Beeld van ’n vrou: Freda Linde deur Henriëtte Linde-Loubser
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }Uit die voetgrond van die Langeberge, uit die huis op ’n nabankrif van die Bruintjiesrivier kom die veldvrou. En sy skryf vanuit die “ryke weelde” van kinderervarings en vanuit ’n ongekende liefde vir en kennis oor die natuur, vanuit ’n “lushof van plantegroei te danke aan die tydige reëns en die sagte son” bring sy haar woordeskat. Aan Freda Linde, by al haar erkennings, kom ook dié titel toe: ere-ekoloog “superieur”, het Hennie Aucamp geskryf.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }Christovira Frederika Linde is in 1915 as enigste dogter vir Hans Jurie Linde en sy vrou, Christophera Frederika Johanna Joubert (Kittie), gebore. Op die familieplaas Bruintjiesrivier, ’n klipgooi anderkant die mooie Bonnievale, waar sy nou begrawe lê, het sy as alleenkind in ’n verbeeldingswêreld na aan die natuur geleef. Toe sy vyf was, is die eerste van haar twee broers gebore. Teen daardie tyd was Freda ’n gevormde en gevestigde waarnemer en liefhebber van die natuur en geborge in die liefdevolle omgee van haar toegewyde ouers.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }Hans Linde was ’n belese boer met ’n belangstelling in die politiek en die wetenskappe, veral die sterrekunde. Hy en sy vrou was albei bedrewe skrywers en in hierdie koesterende, beskermende en intellektuele milieu het Freda gedy. Hier op die plaas met die lushof van plantegroei, soos wat sy dit later jare noem, kon klein Freda haar gelukkige kinderjare deurbring.
Sy onthou dié tyd as “gevul met ’n ryke weelde: die dorsmasjien wat kom, die strooimied, karringmelk, moskonfyt, die vars vrug van die boom af, ook die vars wildevrug soos turksvy en suurvytjie. En lekkerny van die ploegland ná die herfsreëns – die vet wit surings wat bo lê as die ploegskaar die klam sooie omkeer. Die aandblom en die koekemakrank, ’n voëlnes met kuikens of eiertjies, al die honderde verrassings van die wilde natuurlewe op die oewer van die rivier.” En ook “somermiddae het ons onder die akkerboom waatlemoen oopgesny, die regte ou bontes met die pikswart pitte en die brosserige rooi kroon. Onder dié boom was ons speelplek”.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }So was die plaas, die diere en die natuur maar altyd deel van Freda, deel van haar vorming as mens en ook as skrywer. Sy sou as volwassene telkens na haar hartsgrond terugkeer, selfs toe sy al reeds baie bejaard was, het sy gereeld na die huisie van haar grootwordjare teruggegaan. Die huis op die nabankrif.
Toe sy in standerd agt was, het haar eerste verhaal in ’n skoolblad verskyn, en die volgende jaar het sy die eerste prys in ’n kompetisie gewen en die verhaal het in Die Huisgenoot verskyn. Met hierdie verhaal toon sy reeds, volgens prof. Carl Lohann, ’n merkwaardige insig in die wese van die kind, en is daar ook reeds die sensitiewe aanvoeling vir die natuur te bespeur.
Uiteindelik sou 32 boeke uit haar pen verskyn, waarvan 29 kinder- en jeugboeke is, met Swiera van die Waterkant in 1959 as ’n eerste. In 1944 het sy met Terug na die Mimosas, ’n bundel essays en sketse vir volwassenes, gedebuteer.
Die een prys na die ander sou haar boeke volg, beginnende met die C.P. Hoogenhout-prys in 1964 vir haar boek, Snoet-Alleen. Sedert 1973 is sy talle kere bekroon, onder meer vyf keer deur die S.A. Akademie vir Wetenskap en Kuns en vier keer deur SAIBI. Sy het ook die Tienie Holloway-medalje, die Scheepers-prys, die W.A. Hofmeyr-, die Alba Bouer-, die ATKV- en die MER-prys ontvang. Freda word immers steeds beskryf as die mees bekroonde en een van die belangrikste kinderboekskrywers in Suid-Afrika. Sy was ook die vertaler van sowat honderd en vyftig goeie, oorsese kinderboeke.
In die werk van Freda Linde is twee dinge duidelik: haar liefde vir en kennis van die natuur en haar deernis vir mense en veral vir kinders. Sy kon intens na die mens voor haar kyk, so asof sy jou binneste buitentoe wou trek met die oë en die mens agter die hulsel wou uithaal. As natuurliefhebber word plante en diere binne hul natuurlike omgewing bekyk en binne hierdie milieu plaas sy die mens.
Uit ’n gedig aan haar ouma, wat sy op 15 geskryf het, is hierdie verbondenheid van menslike emosies met die natuur reeds duidelik. Natuurlike elemente soos die aandskemer, die aandwind en die laaste sonlig getuig van verlies, hartseer, maar dit dui ook op berusting en veronderstelling van die onafwendbaarheid van die dood. Dit is dus nie net die psige van die kind nie, maar ook van die ou mens wat die voltooide sirkelgang bereik het, wat sy begryp en gevoelvol uitbeeld. Baie vroeg reeds openbaar sy ’n unieke soort vermoë om gemoedstemming in woorde vas te vang.
Freda se werk is vandag steeds relevant. Haar bedrewenheid met die woord word geïllustreer in haar veelsydigheid, waar sy suksesvol selfs binne die subgenres van jeugliteratuur skryf. Met die belangrikheid van natuurbewaring en ekologiese bewusmaking by kinders, kan haar werk met groot vrug ook in die omgewings-opvoedingklas ingespan word.
Ook haar aanbieding van sogenaamd “moeilike” en “pittige” woordkeuses, of dan ongewone teks vir kinders, bied die ideale geleentheid om die jong kind se woordeskat aan te vul. Met klank en ritme en fyn humor verskaf sy ’n leeservaring wat steeds menige kind groot plesier kan verskaf.
Sentraal binne haar verhale staan dikwels die sensitiewe, begaafde, weerlose eenkantkind, die alleenloper, die enkelkind met die liefde vir die natuur en in ’n intense verhouding tot ’n dier. Hier was haar broerskind, Hansie, waarskynlik die inspirasie agter die karakter. Sy benoem hom dan ook in haar boek, Dakkuiken.
Haar laaste boek, Eenders en Anders, is ’n bekendstelling van die kind aan die wonderbare patroonmatigheid in die natuur, maar ook in die lewe. Vir Freda was dit belangrik dat die kind self moet ontdek eerder as om voortdurend met inligting gevoer te word. In haar eie woorde neem sy die kind op “’n soort ontdekkingstog na dinge wat hy elke dag sien, maar nog nooit van naby bekyk het nie. Feite kan net so vreemd en boeiend soos fiksie wees”.
Freda Linde kon in haar oeuvre met ’n ongekende gemak tussen fantasie en realisme beweeg. Grense tussen werklikheid en fiksie vervaag skromeloos en droomwêreld en werklikheid word ewe vlot uitgebeeld. En midde-in alles bly die mens se verbondenheid aan die natuur ’n prominente gegewe.
By eerste kennismaking kon mense die eksentrieke Freda soms as ontoeganklik ervaar, soos wat Philip de Vos toentertyd ervaar het. Hy noem haar “afgetrokke houding” een wat “gesê het: moenie te naby kom nie en moenie te veel vrae vra nie”. Hy onthou ook haar skuheid vir die kamera en hoe hy haar moes smeek vir ’n foto of twee. Tog noem Philip ook die vermurwering, die sagword, en hoe hy deur die “oog van sy lens skielik ’n mens gewaar”.
Mense wat haar geken het en na aan haar was, weet dat sy baie gesteld op haar privaatheid was. Sy was soms gereserveerd en afstandelik, maar tog ’n passievolle mens met ’n intense liefde vir haar gesins- en familielede. Hierdie vreemde teenstrydigheid in haar aard het waarskynlik sy oorsprong in daardie alleenjare, waar sy as dogtertjie onbelemmerd in die wonderwêreld van haar geboorteplaas tussen plante en diere kon dwaal. ’n Milieu van ongeskonde landelikheid, van natuurlike omvattenheid, waarbinne haar mens- en skrywerwees gestalte kon kry.
Haar broer Emelius onthou haar as die grootsus op wie hy en sy jonger broer, Deon, kon staatmaak. Sy was die beskermengel wat goedig, kalm maar streng oor haar boeties gewaak het, hulle vertroos het en hulle vertroueling was. Die platjie met die vonkel in die oog wat poetse gebak het, maar ook die bedrewe perderuiter wat hulle bewonder het. En later sou sy die bekende skrywer wees op wie hulle en die res van die familie baie trots is.
Freda Linde was ongewoon, kunssinnig en talentvol met ’n skryfstyl van bedrieglike eenvoud. Haar boeke is, in die woorde van prof. Lohann, slegs ’n openbaring vir dié wat met die wonder van kinderoë kyk en sien. Ook al is daardie oë reeds volwasse. Dit is slegs dan, wanneer jy geleer het om verder te kyk en te waardeer, dat jy meer sal ontdek as die voor die hand liggende.
Tydens ’n huldigingsgeleentheid vir die skrywer noem Petra Müller die kinderboom. Dis ’n Boom wat jy as kind kan lief hê en as onontgogelde kan geniet. Maar namate jy grootword, vervaag jou kinderboom. Soos wat die werklikhede van grootmenswees inskop, word jou kinderboom hoogstens ’n droom, ’n fantasie. Freda het nooit uit haar kinderboom geklim nie. Vanuit hierdie wonderlike werklikheid is Freda Linde se stories geweef. Vanuit haar vermoë om kind te kon bly. En ons is die gelukkige erfgename daarvan.
Bronne: Lohann, Carl (red). 1983. ‘Freda Linde’. Perskor: Kaapstad. Wybenga, G. en Snyman,
M. 2005. ‘Van Patrys-hulle tot Hanna Hoekom: ’n gids tot die Afrikaanse kinder- en jeugboek’. LAPA: Pretoria. http://www.storiewerf.co.za; http://www.stellenboschwriters.com;
http://versiindaba.co.za
Buiten vir sy uitsonderlike talent as musikant en liedjieskrywer, is Len Muller ook bekend as…
Resep: 'Dairy Gives You Go' Bestanddele Klein, sagte tortillas Koolslaai Hap-grootte stukkies vis…
Dit het soos soveel suksesverhale klein begin, maar die droom was groot: begin ’n TV-kanaal…
Volgens 'n amptelike verklaring wat Vrydagoggend deur die Mej. Suid-Afrika-organisasie vrygestel is, het die huidige…
Sy is nie net die eerste dowe vrou om as Mej. Suid-Afrika gekroon te word…
Het jy geweet dat meer vroue jaarliks aan hartvatsiektes en beroertes sterf as mans? Gelukkig kan…
Hierdie webwerf gebruik koekies.