Beeld van ’n vrou: Colette

Beeld van ’n vrou: Colette deur Corlia Fourie

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Die Franse skrywer Colette is in die res van die wêreld veral bekend vir Gigi, Chéri en die Claudine-stories. Maar in haar tuisland word sy en Proust nou as die oorspronklikste skrywers van die eerste helfte van die twintigste eeu beskou.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Toe sy in 1954 op 81 oorlede is, is sy met ’n staatsbegrafnis vereer. Haar kis, met die Franse Driekleur daaroor gedrapeer, is in die binnehof van die Palais-Royal in Parys geplaas. Duisende mense het hul respek daar kom betoon.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Colette was nie net bekend vir die manier waarop sy in haar werk grense verskuif het, vroulike seksualiteit verken en die politiek van gender oopgeskryf het nie, maar ook vir die goed wat sy in die gewone lewe aangevang het. Sy het nooit vir ’n skandaal teruggedeins nie.

In Maart 2011, honderd jaar nadat La Vagabonde, (Engelse titel: The Vagabond) ’n verhaal oor liefde en eensaamheid in die Paryse konsertsale gepubliseer is, het die Britse resensent James Hopkin ’n gloeiende resensie oor die boek in The Guardian geskryf. En geëindig met: “Het die verhaal verouder? Glad nie. Hier is genoeg energie en vindingrykheid om enige stowwerige, outydse sjarme weg te blaas. Ek sê al jare lank dat niemand met soveel begrip oor verhoudings skryf soos Colette nie.” In die eerste deel van die resensie sê hy kort en klaar: “She has more punch than Proust.” Voorwaar groot aanprysing.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Sidonie-Gabrielle Colette is op 28 Januarie 1873 op die dorpie Saint-Sauvear-en-Puisaye in Boergondië op die Franse platteland gebore. Haar pa, Jules, ’n belasting-beampte, het haar aan die letterkunde bekend gestel, maar haar ma, Sidonie (Sido), het die grootste invloed op haar lewe gehad. Sido was hartstogtelik lief vir die natuur en het dié liefde aan Colette oorgedra.

Selfs op skool het Colette daarop aangedring dat sy net op haar van genoem word –’n Europese gewoonte wat gewoonlik tot seuns beperk is. (Maar haar van is ook ’n naam in Frankryk.)

Op 16 het Colette haar pa op ’n reis na Parys vergesel en Henry Gauthier-Villars ontmoet. Hy het haar betower. Villars, of Willy soos hy bekend was, het teen sy bourgeoisie-familie gerebelleer en heel gemaklik in die Boheemse lewe van die Belle Époque-tydperk (“die mooi tyd”) ingeglip. Hy het stories, rubrieke en musiekresensies geskryf en was reeds bekend toe hy die jong Colette ontmoet. Sy het hom met haar elfagtige sterk skoonheid en vitaliteit bekoor. Die biseksuele Willy het buiten gay verhoudings ook talle minnaresse gehad.

Op twintig is Colette met hom getroud en sy is saam met hom Parys toe. Colette het ongetwyfeld gedink dat sy baie by hom (hy was 15 jaar ouer as sy) kon leer en was ook gevlei deur sy aandag.

Maar sy het hom eers ná die troue werklik leer ken toe sy elke dag alleen met net haar kat as geselskap in ’n klein, koue Paryse woonstelletjie moes bly terwyl hy mense (ook sy minnaresse) besoek het om volgens hom, vonke vir sy stories en rubrieke te kry. Saans het sy hom na die musieksale vergesel waar sy mansklere gedra het (in ’n tyd toe dit – buiten op die verhoog – verbied was).

Henry se belangstelling in Colette, sê William H. Gass in Three Photos of Colette, was dié van ’n skoolseun wat skoon sneeu bemors. Henry het Colette nie net verneder met sy gay verhoudings nie, maar hy het later selfs sy minnaresse na hul woonstel gebring waar hulle in Colette se klerekaste rondgekrap het. Een keer het Colette hom gevolg om hom op owerspel te betrap, maar toe sy hom in die omhelsing van ’n gestremde vroutjie sien, was sy so jammer vir die vrou dat sy dit daar gelaat het.

Omdat daar iets met die stoof verkeerd was – iets wat Henry nie laat regmaak het nie – het Colette van neute en bonbons geleef. So ongelukkig was sy dat sy ná net ’n jaar se huwelikslewe onverklaarbaar ernstig siek geword het.

Die pluspunt was dat sy kon teruggaan na haar tuisdorp waar haar ma haar versorg het. Sido het haar gesond gedokter en gesê: “Onthou, die enigste mens op wie jy werklik kan vertrou, is jouself.”

Terug in Parys het haar man haar aangemoedig om oor haar jeugjare te skryf. In sommige bronne word selfs vertel dat hy haar bedags in die woonstel toegesluit het met die opdrag dat sy moes skryf. Sy het uiteindelik nege notaboeke vol geskryf – die eerste drie Claudine-boeke – en hulle vir hom gewys. Maar selfs ná aanmoediging om die meisie se nuuskierigheid oor seks meer eksplisiet te maak, het hy gedink dis so-so en die boeke in ’n kas gegooi.

Terwyl Colette haar hart uitgestort het in die stories wat later as die Claudine-reeks bekend sou raak, het sy in die lang briewe aan haar ma fiksie oor haar lewe in Parys geskryf – hoe wonderlik alles is. Beslis nie hoe alleen sy is of hoe vreeslik sy huis toe verlang nie.

Willy kon nie met geld werk nie en ook vanweë sy duur smaak in kos en klere het hy heeltyd op die rand van bankrotskap gewankel. Een keer toe die geldnood veral hoog was, het hy die notaboeke in sy kas “ontdek” en toe tog vir ’n uitgewer gegee. Dit was ook nie Colette se naam wat aanvanklik op die voorblaaie van die Claudine-reeks verskyn het nie, wel dié van haar charlatan-man: Willy. (Willy was gewoond daaraan om mense te betaal om vir hom te skryf: spookskrywers sowel as sy gay vriende.)

Nou nog word die Claudine-boeke gelees oor hul varsheid. Maar vroeg in die twintigste eeu het hulle veral geskok, tot Willy se tevredenheid en sy stewige bankbalans. Die Claudine-boeke was so gewild dat dit tot parfuum, lekkergoed en sigarette met dié handelsnaam gelei het.

Colette het die verhale vir die verhoog aangepas. Terwyl die trefferstuk opgevoer is, het Willy daarop aangedring dat Colette op straat verskyn in die klere wat die aktrise op die verhoog dra.

Toe Colette uiteindelik haar ontroue man in 1904 verlaat, was haar lewe niks makliker nie. Selfs ná die wegholsukses van Claudine het sy geen geld of beleggings gehad nie. Sy het ook (soos die meeste vroue in daardie tyd) geen opleiding gehad nie. Al wat sy in Parys leer ken het, was die musieksale waarheen sy Willy elke aand vergesel het. (Nog lank nadat hulle uitmekaar is en dit reeds bekend was dat Colette die verhale geskryf het, het hy geweier om die tantieme aan haar oor te betaal.)

Colette was dalk onskuldig toe sy Willy ontmoet het, maar nadat sy hom verlaat het, het sy die kans gekry om haar onderdrukte fantasieë uit te leef. Sy het haar teen die samelewing se seksistiese morele norms verset en in dié proses het sy die geleentheid vir vroue wêreldwyd geskep om dieselfde te doen.

Sy het op skool in musiek uitgeblink en het as sanger en danser in die musieksale begin werk. Dit was harde werk met lang ure en min geld. Hier het sy naam gemaak as ’n onkonvensionele vrou wat soms skokkende goed gedoen het. Sy het ook saam met haar vriendin Mathilde de Morny, die markiesin De Beleuf (op die verhoog bekend as Missy), opgetree.

Die twee het ’n romantiese verhouding gehad en het saam in die pantomime Rêve d’Egypte by die Moulin Rouge opgetree. Hul vryery op die verhoog het ’n opskudding veroorsaak en die polisie is ingeroep. Daarna is alle opvoerings van dié produksie verbied en daar was soveel teenstand teen hul verhouding dat Colette en Missy nie meer saamgebly het nie, hoewel hul verhouding nog jare lank stilletjies voortgegaan het.

Colette was in dié tyd ook in ’n heteroseksuele verhouding met die Italiaanse skrywer Gabriele d’Annunzio betrokke.

Colette het ook in ’n optrede haar een bors ontbloot. Sy het daarna die gebaar vir ’n fotograaf herhaal. Op die foto kan gesien word hoe sy in ’n geskeurde onderrokkie, haar een bors ontbloot, trots op haar mooi lyf, na die kamera staar. Die uitstalling het oral omstredenheid veroorsaak en die bourgeoisie tot in hul niere geskok.

In 1912 is Colette met Henri de Jouvenel, redakteur van die dagblad Le Matin, getroud. (Le Matin is in 1944 gesluit.) ’n Dogter, Colette de Jouvenel, is uit die skrywer se tweede huwelik gebore. Die familie het die kind “Bel-Gazou” genoem. Sy is in ’n Britse nanny se sorg gelaat en het min van haar beroemde ma gesien.

In dié tyd het Colette bydraes en resensies vir Le Matin geskryf, asook die libretto vir Ravel se opera L’enfant et les sortileges.

In die Eerste Wêreldoorlog het sy haar man se landgoed in ’n hospitaal vir die gewonde soldate omskep en in 1920 het die Franse regering die gesogte chevalier (ridder) van die Legion d’honneur aan haar toegeken.

Colette en Henri is in 1924 geskei, ná nog ’n skandaal: Colette se verhouding met haar stiefseun, Bertrand.

In die twintigerjare van die vorige eeu het Colette van haar belangrikste werk geskryf, romans soos Chéri en La Fin de Chéri (Die einde van Chéri). Die Chéri-boeke het gehandel oor ’n ouer vrou se verhouding met ’n jonger man. In ander werk soos La Maison de Claudine en Sido het sy teruggekyk na haar betowerende kinderjare op die Franse platteland.

Chéri was Colette ’n “modernis”, met die klem op moderne poësie en skilderwerk, en sy was een van die skrywer, digter, dramaturg en skilder Jean Cocteau se talle vriende. Hul verhouding word in hul albei se boeke beskryf. Teen 1927 is sy dikwels Frankryk “se belangrikste vroueskrywer” genoem. Ná haar vyftigste verjaardag en tot met haar dood was haar lewe produktief en sereen. In 1935 is sy vir die derde keer getroud. Dié keer met die skrywer Maurice Goudeket wat 16 jaar jonger as sy was. Hulle was tot met haar dood dertig jaar later gelukkig saam. Presies hoe gelukkig, het hy in sy memoires Près de Colette (1955; Close to Colette), geskryf.

In die Tweede Wêreldoorlog het Colette in Parys bly woon en werk. Sy het talle van haar Joodse vriende gehelp. Volgens een bron is Maurice, ’n Jood, deur die Nazi’s in hegtenis geneem, en het sy sy vrylating bewerkstellig. ’n Ander bron sê dat sy hom die hele oorlog lank op haar solder weggesteek het.

Haar roman Gigi, geskryf toe sy reeds in die sewentig was, het gehandel oor twee ouer susters wat ’n jong meisie grootmaak om ’n courtesan te wees. Gigi is vir die rolprentskerm sowel as die verhoog aangepas. Die rolprentweergawe van 1958 met Maurice Chevalier, Louis Jourdan en jong Leslie Caron in die hoofrolle was wêreldwyd ’n treffer en is vier jaar ná haar dood uitgereik.

Kort ná die Tweede Wêreldoorlog het Colette baie siek geword. Sy het artritis in so ’n erge graad gekry dat sy die res van haar lewe in ’n rolstoel moes deurbring. Maurice het haar versorg en was altyd aan haar sy. “Hy is wonderlik,” het sy gesê. “ ’n Ware heilige.”

Toe sy in 1954 oorlede is, het Colette vyftig romans geskryf, baie met outobiografiese elemente. Haar temas kan min of meer verdeel word in idilliese stories of donkerder verhale oor verhoudings en die liefde.

Toe sy ’n paar jaar voor haar dood die première van ’n dokumentêre prent oor haar lewe bywoon, het sy vir Maurice gesê: “Ek het darem ’n mooi lewe gehad.” En ’n veelbewoë een.

Deel
Gepubliseer deur
Anelle Tewson

Onlangse plasings

Kry katte en honde ook Alzheimersiekte?

Kan my kat of hond ook Alzheimersiekte kry? Dis wat jy moet weet oor "canine…

1 day Gelede

Hoe om die kleredragreëls op uitnodigings te verstaan

Sodra jy dink jy het al die voorskrifte onder die knie, hoor jy daar is…

1 day Gelede

Is jou kleinding se sintuie oor- of ondersensitief?

Het jy geweet jou baba of peuter moet letterlik leer om sintuiglike inligting te filtreer…

1 day Gelede

Waatlemoen-pizza met gebraaide feta

Die nuwe (en gesonder!) pizza - in slaai-vorm!

1 day Gelede

Bessiejellies

Genoeg vir 6 Bestanddele   625 ml (2½ k) tee-en-vrugtesap 30 ml (2 e) gelatienpoeier…

1 day Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met Len Muller oor sy passie vir musiek en sy gesin

Buiten vir sy uitsonderlike talent as musikant en liedjieskrywer, is Len Muller ook bekend as…

1 day Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.