Beeld van ’n vrou: Coco Chanel deur Regina Malan
Die spiraaltrap wat weerskante met spieëls versier is, kenmerk die modehuis van Chanel. Aan die bokant van die trap, uit die oog van die mense, het die ontwerper altyd gestaan en kyk hoe haar modevertonings verloop.
Die spieëls suggereer iets van vlugtigheid, van tydelikheid. Volgens Jean Picardie in haar Coco Chanel-biografie weerkaats die spieëls gelyktydig uit alle hoeke. Soos jy die trappe opklim, sien jy jouself voortdurend, die beeld opgebreek in skyfies ledemate en gesig.
Die Chanel-boetiek het ook versilwerde spieëls teen die mure waarin ’n video van modelle op ’n bewegende rondomtalie aanhoudend weerkaats. Ook die dubbeldeur na Coco se private woonplek is ’n spieëldeur, en in die ingangsportaal is daar soveel herhalende weerkaatsings in die bespieëlde mure dat ’n mens jou sin vir rigting kan verloor.
Net so vlugtig en onseker is die kennis wat die wêreld van dié suksesvolle vrou het. Een van die bekendste mode-ontwerpers van ons tyd, wêreldberoemd, aan die sy van ryk mans, uitgesproke, suksesvol was sy, die enigste vrou uit die couture-bedryf op Time se lys van die invloedrykste vroue van die twintigste eeu.
Maar wie was sy regtig? Die méns agter die Chanel-handelsnaam bly haar biograwe ontglip. En juis dit versterk haar legende, want dit verhoog die allure om die naam Chanel. Sy het stories oor veral haar kinderjare versin, haarself ook tien jaar jonger gemaak deur haar geboortedatum te verander. Onafhanklik en selfgenoegsaam wou sy uit eie keuse nooit trou nie, maar aan die einde van haar lewe, alleen, het sy gesê: “’n Mens moenie alleen leef nie. Dit was ’n fout. Ek het gedink ek moet my lewe op my eie leef, maar ek was verkeerd.”
Biograwe kon wel daarin slaag om feite in te win oor hierdie werklik unieke en talentvolle vrou, wat die mode in haar eie tyd en vir dekades daarna bepaal het, maar niemand kon ooit die mens Coco Chanel heeltemal kleinkry nie.
Gabrielle Bonheur Chanel is op 19 Augustus 1883 in Saumur, Frankryk, gebore. Sy was die tweede dogter van Albert Chanel, ’n markstalletjiehouer, en Jeanne Devolle, ’n wasvrou. Toe Gabrielle twaalf was, is haar ma aan tuberkulose dood en ’n week later het haar pa die pad gevat en die gesin sonder sorg gelaat. Familie het Gabrielle se boeties en sussies grootgemaak, maar nonne in die weeshuis van ’n Rooms-Katolieke klooster in die dorpie Aubazine sou vir ses jaar na Gabrielle omsien.
Daar was weinig vooruitsigte vir so ’n brandarm kind. Coco het haar droom van ontsnapping uit die afbrekende wêreld van armoede begin koester, en as volwassene het sy nooit weer na haar tyd in die weeshuis verwys nie. Sy het trouens moeite gedoen om ’n verbeelde storie van haar tantes wat na haar omgesien het, die wêreld in te stuur en alle spore van haar weeshuisagtergrond uit te wis. Sy wou haar heeltemal van dié traumatiese tyd distansieer. Teenoor haar eerste minnaar, Etienne Balsan, het sy die swaarkry erken: “Regdeur my kinderjare het ek gewens dat iemand my sou liefkry. Ek het elke dag planne bedink om myself om die lewe te bring.”
By die nonne in die klooster het sy geleer naaldwerk doen. In skoolvakansies het sy by familielede gaan kuier en daar ook fyner naaldwerkkunsies aangeleer. Dié kennis het die grondslag vir haar latere loopbaan as modeontwerper gelê.
Op 18 moes Gabrielle die weeshuis verlaat. In Vichy en Moulin het sy ’n tydjie lank as sanger en kabaretdanser opgetree en die bynaam Coco gekry, blykbaar vanweë twee liedjies wat sy gereeld gesing het, “Ko Ko Ri Ko” en “Qui qu’a vu Coco”.
Etienne Balsan was die eerste van ’n hele paar skatryk mans wat ’n invloed op Coco se lewe sou hê. Balsan was ’n berede weermag-offisier, tekstielerfgenaam en perdeteler wat Coco as sy minnares in die rojale en luukse leefstyl van die elite ingelyf het. Hoewel hy dikwels ontrou aan haar was, het Balsan tot aan die einde van sy lewe lojaal teenoor haar gebly en nooit enige geheime wat sy aan hom toevertrou het, oorvertel nie.
Hul verhouding het nie lank geduur nie, maar deur Balsan het sy die groot liefde en anker van haar lewe ontmoet: kaptein Arthur Edward Capel, met die bynaam Boy. Jean Picardie suggereer selfs dat die beroemde ineengevlegte dubbel-C-embleem van die Chanel-modehuis nie net op haar eie voorletters dui nie, maar op dié van Chanel en Capel.
Boy Capel kom uit ’n skatryk Britse familie wat ’n fortuin uit steenkoolmyne in die noorde van Engeland gemaak het. Hy het ’n konserwatiewe Rooms-Katolieke opvoeding gehad en met groot sukses die familie-onderneming uitgebrei, maar was ook jonk en avontuurlustig, die spreekwoordelike playboy. Coco kon sy groen oë, aantreklikheid en charisma nie weerstaan nie en het dadelik op hom verlief geraak. Toe Capel ná sy kuier in die Balsan-kasteel by Royallieu Parys toe is, het Coco nie gehuiwer nie. Sonder sy medewete het sy haar tas gepak en die volgende oggend was sy saam met hom op die trein.
Om deur skatryk mans onderhou te word, het sy voordele gehad en het haar vakansies in die speelplekke van die rykes besorg, maar dit het nie by Coco se gedrewe, sterk persoonlikheid gepas nie. Wat sy regtig wou hê, was om finansieel onafhanklik en selfstandig te wees.
Capel en Balsan het saam vir haar geld voorgeskiet om in 1910 ’n klein hoedemakery op die been te bring en danksy hul konneksies was dit nie moeilik om klante te kry nie. Soos met die latere modes wat sy geskep het, was haar hoede gestroop van die oormaat tierlantyntjies van haar tyd, die sogenaamde Belle Epoque. Sy wou vroue vry maak, hulle gemaklik laat voel. Haar eie klerestyl was altyd jeugdig en amper manlik in die eenvoud daarvan. “Niks verouder ’n vrou meer as oordadige luuksheid, versierings en ingewikkeldheid nie,” het sy gesê.
Gaandeweg het Coco van hoede na klere-ontwerp oorgeslaan. In 1913 het sy ’n boetiek in Deauville oopgemaak en in 1915 een in Biarritz. In die Eerste Wêreldoorlog het haar eenvoudige ontwerpe en gemaklike materiale so gewild geword dat sy in 1919 die Huis van Chanel op die Rue de Cambon in Parys kon open, waar dit vandag nog staan. Haar sukses, wat meegebring het dat sy van niemand meer afhanklik was nie, het Boy Capel onthuts. “Ek het gedink ek gee jou ’n speelding,” het hy half treurig gesê met verwysing na die winkel wat hy vir haar oopgemaak het, “maar ek het eintlik vir jou vryheid gegee.”
Capel het haar ook aan die coromandel-skerms bekend gestel. Dié Chinese kamerskerms met rooi of swart lakwerk waarop versierings geverf word, het ’n kenmerkende dekorvoorwerp in haar huis en salon geword. Coco se skerms was onder meer met wit voëls en spierwit kamelias versier.
Die wit, skoon en strakke eenvoud van die kamelia het Coco met haar afkeer van oordadigheid, gefassineer. Afgesien van die coromandel-skerms het sy die kamelia ook in kandelare in haar woonstel gebruik, en later het dit dikwels as versiering op een van haar couture-items soos handsakke, sandale of selfs sambrele en sonbrille verskyn. Die bekendste simbole van die Chanel-handelsmerk is juis die wit kamelia, die dubbel-C-embleem en die stringe wit pêrels wat dikwels die enigste versierings vir haar eenvoudige uitrustings was.
In 1919 is Boy Capel in ’n motorongeluk oorlede. Dit was, volgens Jean Picardie, “die diepste sny in Coco se hart; die wond wat nie wou heel nie”. ’n Vriend wat die nuus aan haar oorgedra het, het vertel hoe haar gesig van smart vertrek het. “Die ergste was om hierdie vrou met droë oë te sien huil.”
Sy het later weer verhoudings met ryk en aristokratiese mans aangeknoop, onder andere met aartshertog Dimitri van Rusland en die fabelagtige ryk hertog van Westminster, maar die verlies sou vir altyd ’n leegheid in haar lewe meebring.
Haar modehuis, aan die ander kant, het gefloreer. Uiters hardwerkend, kreatief en dinamies het sy al die konvensies van die tyd uitgedaag. Sy het die groot pofmoue, ingerygde lyfies, korsette en strikke van daardie tydperk as beperkend vir vroue afgemaak. Met kort gesnyde hare, korter rokke, regaf ontwerpe sonder klein middeltjies, en sagte breistowwe het sy vroue geëmansipeer. Vroue het oor hul voete geval om die sogenaamde “Flapper”-voorkoms te kry. Die eenvoud van haar ontwerpe, die sagte luuksheid van die materiale en die neutrale kleure het ’n gemaklike maar sterk elegansie uitgestraal.
Enigeen wat vandag ’n “klein swart nommertjie” in haar kas het, kan Coco Chanel daarvoor bedank. Knielengte rompe, haar bekende cardigan-baadjie, langbroeke vir vroue en klokpypbroeke is vandag nog stapelitems en ’n bewys van die enorme invloed wat sy op die modebedryf gehad het. Sy het die bonte mengelmoes van kleur wat in haar jong dae mode was, vervang deur neutrale kleure – wit, swart, donkerblou en roomkleur. “Vroue dink aan alle kleure behalwe aan die afwesigheid van kleur,” het sy gesê. “Swart is alles. Wit ook. Hul skoonheid is absoluut. Dit is ’n volkome harmonie.”
Coco Chanel was die eerste modeontwerper wat haar eie parfuum geskep het. In 1925 is die legendariese No. 5-parfuum aan die wêreld bekend gestel. Volgens Wikipedia lui ’n verslag van die Franse regering dat daar wêreldwyd elke dertig sekondes ’n bottel No. 5 verkoop word en meer as honderdmiljoen euro per jaar verdien. Chanel het haar herinneringe aan die blomtuine van die klooster in Aubazine waar sy grootgeword het, in dié fyngeur verewig.
Twee broers van Joodse afkoms, Pierre en Paul Wertheimer, het die finansiering vir die stigting van die maatskappy Parfums Chanel verskaf. Coco het slegs tien persent aandele in die onderneming gehad. Sy het verontreg gevoel en later, rondom die Tweede Wêreld-oorlog, het sy selfs anti-Joodse sentiment en wetgewing probeer gebruik om haar onderneming uit die Wertheimer-hande te kry. Uiteindelik, in 1947, is ’n nuwe ooreenkoms gesluit waarvolgens Chanel ’n eenmalige bedrag aan oorlogswins uit die parfuum sou ontvang, asook twee persent van alle Chanel No. 5-verkope wêreldwyd. Daarmee het sy een van die rykste vroue ter wêreld geword. Coco was nie net ’n briljante modeontwerper nie, maar ook ’n gedugte sakevrou.
Die Tweede Wêreldoorlog het Europa verander. “Dit is nie nou ’n tyd vir modes nie,” het Coco gesê, en haar modehuis gesluit. Met die Duitse besetting het sy, op 58 jaar, ’n omstrede verhouding met ’n Duitse offisier, Hans Gunther von Dincklage, aangeknoop en in die Ritz-hotel gebly waar die hoë offisiere van die Duitse weermag ook tuisgegaan het.
Met die na-oorlogse anti-Duitse sentiment, is sy daarvan verdink dat sy vir die Duitsers gespioeneer het, maar sy het haar so verweer: “’n Vrou van my ouderdom kan nie bekostig om na sy paspoort te kyk as sy ’n kans het om ’n minnaar te kry nie.”
Tog het haar glans in die oë van die Franse verdof. Sy het ’n paar jaar in Switserland gaan bly, maar in 1954, op 71-jarige ouderdom, besluit om ’n terugkeer na die modewêreld te maak.
In die jare twintig van die vorige eeu, toe sy beroemd geword het, het vroueontwerpers die botoon gevoer, maar ná die oorlog het mans ook begin naam maak. Christian Dior se New Look het die verbeelding aangegryp. Dit was juis deels uit rebelsheid teenoor sy modes dat Coco besluit het om haar modehuis te heropen. Sy het Dior daarvan beskuldig dat hy weer, soos in die negentiende eeu, vroue stereotipeer as mooi voorwerpe vir mans se gemak. ’n Vrou wat in ’n Dior-rok gaan sit, het sy gesê, lyk soos “n ou leunstoel”.
Haar eerste ná-oorlogse uitstalling het vernietigende kritiek opgelewer. “’n Fiasko,” het die pers dit genoem, “’n moeë herhaling” van ou modes. Die negatiewe kritiek het Coco net aangevuur om met ’n vegtersinstink voort te gaan, ure der ure se vermoeiende werk te lewer en weer fenomenale sukses te behaal.
Een van die bekendste vroue wat haar in dié tyd ondersteun het, was die Amerikaanse presidentsvrou, Jackie Kennedy. Die pienk klassieke Chanel-pakkie en pienk pildooshoed wat sy aangehad op die dag toe haar man, president J.F. Kennedy, in 1963 vermoor is, is op foto’s van die gebeurtenis verewig.
Die dinamiese, rebelse Coco Chanel, ’n klassieke skoonheid in haar jong dae met ’n strewe na sukses en ’n hartstog vir vernuwende vrouemodes, die intelligente skepper van raaisels wat haar persoonlike lewe gekenmerk het en ’n magiese bekoring aan haar sakeryk verleen het, het oud geword. Haar nagte in haar stil, wit slaapkamer in die Ritz is deur nagmerries en slaapwandelings onderbreek; haar dae is steeds deur werk gevul. Die aand van 9 Januarie 1971, reeds 88 jaar oud, het sy moeg bed toe gegaan en vir oulaas vir haarself ’n slaapinspuiting gegee. Daardie nag het sy gesterf. Met haar begrafnis is haar kis bedek met wit blomme, kamelias, katjiepierings, orgideë en asaleas.
Oor haar navorsing oor Coco se lewe, sê Jean Picardie dat jy vir ewig kan soek, maar nooit al die verlore deeltjies sou opspoor nie. Die raaisels lê oral soos verwaaide blomblare.
Maar oor Coco se bydrae aan die modefront kan daar nooit twyfel wees nie. Vandag nog, onder leiding van die talentvolle Karl Lagerfeld, simboliseer die Huis van Chanel eenvoudige, tydlose elegansie met ’n jaarlikse verdienste van miljoene rand.
Marina Carlson vertel op ’n web-blog van haar onlangse besoek aan die Chanel-mode-huis waar klassieke, goeie smaak steeds die wagwoord is. Klere hang in eenvoudige hokkies, toebehore word op verligte rakke uitgestal. Die parfuum wat sy koop, word as ’n geskenk toegedraai. Dit word in ’n kraakwit Chanel-sak gesit en met ’n foutlose strik van die kenmerkende swart-en-wit lint afgerond. Die kwitansie word gebêre in ’n wit vouertjie met die ikoniese wit kamelia daarop gebosseer – mademoiselle Chanel se stylvolle nalatenskap.
Bibliografie: Justine Picardie, Coco Chanel the Legend and the Life, Harper Collins, 2010; www.bangkokpost.com/arts-and-culture; www.famous-women-and-beauty.com;www.independent.co.uk/arts-entertainment; http:/marina carlson.wordpress.com/2011/01/13/theworld-ofchanel; http://en.wikipedia.org/wiki/CocoChanel