Deur Anet Schoeman.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }Op 82 kan Esther Mahlangu terugkyk op ’n lewe wat hom dalk effe anders ontvou het as wat sy verwag het. Van ’n stowwerige dorpie in KwaNdebele in Middelburg, Mpumalanga het sy die wêreld deurkruis met haar kenmerkende Ndebele-kuns en werk gedoen vir bekende maatskappye soos BMW en Belvedere Vodka. Daar is selfs ’n Esther Mahlangu-straat in New York.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }Esther, die oudste van nege kinders, het haar ma en ouma van kleins af dopgehou wanneer hulle die huis met tradisionele Ndebele-kunswerke versier het. Hierdie geometriese patrone was aanvanklik net geverf in natuurlike pigmente wat met koeimis gemeng is, vandaar die beperkte kleurpalet van geel, wit, oker, swart en rooi. Die kunswerke was tradisioneel deel van ’n ritueel wat ’n belangrike gebeurtenis aangedui het, soos ’n troue, geboorte, die dood, of wanneer ’n seun inisiasieskool toe is.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }As die grootmense nie gekyk het nie, het klein Esther sommer patrone op die huismure begin verf. Sy is hieroor oor die vingers getik, maar daar was geen keer aan hierdie ywerige kunstenaar nie. Sy het toe maar die agterkant van die huis geverf. Dit was nie lank nie of die ouer vroue het haar vorentoe genooi en toegelaat om haar kunswerke aan te bring.
Toe akrielverf vir die eerste keer in 1940 gebruik is, het die jonger geslag kunstenaars met entoesiasme ingespring en Ndebele-kuns het ’n hupstoot gekry met spatsels helder kleur. Skilder het Esther gefassineer, en sy het veral van die helder akrielverf gehou. Dié verf het ’n groter kleurpalet gebied en dit het die ontwerpe ook meer blywend gemaak omdat dit nie in die reënseisoen van die huise afgewas is nie.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }Tog het sy later besef dat niemand buite hul omgewing in Mpumalanga hul “huiskuns” kan waardeer nie, en sy was die eerste Ndebele-kunstenaar wat tradisionele geometriese ontwerpe op doek en hardebord begin verf het sodat almal die kunswerke kon waardeer. Dit het die kunsvorm toegankliker gemaak, want nou kon Ndebele-kunswerke wêreldwyd uitgestal word.
Sy het tussen 1980 en 1991 in die buitelugmuseum van die historiese dorpie Botshabelo gewoon en gewerk toe Franse navorsers haar kunstig geverfde huis gesien het. Hulle het die wêreld deurkruis om tradisionele kuns te dokumenteer, en het haar in 1989 gevra om Ndebele-kuns by ’n uitstalling in die Pompidou-sentrum in Parys te gaan demonstreer.
Almal, Esther inkluis, het gedink dis ’n wolhaarstorie, maar sy het tog haar paspoort en visum in orde gekry. En daar word sy toe regtig die eerste vrou van dié omgewing wat oorsee gaan. Daar is selfs ’n uithangbord by die ingang van haar dorpie, Mabhoko, in die KwaMhlanga-distrik in Mpumalanga aangebring wat lees: “Esther is here”, en in Frans “Esther est ici” “the 1st woman who visited overseas” en in groot letters “ART WOMAN”.
Sy was effe onthuts toe sy in Parys by die Pompidou-sentrum kom en ’n duplikaat van haar huis, kompleet met ringmuur, grasdak en hekkie daar aantref. Al wat anders was, was dat die huis nie met Ndebele-kuns versier was nie. Hier het sy twee maande lank daagliks voor groot groepe belangstellendes in haar tradisionele klere die huis soos haar eie geverf.
Esther voel sterk oor tradisionele klere en het al by geleentheid haar kommer uitgespreek oor die jeug wat nie meer erg aan tradisionele klere het nie, en as hulle dit dra, dit boonop verkeerd doen. Die koperringe om haar nek, arms en bene en haar tradisionele kombers en kralewerk is net so deel van Ester soos haar kuns.
“By lughawens gaan die alarms altyd af en dan wil hulle hê ek moet die koperringe afhaal. Maar ek sê dit is iets wat ek gekry het toe ek getroud is en dit sal afgehaal word die dag wanneer ek sterf. Dis tradisie dat ek dit buite die huis moet dra.”
Ná haar deelname aan die uitstalling in Parys het sy ook uitnodigings gekry om haar kunswerke teen die mure van ander kunsmuseums aan te bring. In 1990 het sy begin om mure in openbare plekke in Suid-Afrika te verf en dit het uitgekring na Amerika en Europa. Haar werk is al in twaalf lande, onder meer Switserland, Australië, Mexiko en Japan uitgestal.
Maar sy is veral bekend vir haar betrokkenheid by BMW se ikoniese Art Car. In 1991 het BMW haar gevra om hul Art Car vir daardie jaar, die BMW 525i, in Ndebele-kuns te verf. Nou was sy in die geselskap van wêreldbekende kunstenaars soos Andy Warhol en Roy Lichtenstein, en het die twaalfde kunstenaar geword wat ’n motor verf, en die eerste vrou wat gekies is.
Sy is 25 jaar later, in 2016, weer vereer toe BMW haar gevra het om die panele in die binneruim van die BMW Individual 7-reeks te verf. Die motor is verlede jaar by die Frieze Art Fair in Londen uitgestal.
Sy vertel dat sy dadelik die ontwerpe in haar kop kon sien toe sy die panele van BMW ontvang het. “Die patrone wat ek gebruik het, kombineer tradisie met die essensie van BMW. Ek het eers met die kleiner panele begin om ’n aanvoeling vir die oppervlak te kry en daarna was dit maklik, want die ontwerp volg die lyne van die panele.”
Net so uniek soos die kunstenaar, laat die geometriese ontwerpe hulle nie as ’n kunsvorm voorskryf nie. Dit strek oor vele dissiplines soos popkuns en grafiese ontwerp. Die ander verstommende ding is dat Esther die ontwerpe sonder voorlopige tekeninge verf – dit neem vorm aan terwyl sy verf. Sommige resensente sien ’n suiwer wiskundige patroon in haar ontwerpe, want die een kant is ’n presiese spieëlbeeld van die ander kant.
Esther sê danksy die helder kleure en abstrakte ontwerp kan Ndebele-kuns maklik in moderne ontwerpe ingewerk word. Sy sê die helder kleure maak mense gelukkig, en dat dit haar ook gelukkig maak wanneer sy verf. “Ek is lief vir verf. Dit is in my hart en bloed.”
Sy vertel dat die ouer vroue van ’n dorpie ’n pasgetroude jong vrou wat haar huis moes versier, fyn dopgehou het om te sien of haar patrone wel gaan uitwerk. Dit was die vrou se geleentheid om aansien in die gemeenskap te kry, maar as die ontwerpe nie uitgewerk het nie, het hulle lekker vir jou gelag!
Sy gebruik steeds hoendervere om reguit lyne te verf en vul die groter dele in met bobbejaanstert, ’n bossie wat soos ’n bonkige kwas lyk. Kyk jy na haar werk, is jy verstom dat sy nie ’n liniaal of ander hulp gebruik om haar lyne so reguit te kry nie. En op 82 is haar hand nog ferm en die lyne reguit. Esther het ’n kunsskool vir kinders in haar agterplaas begin om seker te maak dat die kunsvorm suiwer bly en nie verlore gaan nie. Sy befonds die skool en wanneer sy nie besig is met uitstallings nie, leer sy die kinders onder meer om natuurlike pigment in klei te meng, en om vryhand en sonder vooraf sketse die ontwerpe met hoendervere of met hul vingers te verf.
Esther was getroud en het drie seuns, maar haar man en twee seuns is al oorlede. Sy is wel omring deur haar familie en een van haar kleinseuns help met die bestuur van haar belange.
Sy en een van haar kleindogters, Miriam, het in 2014 twee reuse Ndebele-skilderye op doek geverf by die Virginia Museum of Fine Arts in Amerika. Die twee het ’n maand lank elke dag geverf. Vir ’n vrou van 78 kon dit nie maklik gewees het om soms in ’n lêende posisie vir so ’n lang tydperk te verf nie, maar Esther sê sy is ’n gebore Ndebele en dit is wat haar gelukkig maak.
Dit was ook vir haar ’n ideale geleentheid om haar tradisie en kultuur aan ander bekend te stel. Groot groepe mense het elke dag kom kyk hoe hulle in hul tradisionele klere skilder. Skoolkinders van die omgewing het ook take oor Ndebele-kuns gedoen en kon die twee meesters sien werk.
Sy is al met vele pryse vereer, onder meer die Orde van Ikhamanga silwer klas in 2006, die Mpumalanga Kuns-en-kultuurprys en ’n toekenning van die Franse minister van kultuursake.
Hoewel sy onlangs 82 geword het, is aftree nie op haar horison nie en glo sy dat daar geen rede is om op te hou verf solank sy dit kan doen nie. Sy glo haar verstand bly helder omdat sy doen waarvoor sy lief is.
Esther is ook ’n slim sakevrou wat net voor die FIFA-wêreldbeker in 2010 ’n gastehuis op haar erf gebou het nadat verskeie toeriste haar gevra het of hulle die aand kan oorslaap. Sy verkoop ook ’n verskeidenheid van haar kralewerk en skilderwerk in ’n winkeltjie op haar erf.
•
Haar naam is oor die dekades aan heelwat produkte verbind soos BMW, Belvedere Vodka, British Airways, Fiat, FIFA en die Brasiliaanse skoenreeks Melissa. In 2015 is van haar ontwerpe op ’n tekkiereeks van die Sweedse maatskappy Eytys by die Paryse modeweek vertoon.
•
Met haar verbintenis met Belvedere Vodka het sy en die bekende Amerikaanse R&B sanger John Legend in September 2016 kragte saamgesnoer vir ’n bewusmakingsveldtog oor MIV/vigs. Esther, wat ’n geheelonthouer is, het ’n spesiale uitgawe-bottel met Ndebele-kuns versier en Legend het ’n liedjie geskenk. Vyftig persent van die opbrengs van die spesiale besending vodka is aan die Global Fund to eradicate HIV/AIDS geskenk.
Hierdie artikel het oorspronklik in die Januarie 2018-uitgawe van rooi rose verskyn as Kleurryke Mama Esther.
MSI is opgewonde om ons eksklusiewe vakansieverkope aan te kondig, wat van 10 Desember tot…
Die lewe is te kort om al jou eie foute te maak. Leer by ander…
Los jy jou potjies se deksels oop of staan jou skoonheidsprodukte in die son? Dan…
Maak hierdie maklike gemmerbier - dit bevat nie gis nie! Dis die heerlikste afkoel-drankie.
Vonkelwyn is ryk aan geskiedenis Die tradisie om met vonkelwyn iets te vier word histories…
Met hierdie wenke sal jy soggens die spreekwoordelike gousblom eerder as die molshoop wees, al…
Hierdie webwerf gebruik koekies.