Beeld van ’n Vrou: Dalene Matthee deur Regina Malan
Waar ’n varing wip, is daar ’n feetjie.” Dié woorde van Dalene Matthee, geliefde Afrikaanse skrywer van die gewilde Knysnabos-romans, sê dadelik jy het nie hier met ’n gewone mens te doen nie. Sy was oop vir ’n veel groter wêreld as die hier en nou. Die vrou was vir haar die draer van wysheid en spiritualiteit, teenoor die man wat intellektualiteit vervat. Vandaar die magiese band wat sy met die bos gehad het. Met haar fyn intuïsie het sy die bos as ’n persoonlikheid ervaar wat jou soms vertrou en soms nie.
Dié bospersoonlikheid moes gerespekteer word. Daarom het sy altyd met die bome gepraat en hulle gegroet elke keer wanneer sy in die bos ingaan. Haar kinders het geprotesteer: “Ma, die mense sal sê Ma is mal.” Dalene het net gesê dis nie belangrik wat die mense van haar dink nie, maar wat die bos van haar dink.
Haar betrokkenheid by die bos het die jong Dalene nooit voorsien nie. Sy het eers later in haar lewe, volgens die joernalis Cathy Knox, ingesien dat daar ’n grootse plan is wat haar telkens sou lei na waar sy moes wees, solank sy die ritme daarvan nie versteur nie.
Dalene is op 13 Oktober 1938 as Dalena Scott op Riversdal in die Suid-Kaap gebore. In ’n onderhoud met Izak de Villiers sê sy: “Dit is al ’n afgesaagde storie maar ’n aanvaarde feit dat ek die stoutste kind op Riversdal was. Dat ek baie rebels was.” Selfs haar ouma was raadop met die onmoontlike kind wat nie borduurwerk wou doen nie en haar nie soos ’n dame wou gedra nie. Haar rebellie was goed vir die mensdom, want dit het haar op paaie laat loop waar sy die wysheid bekom het wat in haar boeke tot uiting gekom het. Sy sê ook dat sy haar leermeesters aan die uithoeke van die aarde gesoek het. “Ek het gesoek, gelees, gestudeer.”
Haar pa was ’n direkte afstammeling van die bekende Skotse historikus, sir Walter Scott. Dalene was die middelste van vyf kinders wat almal in een of ander mate die kunsgeen ontvang het. Reeds op skool is Dalene vir haar besondere opstelle geprys.
Op 18-jarige ouderdom is sy met Larius Matthee, ’n bankklerk, getroud. Hy is elke paar jaar na ‘n ander dorp verplaas en hulle het eers op Oudtshoorn, daarna Darling, Graaff-Reinet, Uniondale en uiteindelik Hartenbos gewoon.
Hul drie dogters, Amanda, Toni en Hilary is tussen 1959 en 1964 gebore. Dalene se eerste kinderstories wat sy vir die radioprogram Siembamba geskryf het, het sy eers op die drie dogtertjies getoets. As hulle tot die einde geluister het, het sy geweet die storie werk, maar as hulle met die kombers se punte begin speel het, het sy dit oorgeskryf.
Op Graaff-Reinet, waar die gesin van 1967 tot 1971 gebly het, het Dalene se liefde vir bewaring na vore getree. Sy het ’n halfdagpos as kurator van die Hester Rupert-kunsmuseum aanvaar en by dr. Anton Rupert se restourasiespan aangesluit. Op Uniondale het sy gehelp met die restourasie van die watermeule en die Ou Fort wat uit die Anglo-Boereoorlog dagteken.
Die dorpsbiblioteek was vir hierdie ywerige leser in elke dorp ’n uitkoms en haar dogters moes saam met haar dié versamelwêrelde van kennis ontdek.
Met haar kortverhale het Dalene meer gesukkel as met haar kinderstories. Sy het byna ’n jaar gesukkel voor ’n tydskrif een van haar verhale aanvaar het. Haar bekendste bundel kortverhale, Die Judasbok, het in 1982 verskyn en is goed deur resensente ontvang.
Die kunstenaar se kreatiwiteit is ’n misterie. Elke kunstenaar se gees werk op ’n unieke wyse om, in die digter William Blake se woorde, die hemel in ’n sandkorrel raak te sien, of die ewigheid in ’n veldblom. In Dalene het die misterie wat kreatiwiteit is, ook snaakse draaie gemaak. Nie baie mense weet dat sy ’n kranige pianis met ’n lisensiaat in musiek was nie. Sy het musiekles gegee en elke dag van haar lewe klavier gespeel, tot die dag dat sy aan Kringe in ’n bos, haar eerste bosroman wat haar onmiddellik op die wêreldkaart geplaas het, begin werk het. Daarna het sy nooit weer aan ’n klavier geraak nie. Die skrywersmuse het die oorhand gekry. Haar medium het die taal geword.
Larius, Dalene se man, moes in 1978 om gesondheidsredes aftree en so beland die gesin op Hartenbos, die plek waar sy waarskynlik bestem was om te wees, want hier sou sy die magiese Knysnabos leer ken en sou haar skryfloopbaan behoorlik vlamvat met die skryf van Kringe in ’n bos, die eerste van haar vier bosromans. Die ander drie stories is Fiela se kind, Moerbeibos en Toorbos.
Aan joernalis Elmarie Rautenbach het Dalene vertel dat sy in dié tyd by ’n kruispad was met haar skryfwerk. Kortverhale wou sy nie meer skryf nie, maar wat sou die leemte vul? Om helderheid te kry het sy en haar man ’n staptog deur die bos aangepak. Van die eerste tree af was sy onder die bekoring van die bos en het haar vrae begin: Hoekom was daar ’n uitheemse eikeboom in die middel van die bos? Hoe het die grootskaalse verwoesting van die bos begin? Wat het van die olifante geword?
Dalene se aard was om na te vors, te probeer deurdring tot die hart van dinge en sy sou dié karaktertrek ten bate van die bos gebruik. Nooit het sy die bos sommer net geromantiseer nie. Dit was vir haar ’n entiteit met sy eie siel en het eerbied en ontsag ontlok. Partykeer kan jy aanvoel dat hy jou vertrou, ander kere nie. Elke groen blaar was vir haar ’n klein fabriek, en die bos ’n kragstasie waarvan die energie ver buite sy grense uitgesaai is. Sy het ingesien dat die dag wanneer die mens die laaste oerwoudbos op aarde verwoes het, hy vir altyd ’n deel van sy innerlike vrede, vryheid en vreugde sou verloor, want die bos raak ’n mens se siel aan.
Volgens ’n artikel in The Citizen begin sy in 1981 met ’n tydperk van elf maande van intensiewe navorsing oor die bos – die aard daarvan, die plante, die taal van die bos, die bewoners, die bome, die seisoene. Sy het onderhoude gevoer met elke houtkapper wat die tydperk voor 1939, die jaar toe dié gemeenskap uit die bos verwyder is, kon onthou.
Die belangrikste tema wat deurgebreek het, was die geleidelike verwoesting van die bos en die hartelose uitwissing van die olifante. Die gierigheid vir hout en ivoor in die negentiende eeu was die direkte oorsaak hiervan. Weens diepe standverskille was die armoedige boswerkers so verpand aan die uitlandse houthandelaars dat hulle die bos moes uitroei om hul skuld afgewerk te kry. Dis hierdie armoediges wie se storie sy wou vertel, en hulle was dankbaar daaroor. Een van hulle het op ’n dag vir Dalene gesê: “Sal iemand dan uiteindelik voor die Here ons storie vertel?”
Met ’n diep seer en woede in haar binneste het Dalene uitgevind dat daar honderd jaar gelede nog drie tot vier honderd olifante in die Knysnabos was. Vandag is daar net drie oor. Al wat haar donker bui oor die verwoesting kon verlig, was die bewaringswerk wat tans gedoen word.
Uit haar navorsingswerk het Kringe in ’n bos voortgevloei. Haar taalvaardigheid, onmiskenbare liefde vir die bos en die passie wat in die boek tot uiting gekom het, het haar gewildheid ook buite die landsgrense verseker. Sy het die Engelse vertaling van die roman gedoen. “Afrikaans is ’n hoogs emosionele taal,” het sy gesê. “Jy kan tot by die kern indryf. Engels is meer gereserveerd, pragtig gereserveerd. Maar ek wou op ’n manier daardie emosie in die Engels laat deurkom.”
Ná die sukses van Kringe het Fiela se kind in 1985 gevolg en weer was die kritici gaande oor die boek. Net soos met Kringe in ’n bos verwerf Dalene ’n ATKV-prys vir dié roman en in 1999 word Fiela as die Afrikaanse Boek van die Eeu aangewys. Dit word ook vir die verhoog en as ’n rolprent verwerk en word selfs as ’n musiekblyspel opgevoer – wat met twee Vita-toekennings bekroon is.
Uit respek vir haar lesers – “jy skryf altyd vir daardie een mens wat meer weet as jy”- het sy vir al haar boeke, en veral die historiese romans, uitvoerig navorsing gedoen. Vir Moerbeibos, die bosroman oor die Italiaanse sywurmboere wat ingevoer is om ’n sybedryf hier te vestig en wat in die bos krepeer het, het sy byvoorbeeld in Italië en Engeland gaan navorsing doen. Vir Pieternella van die Kaap, die lewensverhaal van die opstandige Pieternella van Meerhoff in die Kaap van die sewentiende eeu, is Dalene Nederland, Londen en Mauritius toe. Dit was nie vir haar moeite om tot vier jaar lank navorsing en agtergrondwerk te doen voor sy by die skryf van ’n boek uitgekom het nie.
Dalene Matthee was ’n eerlike mens sonder enige pretensie. Sy het byvoorbeeld met die manuskrip van Kringe in ’n bos in ’n plastiek-inkopiesak by Tafelberg-Uitgewers opgedaag. Van haar eerste besoek aan Engeland het sy gesê: “Ek het soos ’n boerpampoen tussen aarbeie gevoel.” ’n Mens moes ook nie met kunsmatige goed soos margarien by haar aankom nie. Net botter, want “ek eet regte kos”. Joernaliste, veral anderstaliges, het hulle verwonder aan dié enigmatiese vrou met die vonkel in die oog, die gebrek aan ’n wag voor haar mond en die groot gebare wat haar woorde vergesel het.
Oor haar talent om ’n storie te kan vertel het almal saamgestem. Sy het nie ’n kitsresep vir voornemende skrywers gehad nie, net gesê “jy moet ’n boek laat lewe”. Die reeks toekennings wat sy ontvang en die groot impak wat haar boeke ook oorsee gehad het, het getuig van die lewe wat sy in haar boeke ingesit het. Volgens Frederik de Jager van Tafelberg-uitgewers het sy dit reggekry om haar eiesoortige idees in ’n storieboek in te ploeg “sodat jy die boek agter die storie aan lees, maar baie meer daarmee saam kry”.
Haar boeke is in 14 tale vertaal. Sy is ook die enigste Afrikaanse skrywer van wie meer as ’n miljoen boeke in Afrikaans by Tafelberg-Uitgewers in Suid-Afrika verkoop is. Kringe in ’n Bos en Fiela se Kind is langer as twintig jaar in skole voorgeskryf.
Uitgewer Charles Fryer het gesê: “Die olifant Oupoot het begin loop en sy pad dwarsdeur die Afrikaanse letterkunde gebaan.”
Naas ’n rits plaaslike literêre pryse, ereburgerskappe en erkenningspryse vir haar boswerk, het Dalene in 1993 ’n Switserse letterkundeprys gekry vir haar “lewenskragtige literêre werk en hartstogtelike belangstelling in natuurbewaring”.
Dalene Matthee is op 20 Februarie 2005 op Mosselbaai aan hartversaking oorlede. Sy het drie weke voor haar dood nog aan die Engelse vertaling van haar laaste roman, Die uitgespoeldes, gewerk.
Haar dood was vir almal onverwags. Haar dogter, Amanda, vertel: “Sy was in die hospitaal vir toetse. Sy het nooit van hospitale gehou nie en wou haarself die dag voor haar dood met alle mag ontslaan. Ons het gedog as sy nog so difficult kan wees, hoef ons nie bekommerd te wees nie. Miskien was dit hoekom haar dood vir ons kinders so ’n groot skok was – ons het dit nie sien kom nie. Sy is die Sondag in die vroeë oggendure oorlede. Ek en my susters het in ons dommigheid gedink om niks te sê nie, die Dinsdag ’n beriggie in die koerant te sit en die Woensdag stilweg begrafnis te hou, want sy was ’n baie private mens. Maar voor ontbyt Sondag het die eerste koerante gebel. Ons was nie voorbereid op die stortvloed boodskappe en blomme van oor die hele wêreld nie. Ons het nie besef hoeveel mense weet wie my ma is nie.”
Die Knysnabos en sy besoekers sal Dalene nie vergeet nie. Haar laaste rusplek waar haar as gestrooi is, is by Krisjan-se-Nek, een van haar geliefde plekke in die bos. In 2008 is ’n gedenksteen vir haar by Krisjan-se-Nek onthul. “Dalene het dikwels hier by Krisjan-se-Nek haar siel kom voed om haar stories oor die bos te kon skryf. Dit is waar sy nou rus,” lui ’n gedeelte van die inskripsie. Die groot Outeniekwa-geelhoutboom van meer as 880 jaar oud by Krisjan-se-Nek heet nou die Dalene Matthee Big Tree en die staproete wat daar begin, die Kringe in ’n bosroete. Die roete neem jou na die hart van die inheemse bos. Dit loop verby eeue oue geelhoutreuse en boomvarings van drie meter hoog. Waar jy ’n varing sien wip, is daar dalk ’n feetjie en as jy doodstil is, sal jy dalk Dalene Matthee se hartklop hier hoor.
Bronne: www.dalenematthee.co.za; Onderhoud met Dalene Matthee in Radio & TV Dagboek, 29 Jul. 1985; I. L. de Villiers: “Die Formidabele Vrou van die Bos” in Sarie, 19 Nov. 1986; Alan Franks: “A Forest Killed for Greed” in The Times, 28 Aug.1984; Cathy Knox: “The Making of a Novelist” in Fair Lady, 25 Jul 1984; Erika Terblanche: “Dalene Matthee (1938–2005)” op www.litnet.co.za; Suzette Truter: “Dalene Matthee: So skryf ek” in Sarie, 28 Okt 1992