Beeld van ’n vrou: Elsa Joubert deur Ilse Salzwedel
*Hierdie artikel is oorspronklik gepubliseer in die Maart 2018-uitgawe van rooi rose.
Min skrywers publiseer nog op die ouderdom van 95, maar dis presies wat Elsa Joubert onlangs gedoen het met Spertyd, die derde deel van haar outobiografiese drieluik. Dis voorafgegaan deur ’n Wonderlike Geweld (2005) en Reisiger (2009), en nes in haar romans, skryf sy net so onthutsend eerlik en reguit soos altyd. Hierdie keer is die onderwerp oudword en die dood, dinge waaraan die mensdom nie graag herinner wil word nie, en nog minder iets waaroor ons sommer praat.
Nie dat die reguitpraat óf haar dapperheid haar aanhangers verras nie. Want Elsabé Antoinette Murray Joubert het van jongs af altyd die gebaande weë uitgedaag. Eers was daar haar besluit om joernalis te word – destyds het min vroue joernalistiek as ’n loopbaan gekies. Toe haar besluit om (jong) vrou-alleen in Afrika te gaan reis. Dit was 1948, en soos baie van haar tydgenote wou sy Europa gaan verken. Maar sy wou nie net die posboot Europa toe haal nie. Eers wou sy gaan kyk hoe lyk Kenia, en waar ontspring die Nyl.
“Ek het in die Paarl in ’n Afrikanerhuis grootgeword. My agtergrond en opvoeding was Europees. Die geskiedenis en die letterkunde van die Weste was my agtergrond. Ek wou mense wat anders as ek was, leer ken,” het sy in 2002 in ’n LitNet-onderhoud met Amanda Botha verduidelik.
Daardie eerste reis in Afrika het die saadjie gesaai vir talle latere reise en sewe reisboeke. Haar eerste reisboek, Water en Woestyn, het in 1957 verskyn, en die laaste een in 1997. Haar boeke het haar reise in Afrika en Europa gedokumenteer. Haar boek oor Angola, Die Afrikaan (1974), het indirek gelei tot Die Swerfjare van Poppie Nongena, ’n skokkend eerlike boek oor die onderdrukking van swart mense in Suid-Afrika.
Juis omdat sy kort tevore ’n boek oor Angola gepubliseer het, het ’n vrouetydskrif haar en ’n fotograaf in 1974 na die destydse Suidwes-Afrika gestuur om te gaan verslag doen oor die lang konvooie voertuie met Angolese vlugtelinge wat die land binne-gestroom het. Elsa se opdrag was om te skryf oor wat beskou is as ’n “nuwe verskynsel” in Afrika: wit vlugtelinge, het sy in 2004 in ’n LitNet-artikel geskryf.
“Ek het gestaar na die bakkies, die lorries, die motors oorlopens toe vol met warm, wanhopige, bedremmelde mense, grootmense, oumense, mistos, San huiswerkers, kinders, troeteldiere, honde, katte, voëls, voertuie hoog gepak met matrasse, komberse, meubels, potte, panne: alles wat ingeboender kon word in die halsoorkop-vlug uit die dorpe van die suidelike Huambo- en Mossamedes-provinsies.”
Sy kon nie glo wat sy sien nie. Vir haar boek het sy Angola vyf weke lank deurkruis, en van oorlog was daar nie sprake nie. “Was ek dan blind gewees? Maar by groepie ná groepie vlugtelinge vertel die mense my: ons het nie geweet nie. Ek het ook maar net geweet wat die regering gewys het.”
Dis toe dat sy iets belangriks besef het: “Ook in ons land weet ons mense nie. Selfs dié van ons wat op eie manier apartheid teëgaan en verafsku, weet nie diep nie. Op die diepste vlak is die swart en bruin mense se lyding, om ons, elke dag, vir ons nie bekend nie.” En dis hierdie onkunde, wat lei tot “nie-begrip en vervreemding”, wat Elsa wou takel en afbreek. “Ek had baie lande in Afrika reeds met my reisboeke verken: Kenia, Uganda, Soedan, Madagaskar, Mosambiek, Angola. Maar daar by Tsumeb het dit hard en duidelik tot my gespreek: nou moet my oë oopgaan, ek moet my eie land se mense in volkome eerlikheid leer ken. Apartheid het ons van mekaar weggehou, ek moes ten spyte van apartheid die grense afbreek.”
Met wat sy beskryf as “die ewig-geldige paspoort” van ’n joernalis het sy Suid-Afrika se swart woonbuurte, plakkerskampe en tuislande deurkruis. Van Nyanga, Langa en Crossroads tot Soweto, Transkei en KwaNdebele. Sy het in hofsale gesit, met maatskaplike werkers, tradisionele genesers en amptenare in paskantore gepraat om ’n prentjie te kry van hoe swartmense onder apartheid leef. “En ek is nie langer mislei deur die fasade nie. Ek sou met ’n nuwe soort reisboek begin.”
Oor presies hoe hierdie boek sou lyk, was sy nog onseker. Toe kom stort haar huishulp een oggend ná Kersfees 1976 haar hart uit oor wat Elsa beskryf as ’n “nag van verskrikking in die lokasie”, en skielik het die finale legkaart van haar boek vir Elsa in plek geval. Sy sou die storie vertel deur die oë van ’n vrou, wat sy vir die doeleindes van die verhaal Poppie Nongena sou noem. (Haar huishulp het verkies dat haar regte naam nie gebruik word nie.)
Vir mense wat dit as ’n “gelukskoot” beskryf het dat Poppie vir Elsa haar verhaal vertel het, het Elsa ’n besliste antwoord: “Dit was ’n geseënde toevalligheid. Maar nie net ’n gelukskoot nie. Ek was gereed vir haar storie en omdat ek die agtergrond had, kon ek begryp. Sy hoef niks te verduidelik het nie; die pennie het onmiddellik in die gleuf geval.”
Sy en Poppie het drie oggende per week die telefoon van die mikkie gehaal en ’n uur of langer gesels. Elsa het die gesprekke opgeneem. Sy beskryf dit as ’n “wonderlike toegif en binding” dat hulle albei in Afrikaans, hul gedeelde moedertaal, kon gesels. “Die gesprekke was van hart tot hart omdat daar geen taalversperring was nie.”
Poppie het haar verhaal broksgewys vir Elsa vertel, wat dit dan uitgetik en op die twee beddens in haar gastekamer uitgelê het. “Ek het die stukkies wat bymekaar hoort, bymekaar gesit, min of meer die tydsverloop deur herkenbare anekdotes uitsorteer, die volgende dae die vrae in bepaalde rigtings gestuur, nog besonderhede, nog motivering, nog menslikheid probeer bekom.” Mettertyd het Elsa besef: Poppie het, nes sy, ’n Afrikaanse lewe gehad, en van haar uitdrukkings het selfs op Hollandse wortels gedui.
Geleidelik het Elsa die legkaart van Poppie se storie begin bymekaarsit. “Ek was gegru deur wat die Stellenbosse professore later sou noem “die strukturele geweld” waaronder sy moes lewe: ’n ysterharde, onvermurfbare struktuur wat haar daaglikse kom en gaan, haar kinders, haar huislike lewe, haar man se werk, beheer het. Waarvan ek, as huisvrou, wat daagliks met huishulp, met tuinhulp in aanraking is, geen snars van geweet het nie. Ek is gedryf om die boek so vinnig ek kon klaar te skryf.”
Dié boek, wat in 13 tale vertaal is, is met die WA Hofmeyr-, CNA- en Louis Luyt-prys bekroon (maar nie met die gesogte Hertzogprys nie – ’n mens kan maar net raai oor die invloed van die destydse Broederbond op hierdie besluit).
Elsa het Poppie se verhaal ook saam met Sandra Kotzé in ’n toneelstuk verwerk. Dis van 1982 tot 1984 internasionaal opgevoer by die Edinburg-fees en in New York, Londen, San Francisco, Australië en Kanada. Die stuk is bekroon met die Laurence Olivier-toekenning vir toneelspel in Londen se Weseinde, asook die Obi-toekenning vir die beste draaiboek in die Off-Broadway Theatre in New York.
Ná die sukses van Poppie het Afrikaanse lesers, skrywers én letterkundiges behoorlik van Elsa kennis geneem. Al het sy, soos haar goeie vriend Jan Rabie en ook Etienne Leroux kort voor 1960 en in die jare sestig verskeie boeke gepubliseer – onder meer die bekroonde roman Ons wag op die Kaptein (1963) – is sy nooit as ’n Sestiger erken nie. Haar werk is ook nooit in hul blad opgeneem nie, en sy is nie genooi om aan hul besprekings deel te neem nie.
“Ek was ’n ma met drie jong kinders. Voor dié tyd, as ’n skrywer, was ek seker maar soos ’n Sondagskrywer. Waar my regtige plek gekom het, was met die Afrikaanse Skrywersgilde. Dit het my laat voel ek is nou deel van die skrywerskorps van Afrikaans.”
Maar twintig boeke later (waaronder sewe hoog aangeskrewe romans) is daar geen twyfel nie: Elsa Joubert is een van die grootste skrywers wat ons land en ons taal opgelewer het. Dit word beaam deur die twaalf plaaslike letterkundige pryse, insluitend die Hertzogprys vir Die reise van Isobelle (1995), wat aan haar toegeken is. Tel daarby talle ander toekennings en die British Royal Society of Literature se Winifred Holtby-prys, twee eredoktorsgrade en die Orde van Ikhamanga in silwer (2004), en jy weet: Afrikaans, haar geliefde taal, sou sonder die bydrae van Elsa Joubert veel armer gewees het.
Aanvullende bron: litnet.co.za