Deur Corlia Fourie
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }Die Franse wetenskaplike Émilie du Châtelet is nie in haar lewe na waarde geskat nie. Net omdat sy vrou was. Maar onlangs het haar reusebydrae tot die Verligting opnuut onder die aandag gekom met die publikasie van die boek wat David Bodanis oor haar en Voltaire geskryf het.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }Émilie du Châtelet is jare lank as ’n mindere wetenskaplike beskou. Of dalk eerder bekend as die minnares van die beroemde Franse skrywer Voltaire. Ook ná haar dood is daar nie die erkenning aan haar bydrae tot filosofie, wiskunde en wetenskap gegee nie, bloot omdat vroue en hul prestasies in ’n chauvinistiese wêreldbeskouing gering geskat is.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }Min mense buite Frankryk sou dalk van haar geweet het as dit nie was dat David Bodanis op ’n voetnota met haar naam afgekom het toe hy navorsing vir ’n boek oor Einstein gedoen het nie. Die voetnota het verwys na die “klein rolletjie” wat sy in die ontwikkeling van die moderne konsep van energie gespeel het. Omdat die voetnota ook gesê het dat sy berug was vir haar wilde gedrag, was sy nuuskierigheid geprikkel.
Maar hy kon eers jare later aandag aan sy navorsing oor haar gee en sy gevolgtrekking was dat Émilie, ’n knap teoretikus, se insigte in die aard van lig die vertrekpunt was vir die toekomstige ontdekking van fotografie, sowel as infrarooi-bestraling.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }Om werklik te verstaan hoe groot haar prestasies was, is dit vir die leser nodig om jou na die begin van die agtiende eeu te verplaas. Vroue is destyds, selfs in Frankryk wat toe die mees gevorderde land in Europa was, nog deur hul mans getug (dit wil sê geslaan) sonder dat hulle hulle tot die reg kon wend.
Selfs adellike vroue het omtrent geen onderwys en opleiding gekry nie. Op skool het hulle kunsnaaldwerk en etiket geleer, geen letterkunde, wiskunde of wetenskap nie. Universiteitsopleiding was net mans beskore.
Maar in dié opsig was Gabrielle Émilie Le Tonnelier de Breteuil (gebore op 17 Desember 1706 in Parys) baie gelukkig. Haar pa, Louis Nicholas, ’n adellike, het vroeg in haar lewe reeds besef dat sy nie ’n gewone kind is nie. Sy het vrae oor die geskiedenis, die hof, die sterre en geloof gevra. Hy het toe private leermeesters na hul huis laat kom om haar in Latyn, Grieks, Italiaans, sterrekunde, maar veral in wiskunde, waarvoor sy hartstogtelik lief was, te onderrig. Hy het haar ook skermklasse laat neem sodat sy fiks en gesond was en dodelik met die swaard.
Hierdie vaardighede het haar ma, Gabrielle-Anne, hoegenaamd nie beïndruk nie. Émilie was lomp en het nie in mode of etiket belang gestel nie terwyl dit vir haar ma absoluut noodsaaklik vir ’n “goeie huwelik” was.
Met verloop van tyd het Émilie besef dat haar pa nie altyd daar sal wees om haar te beskerm nie. Sy het eintlik net twee keuses gehad. Sy moes óf ryk trou, óf andersins die res van haar lewe in ’n klooster deurbring – destyds die enigste ander opsie vir adellike vroue.
Die deurmekaar dogtertjie wat in haar ma se oë niks reg kon doen nie, het ’n baie aantreklike jong vrou geword. Sy was ook fiks en het meer selfvertroue as ander mooier vroue van daardie tyd gehad.
Op 16 is sy na die koninklike hof (haar pa was hoof van etiket by Versailles) sodat sy met haar kombinasie van skoonheid en geld ’n gesiene man kon bekoor – en hopelik haar mond sou hou om hom nie af te skrik nie, want min (indien enige) mans was aan slim vroue gewoond.
Toe haar pa in ’n stadium nie meer geld vir boeke gehad het nie, was dobbel die enigste manier waaraan sy kon dink om geld te maak om boeke te koop. Sy was slim genoeg om “kaarte te tel”. Sy het meer as die helfte van die twee duisend goue Louis wat sy gewen het, op boeke uitgegee. Teen dié tyd was selfs haar pa desperaat: “Watter man sal belang stel in ’n vrou wat die hele dag lank net lees?” wou hy weet.
Uiteindelik het Émilie bes gegee en gedoen wat haar ouers van haar verwag het – sy het ’n gereëlde huwelik met ’n ander adellike aangegaan en is op 19 met ’n militaris, die markies Florent-Claude du Châtelet (34) getroud. (Die Du Châtelet- en die De Breteuil-erfenisse was nou veilig.) In die eerste twee jaar ná hul troue is twee kinders gebore. Die versorging van die adellikes se kinders is aan kinderoppassers toevertrou en Florent-Claude het na sy regiment vertrek waar hy (soos destyds die gewoonte was) by ander vroue “gekuier” het.
Émilie is terug Parys toe waar sy (met haar man se toestemming en geldelike ondersteuning) verder studeer en intieme verhoudings met ander mans gehad het. (Niks vreemds vir daardie tyd in Frankryk nie. Wat wel vreemd was, was dat Émilie later haar liefde vir ’n ander man, die digter Voltaire, in die openbaar gewys het deur hom openlik en hartstogtelik in die strate van Parys te soen.)
Haar tweede minnaar van wie navorsers vandag bewus is, was die hertog van Richelieu, die kleinneef van die beroemde kardinaal Richelieu. Maar sy was heeltemal te slim vir die gewilde Richelieu en hy het die verhouding beëindig. Émilie het dit so goed hanteer dat die twee vriende gebly het tot met haar dood – die talle briewe aan mekaar is ’n bewys daarvan.
In 1733, drie jaar ná die geboorte van ’n derde kind, het Émilie onder aansporing van een van haar vernaamste leermeesters, Pierre Louis de Maupertuis, ’n bekende wiskundige en sterrekundige, die “net mans”–reël verbreek by die cafés waar intellektuele mekaar ontmoet en gekuier het. Toe sy daar opdaag, is sy sonder meer gevra om die café te verlaat. Maar Émilie het ’n ander plan beraam. Sy het vir haar ’n manspak laat maak en sy is terug na die café. De Maupertuis het haar by sy tafel laat sit en sy het aan die intellektuele besprekings deelgeneem.
Maar dié hartstogtelike vrou was steeds op soek na ’n maat wat haar sou inspireer en intellektueel kon uitdaag. Dié gelyke het sy gekry in die beroemde dramaturg, digter en romanskrywer François-Marie Arouet (wat onder die skuilnaam Voltaire bekend gestaan het). Hul verhouding was aanvanklik so fisiek dat Voltaire gekla het dat hy nie daarmee kon volhou nie omdat hy “al ’n ou man is”. (Hy was twaalf jaar ouer as sy en reeds in die veertig toe hulle mekaar leer ken het.)
Sy en Voltaire was ook nie van dieselfde stand nie. Hy was nie ’n arm man nie, maar hy het sy geld deur sy regspraktyk, skryfwerk en beleggings gemaak. (In die Frankryk van daardie tyd moes jy geld hê, waarvoor jy nie gewerk het nie, en jy moes ’n adellike titel hê.)
Émilie het by ’n ander minnaar betrokke geraak, maar Voltaire was steeds betower en het haar teruggewen. Kort ná die troue van Émilie se vriend Richelieu, is ’n lasbrief vir Voltaire se inhegtenisneming uitgereik – hy het vir die soveelste keer in sy artikels die Franse instellings gekritiseer. Omdat hy reeds twee keer tevore in die Bastille opgesluit was, het hy dié keer gevlug. Dit was nie die enigste keer nie. Hy het in ’n stadium lank in Engeland gaan bly en ander kere ook by vriende in Frankryk weggekruip.
Émilie se man het hom toestemming gegee om in sy kasteel in Cirey te gaan bly. Die kasteel was naby die grens met Lorraine, destyds ’n onafhanklike staat, en Voltaire kon dus maklik oor die grens glip as die geregsdienaars sy skuilplek kry. Die kasteel in Cirey was taamlik vervalle en Voltaire het baie geld aan verbeterings bestee om Émilie soontoe te lok. Hoewel sy Parys verkies het, het sy tog by hom aangesluit. Wanneer hy kon, het Émilie se man ook daar gaan bly en hy en Voltaire het dikwels saam gaan jag. Al drie van hulle het in die grootste harmonie daar saamgekuier.
Die 15 jaar wat Émilie en Voltaire in Cirey deurgebring het, was die produktiefste van haar lewe. Sy en Voltaire was die hart van ’n intellektuele groep wat later as die Verligting bekend geword het. Wanneer daar nie gaste, veral intellektuele en wetenskaplikes, was nie, het sy en Voltaire albei tot laat snags in hul onderskeie studeerkamers gewerk. Danksy haar het Voltaire ook in die wetenskap begin belang stel, maar op dié gebied was sy sy meerdere.
In 1737 het Voltaire vir ’n kompetisie by die Franse wetenskap-akademie ingeskryf. Snags wanneer hy geslaap het, het Émilie koorsagtig aan haar eie eksperiment oor vuur gewerk wat sy ook stilletjies ingeskryf het. Nie een van hulle het gewen nie, maar albei se inskrywings is saam met dié van die drie wetenskaplike wenners gepubliseer.
’n Jaar later het net Voltaire se naam by die werk Eléments de la Philosophie de Newton verskyn. Maar in ’n voorwoord het hy gesê dat hy en Émilie saam aan die publikasie gewerk het. Dié werk het Newton verstaanbaar gemaak vir diegene wat nie wiskunde op ’n hoë vlak bestudeer het nie.
Twee jaar later was haar eie naam voor in die boek Institutions de Physique. Maar intussen het een van haar vorige leermeesters, Samuel Koenig, gesê dat sy eintlik net sy idees oor Leibniz en “die oneindig kleine” wat hy in sy lesse met haar gedeel het, opgedis het. Émilie was woedend en het haar op Pierre Louis de Maupertuis by die Wetenskap-akademie beroep met wie sy oor Leibniz gepraat het lank voordat Koenig haar leermeester was. Maar Maupertuis wou nie by die dispuut betrokke raak nie. Dis toe dat Émilie vir die eerste keer gevoel het dat sy benadeel word bloot omdat sy vrou is.
Émilie en Voltaire het met Stanislas, die afgesette koning van Pole wie se dogter met koning Lodwyk XV getroud was, bevriend geraak en vir hom in Lunéville, waar sy Lorraine-hof gevestig was, gaan kuier. Voltaire se Sceaux-toneelstukke, met Émilie in die hoofrol, is daar opgevoer en so goed ontvang dat dit weer opgevoer is. Émilie het geskitter. Sy was die ster van die een vertoning ná die ander. Teen dié tyd was Émilie en Voltaire se fisieke verhouding verby, maar hy het weer van voor af op haar verlief geraak en klein odes aan haar geskryf. Die ou Stanislas is tienuur bed toe en daarna het Émilie en Voltaire mense in Émilie se woonkwartier onthaal. Almal het die twee bewonder oor hul flambojante leefstyl, talent, pittige sêgoed en lewendige geselskap.
Emilie het op ’n howeling, die markies De Saint-Lambert, verlief geraak. Maar hy het haar sleg behandel en ook met die koning se minnares verkul.
Toe sy agterkom sy is swanger, het sy Voltaire vertel. Hy het besef dat die enigste manier waarop sy kon verseker dat die Du Châtelet en Du Breteuil-erfenisse in die familie sou bly, was om haar man om te haal om sy regiment in Dijon te verlaat en ’n tyd lank saam met haar te woon.
Nadat haar man terug is na sy regiment, het Émilie op Lunéville voluit begin werk aan die vertaling van Newton se werk uit die oorspronklike Latyn in Frans. Sy het van vroeg soggens tot laat snags gewerk en haar en Voltaire se kneg, Longchamp, het later vertel dat sy skaars wou eet. Émilie se dogtertjie (haar vierde kind) is in die nag van 3 September 1749 gebore. Émilie is op 10 September aan ’n infeksie oorlede wat sy met die geboorte opgedoen het. Haar vertaling van Newton se Principles het tien jaar ná haar dood, in 1759, verskyn. Dié vertaling word tot vandag toe nog as dié gesaghebbendste Franse vertaling van Newton se werk beskou.
Ná haar dood was Voltaire ontroosbaar: “Ek het die helfte van myself verloor – ’n gees wat vir myne gemaak is.”
Bronne: Passionate Minds / The Great Enlightenment Love Affair deur David Bodenis. Little, Brown, Engeland, 2006, asook verskeie webwerwe.
MSI is opgewonde om ons eksklusiewe vakansieverkope aan te kondig, wat van 10 Desember tot…
Die lewe is te kort om al jou eie foute te maak. Leer by ander…
Los jy jou potjies se deksels oop of staan jou skoonheidsprodukte in die son? Dan…
Maak hierdie maklike gemmerbier - dit bevat nie gis nie! Dis die heerlikste afkoel-drankie.
Vonkelwyn is ryk aan geskiedenis Die tradisie om met vonkelwyn iets te vier word histories…
Met hierdie wenke sal jy soggens die spreekwoordelike gousblom eerder as die molshoop wees, al…
Hierdie webwerf gebruik koekies.