Beeld van ’n vrou: Elizabeth Bowes-Lyon deur Ronel Nel
Die Britte se Queen Mum roep dalk by baie mense die beeld op van ’n bepoeierde tannie met opslaanhoede en wasige lae pastelkleure. Maar Elizabeth Bowes-Lyon was ’n sprankelende, passievolle vrou met ’n wonderlike sin vir humor. En onder haar uiterlike sjarme het ’n doelgerigte, intelligente vrou geskuil. Die Queen Mum was natuurlik ook bekend vir die sopie of wat jenewer wat sy graag saans geskink het.
Die toekomstige Engelse koningin Elizabeth Angela Marguerite Bowes-Lyon, is op 4 Augustus 1900 gebore. Haar geboorte was heel gepas aan die einde van die Victoriaanse era, en vars die Edwardiaanse tydperk in. Sy was soos die voorloper van ’n nuwe en onstuimige, maar vernuwende en onvergeetlike era: die twintigste eeu.
Koningin Elizabeth se lewe was in ’n groot mate ’n verlewendigde karakterisering van die verloop van die vorige eeu: Sy het die einde van die Anglo-Boereoorlog en twee wêreldoorloë beleef. Sy het tegnologiese vooruitgang moes verwerk: van die eerste vliegtuig tot ruimtetuie; van ’n poskoets tot die Internet; ook die koms van die radio en televisie.
Sy het een spesifieke jaar in dié eeu, 1936, lewenslank as haar “annus horribilis”, haar alleraakligste bestempel. Sy het daardie jaar as die skoondogter van koning George V begin en as die vrou van koning George VI afgesluit. Dit was ook die jaar van die opspraakwekkende abdikasie van koning Edward VIII wat die kroon vir sy Amerikaanse minnares, Wallace Simpson, verruil het. Elizabeth het daardie jaar ook met haar gesondheid gesukkel nadat sy vroeg in die jaar ernstige longontsteking gekry het. Dit was ook die jaar toe die onheilspellende opmars van Duitsland se Nazi-party en Adolf Hitler begin het.
Die prentjie tot toe van die jong Elizabeth was ’n gelukkige een. Haar jeugjare was “uiters gewoon”, het sy in 1955 vir William Shawcross, haar amptelike biograaf, vertel. Trouens, aangesien sy die negende kind en boonop die vierde dogter was, het haar oupa dit nie eens in sy dagboek aangeteken nie.
Die Bowes-Lyon-familie was van die Engelse en Skotse aristokrasie en sy het haar sorgvrye kinderjare hoofsaaklik in haar adellike familie se Glamis-kasteel in Skotland deurgebring. Haar broer David was haar beste speelmaat. Hul gunstelingwegkruipplek was “The Wood” waar hul twee ringnekduiwe, Caroline-Curly-Love en Rhoda Rigley-Worm, gewoon het. Dit was ’n towerwoud vol sprokiekarakters, diertjies en feetjies. Hul kinderoppasser, Clara Knight (“Allah”, soos die kinders haar genoem het), sou later een van die grootste vrouefigure in Elizabeth se lewe word, en ook haar kinders se oppasser.
Al Elizabeth se broers is Eton toe gestuur, en hoewel daar kosskole vir meisies was, is sy tuis onderrig. Op hul reuse-landgoed het sy haar liefde vir perde uitgeleef, ’n liefde wat haar kinders en kleinkinders sou erf. Prinses Anne, haar kleindogter is ’n uitstekende ruiter en die enigste lid van die koninklike familie wat al aan ’n Olimpiese Spele deelgeneem het (1976 in Montreal). Sy het haar ouma meer as een keer as haar “inspirasie en leidsman” bestempel. Elizabeth het soveel tyd moontlik by haar geliefde vierbeenkinders deurgebring.
Maar die idille van haar kindertyd sou vinnig eindig. Laatmiddag op Elizabeth se 14de verjaardag, 4 Augustus 1914, het die Eerste Wêreldoorlog uitgebreek. Dit was inderdaad asof Elizabeth Bowes-Lyon se noodlot en dié van die wêreld om haar verweef was.
Aanvanklik het die gevolge van oorlog nie tot haar deurgedring nie – “dit het beteken ek hoef nie huiswerk te doen nie”, maar skielik het die reise in Skotland, die vrolike aandetes en partytjies en die singery om die klavier opgedroog. Soos soveel groot huise destyds, is Glamis-kasteel as ’n hospitaal ingerig. Met die koms van die eerste beseerde soldate het Elizabeth se naïwiteit begin verdwyn. Toe haar broer Jock sneuwel, het die wrede werklikheid van die oorlog haar diep geraak.
Elizabeth was ’n groot briefskrywer en die prentjie van haar grootwordjare en die veranderinge om haar, word verlewendig met haar spitsvondigheid. Sy het daarvan gehou om woorde in hoofletters te skryf, te onderstreep en met uitroeptekens te beklemtoon. Ná ’n verhoogstuk met Henry Ailey in die hoofrol skryf die tiener vir haar ma: “He’s so good looking with BLUE eyes and BLACK hair!”
Nadat sy prins Albert, haar toekomstige eggenoot, die eerste keer in 1916 ontmoet het, skryf sy: “The tea party was rather frightening – in fact, very!”
Dié ontmoeting met die jong soldaat en luitenant sou haar lewe verander. Sy was skaars 16 en hy die twintigjarige seun van koning George V. Sy was vrolik, gewild, intelligent en ’n ware Skotse skoonheid met helder blou oë en swart hare. In teenstelling met haar spontaniteit was Albert, of Bertie soos hy genoem is, intens skaam en het boonop so gehakkel dat hy kwalik ’n woord kon uitkry. Bertie het ook in die skadu van sy onmoontlik aantreklike en sjarmante ouer broer, David, later koning Edward VIII, geleef. Albert het glo ook nie waffers gevaar op skool nie, was sieklik en het as kind lank met ysterspalke geloop om sy aankapknieë reg te stel.
Die twee het nie dadelik begin uitgaan nie. Sy moes eers haar debutante-jare deurmaak. O, die drama om adellike bloed te hê …
Omdat ons die beeld van die ouer, wuiwende en bedaarde koninginmoeder in gedagte het, besef ’n mens nie altyd dat sy mans gefassineer het nie, en hulle was deur die bank stomverlief op haar.
Sy het in haar jeug verskeie huweliksaanbiedinge gekry, die eerste al in 1917. Verskeie briewe – haar eie, en dié wat vir haar geskryf is – vertel die verhaal van ’n spontane, onbedorwe meisie met sjarme en elegansie.
Teen Augustus 1918 was sy volstoom aan die werk aan die oorlogsfront; op die landgoed as verpleegster, in die bomverpletterde Londen se sopkombuise en by verskeie liefdadigheidsorganisasies.
Sy het Bertie eers weer in 1920 op ’n partytjie gesien en vir die prins was die koeël deur die kerk. Twee weke later was daar ’n onthaalnaweek op die Glamis-landgoed en Bertie het hom, tot Elizabeth se groot ontsteltenis, self daarheen genooi. In die gewone Bowes-Lyon-styl, het die kuier drie dae geduur, maar sy het haar met soveel familie en vriende moontlik omring.
Albert was nou hartsverlore. Die ongedwonge gekuier, die musiek, hul gemaklike aanvaarding van “die prins”, die groot gesin wat mekaar oor en weer terg en vriende wat uitbundig om die klavier sing … Alles het hom oorrompel; dit was net so anders as in die stywe paleis. Hy was verlief op die gesin en dolverlief op haar. Boonop was sy een van die enigste mense met wie hy vlot kon gesels.
Teen Desember 1920 het hy haar in alle erns begin “court”. Weer tot haar verwildering. Sy was twintig, die oorlog was verby, sy was gek na partytjies en oor die jong mans se aandag, haar vriendinne, haar familie. Sy was glo ook heerlik stout. Maar hy wou hê sy moet die vrou van een van die belangrikste mans in die destydse Westerse wêreld word.
Sy het sy eerste huweliksaanbod in 1921 van die hand gewys omdat sy bang was dat “ … never, never again will I be free to think, speak and act as I feel I really ought to”.
Maar hy het nie ophou skryf nie en uiteindelik het sy stroom briewe en deernisvolle insig en woorde tog haar hart gewen. Bertie het aan sy ma gaan verduidelik dat hy nooit met iemand anders sal trou nie, en die koningin het na Glamis gereis om Elizabeth te gaan ontmoet.
Elizabeth se joviale, aangename persoonlikheid het die koningin ook oorrompel en sy was seker dat Elizabeth haar seun gelukkig sou maak. Die twee het ná vele onderhandelinge (en nóg skelm briewe) tussen die koningshuis en die Bowes-Lyon-familie, uiteindelik in Januarie 1923 verloof geraak.
Soos met Charles en Diana, was dit ’n sprokieshuwelik. Anders as Diana s’n, het Elizabeth se huwelik as ’n sprokie geëindig.
Soos 1936 vir Elizabeth haar annus horribilis was, was 1923 en 1924 net die teenoorgestelde. Sy is in 1923 met Albert, die hertog van York, getroud. Die volgende jaar het hulle ’n uitgebreide safari na Afrika onderneem – ’n reis wat beskou word as die grondslag vir die res van hul gelukkige getroude lewe.
In 1926 is hul eerste dogter, Elizabeth Alexandra Mary (nou die koningin), gebore en vier jaar later hul tweede dogter, Margaret Rose.
Die gesin was baie gewild en Elizabeth, wat baie betrokke by verskeie liefdadigheidsorganisasies was, is gou die “smiling duchess” genoem. Sy was in die koningshuis ook geliefd. Die koning het op ’n keer opgemerk dat hy bekommerd is oor sy oudste seun, David, en dat hy hoop hy trou nie sodat dit vir Bertie en Elizabeth die geleentheid skep om die troon te bestyg.
Sy wens het op ’n vreemde manier waar geword. David was vasbeslote om met sy geskeide Amerikaanse minnares te trou en het in Desember 1936 die troon vir sy geliefde verruil en as koning Edward V111 geabdikeer. In Mei 1937 is Bertie in die Westminster-abdy as koning George VI gekroon.
Elizabeth was koningin op 36.
Dit was ’n warrelwindlewe. Diplomatieke reise na lande soos Frankryk, Amerika en Kanada waar sy baie gewild was.
Skaars drie jaar ná Bertie se kroning het die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek, met ’n sielkundige en politieke impak wat niemand kon voorsien nie.
Maar Elizabeth se gees was onblusbaar, en sy het ’n groot rol gespeel om die moraal van soldate en die Britse publiek op te bou. Hitler het haar terstond “die gevaarlikste vrou in Europa” gedoop!
Ná die oorlog het Winston Churchill spesifiek na haar reuserol aan die tuisfront verwys. Sy het troepe toegespreek, hospitale en fabrieke besoek, na dele in Engeland gereis wat onder die Lüftwaffe se bomme deurgeloop het – en die mense aangespoor en ondersteun. Aanvanklik, veral in die Ooseinde-dokke, is sy met agterdog bejeën. Maar mettertyd het haar onverpoosde werk onder haar volk, hulle anders na haar laat kyk. Nadat ’n hele paar bomme op Buckingham-paleis geval het, het sy gesê: “Ek is bly ons is getref. Nou kan ek die Ooseinde in die oë kyk.”
Die vriendskap tussen Bertie en Elizabeth het deur die jare net sterker geword. Selfs hul briefwisseling het voortgegaan, en dit is een van die vernaamste bronne van hul lewe saam. Dit is alombekend dat hul huwelik een van die gelukkigste van enige Britse koningspaar was.
Met Elizabeth aan sy sy en verseker van haar liefde en steun het Albert ontluik. Sy skaam selfbewustheid het blymoedige spontaniteit geword en sy gesonde verstand het tot wasdom gekom in wysheid en goeie oordeel.
Bertie, wat maar altyd sieklik was, se gesondheid het al meer verswak en in Februarie 1952 het hy stil in sy slaap gesterf.
Elizabeth was siek van hartseer, en het dadelik na Skotland gereis met die plan om daar aan te bly. Hul dogter, Elizabeth II, is op 2 Junie as die nuwe koningin van Brittanje ingehuldig. Churchill het die koninginmoeder oortuig om terug te kom en teen die einde van 1953 was sy byna net so besig as tydens haar jare as koningin. Sy het ook na haar kleinkinders begin omsien. Met die dood van haar skoonma, koningin Mary, en David wat in Frankryk gewoon het, was die 53-jarige Elizabeth skielik die oudste lewende lid van die koninklike familie, en sy het haar rol as matriarg met mening omarm.
Voor die koms van Diana Spencer was Elizabeth, die koninginmoeder, verreweg die gewildste lid van die Buckingham-dinastie. Sy het aktief bly deelneem aan die openbare lewe, selfs tot net voor haar dood op 101. Sy is ’n paar weke ná die dood van haar jongste dogter, Margaret, oorlede.
In ons era van mediafiksasie op die hier en nou, glansstatus en onmiddellike satelliettegnologie, is Elizabeth Bowes-Lyon dalk effens vergete. Maar haar impak op hierdie eeu sal op papier, en onder haar nageslag, bly voortbestaan.
Op 20 Maart 2002 het hierdie uitsonderlike vrou waardig gesterf – en vyf geslagte en miljoene bewonderaars het gerou.
Nota: Die term “koninginmoeder” is die amptelike Britse titel vir die weduwee van ’n gestorwe koning en wie se kind dan die troonopvolger word.
Hoofbron: Queen Elizabeth – the Queenmother. The official biography – William Shawcross. (PanMacmillan)