Noem die naam Jackie Collins en kyk watter reaksie jy kry. Haar bewonderaars sal dadelik vra of sy iets nuuts geskryf het, en haar kritici sal so effe neusoptrekkerig reageer. Want wie lees nou Jackie Collins? Blykbaar almal behalwe ek, kom ek toe agter toe ek saam met sowat sestig genooide vroue in ’n Sandtonse radio-ateljee sit vir die opname van Jenny Crwys-Williams van 702 se onderhoud met Jackie.
Dit gons onder die vroue toe die elegante vrou met die oorgroot sonbril – darem met ligte lense – haar plek as ateljeegas inneem. Ooginfeksie weens ’n nuwe soort maskara, verduidelik sy die sonbril, en vra plegtig om verskoning. Sy is spesiaal in Suid-Afrika as gas van Jonathan Ball Publishers om haar 25ste boek, Drop Dead Beautiful, te kom bekend stel.
Aan kritiek, kom ek agter, steur sy haar min. Maar sy is ook daaroor stylvol – sy beweeg immers nie verniet in van die hoogste kringe in Hollywood nie. “Die grootste kritici van my boeke is mense wat nog nooit een gelees het nie,” sê sy droogweg.
En as jy hoor watter lofwaardige uitsprake daar deur die jare oor haar en haar werk gemaak is, verbaas dit jou nie dat sy skynbaar ’n veer voel as tant San van Koekenaap nie van haar boeke hou nie. Wyle Louis Malle, internasionaal bekroonde Franse rolprentregisseur bekend om sy soms skokkende, erotiese flieks, het Collins ’n “raunchy moralist” genoem. En wie sou nie daarvan hou om “die Victor Hugo van ons tyd” of “Hollywood se eie Marcel Proust” genoem te word nie?
Victor Hugo, wat in die 1800’s geleef en geskryf het, se werke bevat onvergeetlike sosiale kommentaar, en ’n verwerking van sy bekendste roman, Les Misérables, word steeds dikwels op die verhoë van die wêreld gesien. Proust se werk in sewe dele, In Search of Lost Time, ook bekend as Remembrance of Things Past, word beskou as van die grootste klassieke werke wat die twintigste eeu opgelewer het.
“Ek skryf stouterige boeke, ja, maar die onderliggende sedelike beginsels is goed,” skerm sy.
Sy skryf bloot oor die dinge waarvan sy weet. Dis immers nie elke tweede Britse tiener wat uit die skool geskop en Hollywood toe gestuur is om by haar ouer suster, ’n aspirerende aktrise, te gaan woon nie.
“Ek was regtig wild op skool. Ek het stokkies gedraai en sommer op die moltrein my skoolklere uitgepluk, gewone klere aangetrek en boonop nog self die siektebriefies vir die skool geskryf.”
Tot haar ouers – Elsa, ’n dansonderwyseres en gasvrou in ’n bekende nagklub, en Joseph, ’n vermaaklikheidsagent met kliënte soos Shirley Bassey, The Beatles en Tom Jones – die rebelse 15-jarige betrap het. (Jackie het toevallig Suid-Afrikaanse bande: haar Joodse pa is hier gebore.)
“My ouers het gesê hulle is keelvol vir al my moeilikheid, en ek moet kies tussen ’n verbeteringskool en Hollywood. Toe dink ek, ‘H’m, dit sal dan maar Hollywood moet wees,’” lag sy.
En soos die geluk dit wou hê, het sy skaars in Hollywood aangeland of ousus Joan gaan maak ’n rolprent op ’n ander plek. En die amper 16-jarige Jackie het ’n lieflike woonstel in Hollywood net vir haarself.
Sy het haar toe al as ’n werklose skrywer beskou, maar het tog probeer om rolletjies in prente te kry om die pot aan die kook te hou. Fotografiese modelwerk was ’n ander uitkoms, en iets wat amper haar dood kon beteken het.
“Ek het eenkeer vir iemand geposeer en toe ek ’n paar dae ná ‘n fotosessie terug is om na die foto’s te kyk, moes ek hoor die fotograaf is gearresteer. Hy was al die tyd ’n reeksmoordenaar.”
Haar boeke is vol Hollywood-karakters: aktrises, akteurs, regisseurs, deesdae selfs ’n rapper en ’n hip-hop-ster. Soms wil-wil ’n karakter jou aan ’n bekende herinner.
Maar natuurlik, vertel Collins, dis omdat sy haar karakters grond op regte, egte bekendes. “Ek is boesemvriende met Sidney Poitier en sy vrou, Johanna. Sy vertel vir my tonne stories. En ek hoor ook baie van die agter-die-skerms stories by motorbestuurders, grimeerkunstenaars en ander mense wat met die sterre te make het.
“Ek skryf oor regte mense, maar kamoefleer hulle so effens. Eintlik versag ek my karakters en hul kaperjolle heelwat – die goed wat werklik in Hollywood gebeur, is baie meer bisar,” lag sy.
Is sy nie bang sy word betrap nie?
“Ek het ’n teorie dat mense in Hollywood nie lees nie. Hulle lees Vanity Fair en beskou hulle op grond daarvan as hoogs geletterd. Ek dink ek kan eintlik oor enigiemand skryf sonder om betrap te word.”
Hoekom skryf sy so graag oor Hollywood? “Mense word geboei deur roem, mag en rykdom, en ek dink Hollywood is die een plek waar jy al drie saam kry.”
Sy kan ook nie verstaan hoekom mense kla dat haar boeke skokkend is nie. “Is dit omdat ek ’n vrou is wat oor seks en mans skryf? Een tydskrif het glads geskryf dat niemand beter oor seks op die agtersitplek van ’n Bentley kan skryf as ek nie.”
Sy is glad nie skaam om te sê dat sy haar nie juis as ’n literêre skrywer beskou nie. “Die belangrikste is dat ek mense na boekwinkels lok wat andersins nooit daar sou gewees het nie.
“Ek is ’n lid van die binnekring, maar kry dit reg om soos ’n buitestander daaroor te skryf. Ek wou nog nooit ’n literêre skrywer gewees het nie.”
Ondanks dié gebrek aan aspirasie, of dalk juis daarom, is die mooi vrou met die donker bos hare een van die wêreld se topverkoper-skrywers. Daar is al meer as 400 miljoen eksemplare van haar 25 boeke in 40 lande verkoop. ’n Yslike 22 van haar boeke was al op die New York Times se lys van topverkopers.
Sy het op skool al begin skryf – teen vergoeding nogal. Haar skoolmaats kon nie genoeg kry van haar vuurwarm liefdesverhale nie en het haar betaal om aan te hou skryf.
Haar eerste boek, The World is Full of Married Men (1968), het gou ’n internasionale topverkoper geword, waarskynlik vanweë die eksplisiete seks in die boek en ook omdat sy die talle dubbele standaarde wat mans en vroue geld, oopgevlek het.
Ongelukkig kon Suid-Afrikaanse lesers die boek eers veel, veel later te lese kry, want dis destyds in Suid-Afrika (en selfs in Australië) verbied weens die eksplisiete inhoud daarvan. Die Pienk Koningin van Romanse, Barbara Cartland, was uitgesproke in haar kritiek op Married Men: “It’s a nasty book, filthy and disgusting.” En boonop, het sy gekla, kon sy omtrent nie slaap nadat sy dit gelees het nie …
Op aansporing van haar tweede man, Oscar Lerman, eienaar van ’n kunsgalery en die Tramp-nagklub, het Collins bly skryf, en talle treffers het gevolg – almal volgens die suksesresep wat lis, lus, glans, roem en soms selfs geweld insluit: The Stud, Sinners, The Love Killers, The World is Full of Divorced Women, The Bitch, Lovers and Gamblers, Chances …
En toe kom die internasionale sensasie, Hollywood Wives, wat nie net die eerste plek op die New York Times se lys van topverkopers gehaal het nie, maar ook een van die gewildste TV-minireekse van ons tyd geword het.
Is daar nog “Hollywood wives” in die moderne Hollywood? “Ek dink hulle wil almal in die voorste ry wees. Sigbaar, met hoë profiele uit eie reg. Nie besig om teepartytjies te hou nie. Hulle skryf, regisseer, verfilm draaiboeke, alles in ’n poging om meer gelykheid vir hulself te bewerkstellig.”
Drie van haar boeke (The Stud, The World is Full of Married Men en The Bitch) is vir die groot skerm verfilm, en Jackie het selfs haar hand gewaag aan ’n oorspronklike rolprentdraaiboek, Yesterday’s Hero.
Hoe het die draaiboekskrywery gebeur?
“Aaron Spelling wou destyds Chances verfilm en in die TV-program die swart gesin deur ‘n wit gesin vervang. Toe sê ek vir hom ‘I don’t think so … ’”
Jackie is die ma van drie dogters – Tracy, Tiffany en Rory – maar is onder lesers ook bekend vir ’n ander “kind”: Lucky Santangelo, die hoofkarakter in Chances (1981), Lucky (1985), Lady Boss (1990), Vendetta: Lucky’s Revenge (1996), Dangerous Kiss (1999) en Drop Dead Beautiful wat pas verskyn het.
Is daar iets van Lucky in haar? “Nee, maar ek sien baie van Lucky in ’n klomp vroue om my. En nee, Lucky is nie ’n vroulike James Bond nie. Gee my krag!”
Anders as in haar boeke, wat deurspek is van glans, sukses, liefdevolle gesinne, mans wat die grond aanbid waarop die heldinne loop, het hierdie heldin se lewe nie altyd soos ’n sprokie verloop nie.
Ná haar vrugtelose pogings om in Hollywood net so beroemd soos ousus Joan te word, is ’n ontnugterde Jackie terug Engeland toe. Glo pas ná ’n affair met Marlon Brando.
Sy is kort daarna, in 1959, met Wallace Austin getroud, ’n stralerjakker met ’n dwelmprobleem. Hulle het saam ’n dogter, Tracy, gehad, maar is in 1963 geskei. Austin is in 1964 dood in sy motor aangetref, vermoedelik weens ’n oordosis dwelms.
Jackie het later na hierdie verbintenis as ’n “tragiese huwelik” verwys. “Hy was regtig baie siek, manies-depressief. Maar ’n wonderlike mens vir wie daar weens depressie sterk dwelms voorgeskryf is.”
In 1966 is sy en Oscar getroud, en hulle was tot met sy dood in 1992 baie gelukkig saam. Hulle het twee dogters, Tiffany en Rory, gehad, en Oscar het ook haar oudste dogter aangeneem.
Ná sy dood het Collins haar hart en siel in haar werk gewerp. Sy glo aan goeie navorsing. “Ek glo nie daaraan om oor iets te skryf waarvan ek niks weet, of waaroor ek nie navorsing gedoen het nie. Ek wil graag my leser na vreemde plekke wegvoer en om dit te kan doen, moet ek navorsing doen.”
Daarom reis sy ook graag. “Ek beskou elke besoek aan ’n plek as navorsing.”
’n Nuwe boek, vertel sy, is soos om ’n baba te hê. “Skryf is nie maklik nie. Sommige mense wil ’n boek skryf, maar kan nie ’n storie bymekaarsit nie. Ek kan ’n storie bymekaarsit wat vir my én my lesers interessant is. Ek is seker maar ’n gebore storieverteller. Daar is inspirasie oral om my. Ek kan ’n koerantartikel lees en ’n idee vir ‘n boek kry.”
En hou sy van al haar karakters? “Ek raak regtig lief vir hulle, selfs vir die slegtes. Ek hou daarvan om tyd saam met hulle deur te bring. Hulle vertel my wat om te doen, en neem my saam op ’n dolle, wonderlike reis.”
Sy skryf al haar boeke met die hand. “Vir Drop Dead Beautiful was daar tweeduisend bladsye! Daarna tik my persoonlike assistent dit oor. Ek skryf seker so tien bladsye per dag. Ek begin elke oggend om halfses skryf en hou so vyfuur se kant op.”
Daarna swerf sy op die Internet, of kyk sowat twee uur lank TV. “Ek is dol op nip/tuck, Prison Break en Desperate Housewives. O ja, ek eet sjokolade as ek voor die TV sit en as ek die dag regtig niks hoef te doen nie, kyk ek sommer heeltyd TV.”
Sy dwing haarself om saans saam met haar vriende en vriendinne uit te gaan. “Anders sal ek nooit grimering aansit nie.” Sy hou van haar eie geselskap, en beskou haar as ietwat van ’n alleenmens.
En wat doen iemand wie se persoonlike fortuin in 2006 op 135 miljoen Amerikaanse dollar geskat is?
Sy gaan eet elke Saterdagmiddag by dieselfde plek, Neimann Marcus. “Daarna dwaal ons eers deur die rakke met grimering, en daarna die juwele.”
Sy en ousus Joan is goeie vriende, maar sien mekaar maar min. “Onthou, ek woon in Los Angeles en Joan pendel tussen die suide van Frankryk en Londen.”
Haar lewensfilosofie? “As jy jou drome wil bewaarheid, moet jy hulle najaag. En die beste manier om dit te doen, is nie om te droom oor hoe ryk jy gaan wees nie, maar om te bepaal waarvan jy regtig baie hou sodat jy dit kan doen.”