Beeld van ’n vrou: Amy Winehouse deur Mariëtte Crafford
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }Amy!” “Amy?” “Amy moet … ” “Amy moenie … ”
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }Met uitroepe en vraagtekens, voorskrifte en vermanings, voorspellings, en gewoonlik verbasing, het mense op Amy Winehouse se lewe en optrede gereageer. Met beskrywings soos “gefolterde diva”, “eksentrieke enigma” en “eietydse musieklegende”, “bad girl” van die bedryf, “vreeslose genie”, het Amy ’n onuitwisbare baken op die musieklandskap geword. Soos wat sy as kunstenaar grense verskuif het, het sy verbete en vergeefs by die verloop van haar lewe probeer bybly. Sy het drank en dwelmmiddels as bondgenote – met noodlottige gevolge – in haar tog na selfverwesenliking en haar gevolglike stryd om oorlewing gebruik.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }Hoe aanskouliker haar kort lewe ontvou het, en hoe meer sukses sy behaal het, hoe hartverskeurender het sy ten gronde gegaan. Die mense wat dit gadegeslaan het en daarby betrokke was, het haar tot inkeer probeer bring: “Amy moet mínder drink.” “Amy moet méér eet.” “Amy moet mínder uitgesproke wees.” “Amy moet méér rus.” Almal wou die onverskrokke en dikwels verslae Amy se lewe met raad en daad op ’n vaster en stabieler grondslag help plaas.
Aan dié insette het sy haar bra min gesteur. Sy het geweet wat sy wil – en gedoen wat sy wil. Vir haar het één reël gegeld: Alles of niks. Sy het na die ritme van haar syn se eie musiek gedans. Soms het sy asemrowende vertonings gelewer, soms geskuifel, dikwels gestruikel en ewe dikwels weer in ’n ligbaan haar plek op die verhoog ingeneem.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }Met haar hartstogtelike liefde vir musiek en haar hedonistiese honger as haar turbo-aanjaers het sy deurentyd gedoen nét wat sy wou. Sy het drank en dwelmmiddels gebruik soveel soos wat sy wou. Sy het so min geëet soos wat sy lus gehad het. As sy in alle eerlikheid ’n uitspraak oor iets of iemand wou lewer, het sy dit skromeloos gedoen. En elke keer wanneer sy haar vergryp het en haar oorgawe sy tol geëis het in die vorm van ’n uitbarsting, ineenstorting of verlammende uitputting, het die mense wat oor haar welsyn begaan was, rus aanbeveel.
Sy het ’n paar keer tot ruste probeer kom deur uit die vernietigende spiraal van haar loopbaan en bestaan los te beur, maar gou was sy weer skouspelagtig aan die woed.
En toe, heel ontydig, maar onafwendbaar, was die ewige rus al uitkoms vir Amy Winehouse. Sy was skaars 27 jaar oud toe sy twee jaar gelede aan alkoholvergiftiging dood is.
Maar selfs in die dood het net haar verinneweerde, tengerige liggaam tot ruste gekom. Want haar musiek en musikale nalatenskap leef voort. Soos ’n eietydse legende betaam.
En soos met alle ander stories, sprokies, mites en legendes, was daar ook in die verhaal van die fenomeen Amy Winehouse ’n “eendag”:
Eendag, nie lank gelede nie, is Amy Jade Winehouse op 14 September 1983 in Southgate, noord van Londen gebore. As die tweede kind van Mitchell en Janis Winehouse het sy saam haar broer Alex, vier jaar ouer as sy, in ’n liefderyke Joodse huishouding grootgeword. Mitch was ’n taxi-bestuurder en Janis ’n apteker. Totdat haar ouers geskei is toe sy nege jaar oud was, het Amy ’n sorgelose kindertyd gehad. Sy het volop liefde van haar ouers en haar ouma, haar “nan” – wat mettertyd musiekgewys ’n bron van inspirasie en stylgewys vir haar ’n rolmodel geword het – ontvang. Al was die gesin nie juis godsdienstig nie, was die Winehouses deel van hul hegte Joodse gemeenskap. Amy het dikwels na die koesterende aard van haar gesin en familie verwys: “Ek is ’n ware familiemeisie. Ek is baie gelukkig om ’n ma en pa te hê.”
Haar ouers se egskeiding en haar pa se ontrouheid aan haar ma het haar emosioneel geknou, en toe sy lateraan liedjies begin skryf, het haar belewenis daarvan ook in sommige van haar lirieke voorgekom. Ondanks die egskeiding, was albei haar ouers enduit baie betrokke in haar lewe. Sy het altyd ’n goeie verhouding met haar ma gehad, maar sy was verknog aan haar pa. Buiten hul oordaad aan liefde en sorgsaamheid, was die Winehouse-huishouding altyd deurdrenk met musiek. Amy het met Frank Sinatra, Dinah Washington en Ella Fitzgerald se liedere as agtergrondmusiek grootgeword en daarby het sy altyd gesing.
“Die bure en die onderwysers moes haar behoorlik stilmaak,” onthou haar ma. “Sy was ’n weetgierige en ondersoekende kind en sy wou altyd ’n sanger word.”
Daar was musiektalent in sowel Janis as Mitchell se gene. Janis se broers was jazz-musikante van beroep en Mitch het dikwels as amateursanger by geleenthede opgetree waar hy veral Sinatra-liedere gesing het. Tussen haar en haar pa, Mitch, was ’n besondere hegte band wat versterk is deur albei se diepe liefde vir musiek. “Mitchell en Amy was baie geheg aan mekaar,” onthou Janis. “Hy het altyd Sinatra-liedere vir haar gesing, en omdat hy altyd gesing het, het sy altyd gesing.”
Aanvanklik het sy gevoel sy staan in die skadu van haar broer, Alex, wat homself leer kitaar speel het en van kleintyd af Sinatra-liedere gesing het. Maar hy het haar gehelp om haar eerste en (gunsteling-) kitaar, ’n Fender Stratocaster, te leer speel. Deur na sy gunstelingsangers soos Sara Vaughn en Ella Fitzgerald, te luister, het sy haar op haar musiekloopbaan begin voorberei. Dit was haar ouma wat haar aangemoedig het: “Sing!” het sy beveel. “En glimlag!”
Amy was skaars tien toe sy en haar beste kindertydmaatjie, Juliette Ashby, die meisiegroep Salt-N-Pepa ontdek. Hulle was begeesterd. “Ek het besef hulle is rêrige vroue wat musiek maak,” het sy later verduidelik. Sy en Juliette het hul eie groep Sweet ’n Sour (Amy was Sour) gestig en jazz-liedjies met hip-hop-nuanses daarin begin sing.
Haar dertiende lewensjaar – wat by terugskoue die halfpadmerk in haar kort bestaan was – was ook vir Amy ’n waterskeidingjaar. Dit was toe dat sy na die Shangri-Las, nog ’n vroue-groep, se musiek begin luister het en dit haar laat besef het dat sy ’n musiekloopbaan moes volg.
Sy is ook tot die prestigeryke Sylvia Young Theatre School in Drury Lane toegelaat.
Sy het haar toelatingsaansoek só in ’n essay gemotiveer: “Ek wil iewers heen gaan waar ek tot aan, selfs tot anderkant, my vermoëns se perke gedryf word. Om te sing tydens lesse sonder om aangesê te word dat ek moet stilbly (mits dit sanglesse is). Maar veral het ek hierdie droom om beroemd te word. Om op die verhoog te werk. Dis ’n lewenslange ambisie. Ek wil hê mense moet my stem hoor en net … vir vyf minute van hul sorge vergeet. Ek wil onthou word as ’n aktrise, ’n sanger, vir uitverkoopte konserte en uitverkoopte West End- en Broadway-vertonings. En net omdat ek … myself is.”
Dit was juis haar genadelose eerlikheid en selfkennis wat haar ook op 13 laat verklaar het: “Ek ly aan depressie. Daar hang ’n swart mantel om my.” Hoewel die “swart mantel” ’n metaforiese verwysing na haar terneergedruktheid was, was dit juis haar reusagtige swart haresluier wat later haar kenmerk geword het. Lateraan was daar eenstemmigheid dat sy haar wroeging in onvergeetlike, eerlike musiek omgesit het. En daarmee het sy deure vir andere vroulike Britse kunstenaars, soos onder meer Adele en Duffy, na die wêreldverhoog oopgesluit.
Nadat sy – ook op 13 – haar neus met ’n neusring deurboor het, het die res van haar openbare beeld aangewas: die tatoeëer-merke, haar eens sensuele, 1,6 meter-lyf wat weens bulimie en drank- en dwelmmisbruik ’n uitgeteerde nimfskelet geword het, die groot, swart byekorfkapsel en die uitgetrapte balletskoene wat soms met bloed deurdrenk was omdat sy heroïen tussen haar tone ingespuit het.
Ná ’n kortstondige verbintenis met die Sylvia Young Theatre School, is Amy na die Mount School en toe na die BRIT Performing Arts & Technology School in Croydon. Kort ná skool en nadat sy kortstondig as vermaaklikheidsjoernalis vir ’n musiektydskrif geskryf het, het die vermaaklikheids-ghoeroe Simon Fuller (van American Idol-faam) haar ’n kontrak aangebied. ’n Platekontrak met Universal/Island Records het gevolg. In Oktober 2003 is Frank (’n verwysing na haar voorliefde vir Frank Sinatra en haar fel eerlikheid), uitgereik. Kritici en luisteraars het dié eerste van net twee albums wat sy in haar kort leeftyd sou uitreik, gunstig ontvang. Die wêreld was skielik bewus van Amy Winehouse. Die snit “Rehab” is steeds haar herkenbaarste liedjie en word ook as die “volkslied van verslaafdes” beskou.
In 2006 het sy dit opgevolg met Back to Black wat steeds as ’n sonderlinge musiek-prestasie beskou word vanweë die toekennings wat sy daarvoor ontvang het en die besondere styl en genre wat sy met haar merkwaardige musikaliteit gevestig het. Haar vertolking met haar altstem van haar liedere met onder- en botone van onder meer jazz-, blues- en soul-musiek is sonderling. Sy het haar ook as ’n waardige liedjieskrywer gevestig.
In die jare tussen die twee albums het Amy met aansienlik minder sukses haar volwasse lewe probeer vestig. Sy het Blake Fielder-Civil in 2005 ontmoet.
In sy boek Amy Winehouse The Biography 1983 – 2011, beskryf Chas Newkey-Burden hul verbintenis as “buitensporig wild”. Albei het mekaar as hul “groot liefdes” beskou, maar hul ontmoeting het die stormagtigste tyd en laaste pylvak van Amy se lewe ingelui. Blake was ’n deurwinterde dwelmmisbruiker en Amy het vinnig by sy verslawings ingeval. Hul verhouding was selfs ná hul huwelik op 18 Mei 2007 soos ’n waansinnige mallemeulerit. Bewerings dat hy haar aangerand het en die oorsaak van haar ondergang was, is deur almal – selfs sy familie – gemaak. Maar Amy het dit tot aan die einde ontken en volgehou dat hy eintlik haar “redder” is.
Die album Back to Black – waarvan sy die titelsnit geskryf het nadat hy haar by geleentheid verlaat het – het vir haar ongekende roem en rykdom besorg. Hulle het uitspattige dae lange partytjies en drinksessies gehou. Dwelmmiddels soos kokaïen en heroïen asook bloedige selfverwonding was aan die orde van elke dag. Tussen glansryke toekenningsgeleenthede waarop sy gesogte eerbetonings vir haar musiek ontvang het, het foto’s op koerantvoorblaaie verskyn waarop Amy bebloed en net met haar bra en jeans op straat rondstrompel.
In Julie 2008 word Blake weens dwarsboming van die gereg tronk toe gestuur. Terwyl hy in die tronk was, is hulle geskei. Amy het sienderoë agteruitgegaan. Sy het onbeheersd voor, tydens en ná konserte gedrink. Soms het sy uitnemende vertonings gelewer en soms het sy op die verhoog rondgestrompel en haar woorde vergeet. Gehore het haar uitgejou, maar kon terselfdertyd nie haar musikale genialiteit weerstaan nie. Haar voorgenome derde album het nie gestalte gekry nie. Sy kon nie meer skryf nie. Sy’t gesukkel om te sing.
Talle optredes is gekanselleer: “Amy moet rus. Sy is uitgeput,” is as verskoning aangevoer. Haar en Blake se ouers was deurentyd begaan oor hul kinders se toestand. Mitch en Janis het haar heeltyd bygestaan en gesmeek dat sy moet rus, maar sy het net voortgewoed.
En toe, heel onverwags, al het die wêreld dit lankal voorspel, haal haar lewe haar in net toe haar pa vir die wêreld vertel dat sy aan die herstel is en uitsien na ’n toekoms met haar nuwe geliefde, rolprentregisseur Reg Travis.
Sy sterf op 23 Julie aan alkoholvergiftiging in haar huis in die noorde van Londen. Amy Winehouse het haar uiteindelik aan die rus oorgegee. Die swart mantel om haar het toegevou en haar treffer Back to Black, is, asof self-profeties, voltrek.
“Nag, my engel, lekker slaap. Mamma en Pappa is baie lief vir jou,” het haar pa, Mitch, hul dogter op haar afskeidsdiens gegroet.
Tog leef Amy se sonderlinge syn ná haar voortydige dood voort. Sy het op stuk van sake male sonder tal gesing: “I Will Survive”.
Deurdat sy soos ’n hand vol ander begaafde kunstenaars soos onder meer Kurt Cobain en Jimi Hendrix op 27-jarige ouderdom gesterf het, het sy met haar heengaan lid van Club 27 geword.
Haar ouers het Die Amy Winehouse-stigting wat uitreik na kunstenaars wat ’n stryd teen alkohol- en dwelmverslawing stry, ter nagedagtenis aan haar op die been gebring. Daarby is sy die eerste kunstenaar in die geskiedenis wat in 2012 postuum vir ’n BRIT-toekenning benoem is met die nadoodse uitreiking van haar opname “Lioness: Hidden Treasure”.
Vonkelwyn is ryk aan geskiedenis Die tradisie om met vonkelwyn iets te vier word histories…
Met hierdie wenke sal jy soggens die spreekwoordelike gousblom eerder as die molshoop wees, al…
Lewer sowat 9 kranse Bestanddele 100 g (160 ml) koekmeel 175 ml water…
Genoeg vir 4. Bestanddele 6 aartappels, in wiggies gesny sout en gemaalde swartpeper…
Genoeg vir 4. Bestanddele 500 g vars pasta, soos tagliatelle of spaghetti 250 ml…
Om jou hond se ore skoon te maak is ’n noodsaaklike deel van sy basiese…
Hierdie webwerf gebruik koekies.