die lewe uit te lag, het sy die erns en droefheid daarvan besweer. Hoe pynliker haar beproewing was, hoe ’n groter grap het sy daarvan gemaak. Toe haar eggenoot Edgar Rosenberg, in 1987 selfmoord pleeg, het sy gespot: “Ek het in werklikheid Edgar se selfmoord veroorsaak, want terwyl ons seks gehad het, het ek die sak van my kop af gehaal.”
Met dieselfde selfspot en eerlikheid waarmee sy haar eie bestaan bejeën het, het sy die samelewing gade geslaan en met konvensies gekgeskeer en heilige koeie met haar skerp tong afgeslag. Joan het sensitiewe onderwerpe aangeroer deur humor in te span.
Sy het die wêreld daarvan oortuig dat ’n vrou snaaks kan wees én haar vroulikheid kan behou. Sy was ’n baanbreker deurdat sy komedie as ’t ware “vervroulik” het.
“Joan het ’n fanatiese begeerte om sukses te behaal,” het haar agent Larry Thompson in 2010 by geleentheid gesê. Sy het deurentyd nuwe projekte uitgedink.
Haar vermoë om die tydgees te snap, was een van haar grootste gawes as komediant. Net so priemend en pittig soos wat sy aan die begin van haar loopbaan was, was sy tot aan die einde.
“Ek wil nie aftree nie,” het Joan in ’n dokumentêre program oor haar, A Piece of Work gesê. Dit was alombekend dat ’n leë dagboek vrees by haar ingeboesem het en dat ’n propvol-bespreekte dag ’n bron van groot geluk was.
Hoewel haar dagboek soms leeg en soms oorvol was, het Joan Rivers nooit afgetree nie. Sy het in ’n vol werkprogram tyd ingeruim vir ’n roetine keeloperasie en sodoende ’n afspraak met die dood gemaak. Op 28 Augustus het komplikasies tydens die operasie in ’n Yorkville-kliniek in Manhattan, ingetree. Haar hart het gaan staan. Sy is na die Mount Sinai Hospitaal oorgeplaas waar sy op 4 September gesterf het.
Volgens haar wens as toegewyde Jodin, is sy op 7 September 2014 uit die Emanu-El-tempel in Manhattan begrawe. Oor haar begrafnis het sy voorts voorgeskryf: “Ek wil nie hê ’n rabbi moet aanbabbel nie; ek wil hê Meryl Streep moet in vyf verskillende aksente huil.”
Die drama en die vermaak moes ná haar heengaan voortgaan.
Al is sy die “koningin van komedie” genoem, wou sy as ’n aktrise onthou word. “My toneelspel is my enigste heilige ding in my lewe. Jy kan sê ek is nie ’n goeie komediant nie – dit pla my nie. Maar as jy sê ek is nie ’n goeie akteur nie, maak dit my dóód,” het sy verklaar.
“Alles gaan oor toneelspel. My loopbaan is ’n akteursloopbaan. En ek vertolk die ról van ’n komediant.”
Dís wat dikwels mense van Joan Rivers verwar het – die gedaanteverwisseling as hofnar van die lewe. Met haar begrafnis het Howard Stern haar beskryf as “brassy in public (and)
classy in private … ”
Baie kritici het gedink sy is ’n wrede giftong. Maar al die tyd was sy besig om toneel te speel – met haar tong diep in haar kies. Die genialiteit van Joan Rivers was, soos met baie rare verskynsels, net dié beskore wat gereed was om haar te snap.
Bronne: “Diary of a Mad Diva” deur Joan Rivers, The Berkley Publishing Group en “Time”