Selfs sy CV is met die tong stewig in die kies geskryf, en daarin beskryf hy hom as ’n “korporatiewe droster wat al min of meer elke loopbaankeuse waarteen sy onderwysers hom gewaarsku het, probeer het. En hoewel hy nog nie ’n pensioenfonds het nie, het hy uiteindelik onlangs begin belasting betaal”.
Maar lui is hy nie! Ná ’n B.A.-graad en ’n B.Phil. in joernalistiek aan die Universiteit van Stellenbosch, het Beer (31) ook ’n M.Phil. in film en media aan die Universiteit van Kaapstad behaal.
Hy het inderdaad al op vele interessante maniere sy geld verdien: van tromspeler vir die rockgroep Zinkplaat tot bestuurder van ’n rockgroep. Hy was ook die skrywer en/of regisseur van tientalle musiekvideo’s, twee dokumentêre programme, ’n klomp advertensies, ’n regstreekse laataand-komedieprogram (Vrydag-NAG Laat) asook twee kortflieks, Die Buurtwag en Beskermhere. Daar het al twee koerantrubriekreekse uit sy pen verskyn, en hy was die skrywer, regisseur én vervaardiger van die kykNET- drama-komedie Buurtwag wat vir drie ATKVMediaveertjies en twee Tempo-toekennings benoem is.
TV-kykers sal Beer ook onthou as Johnny in die Afrikaanse mokumentêr, Johnny en die Maaiers, en Boer Giel in die parodie-reeks Boer Soek ’n Ou. Hy was ook te sien in Vir Altyd, Johnny is nie dood nie en binnekort in Christiaan Olwagen se nuwe fliek, Kanarie.
Vertel ons van jou grootwordjare
Ek is in Durbanville gebore en die oudste van drie kinders. Ons is ’n hegte gesin, al woon drie van ons vyf deesdae lang tye in Botswana. Ek en my broers was in die Laerskool Gene Louw op Stellenbosch, en daarna is ons almal koshuis toe by die Paul Roos Gimnasium.
Watter soort kind was jy?
Baie skaam en teruggetrokke! Ek dink ek was bang vir ander kinders. Ek onthou ek het soms vir my ma gevra om te sê ek kan nie kom speel nie sodat ek tog net by die huis kon bly en met my Lego speel, maar namate ons boeties meer geword het, het ons huis die kuierplek van die buurt se kinders geword. Ons buurman, wat ook ons huisdokter was, het vir al die buurt se kinders kaskarre gebou waarmee ons om die blok gejaag het en gereeld in kettingbotsings beland het. My ma moes baie vinnig gewoond raak aan bloed, want ons het baie wonde opgedoen.
Waar kom jou bynaam vandaan?
Dis wat in seunsskole gebeur. Blykbaar het ek soos ’n beer gelyk.
Waar kom jou belangstelling in die kunste vandaan?
Ek het as twaalfjarige die eerste keer Nirvana se “Smells Like Teen Spirit” gehoor. Dit het gelei tot ’n geweldige liefde vir musiek, en ek het my pa oortuig om vir my ’n tromstel te koop. Dit het weer gelei tot die stigting van my hoërskool-band, My Pet Sock, wat weer gelei het tot my dekade lange lidmaatskap van Zinkplaat en die totstandkoming van ons platemaatskappy DPK.
Deur DPK het ek musiekvideo’s en dokumentêre ontdek en my eie begin maak. Op ’n dag het my vriend en vennoot, Dirkie van der Merwe, gesê ek moet ’n kortprent maak. So beland ek toe in die rolprentbedryf maar ek dink dis my ouers wat die grondslag van my liefde vir die kunste gelê het. Albei is baie lief vir musiek en lees, en my ma, die skrywer Wilna Adriaanse, hou baie van ’n goeie fliek. Sy’t ons broers soms selfs uit die skool gehou om saam met haar te gaan fliek! Ons geniet dit steeds om saam te fliek.
Wat is jou eerste liefde: skryf, musiek, toneelspeel of regie? En hoekom?
Ek is werklik ewe lief vir al vier, en ’n perfekte jaar vir my sou wees as ek die kans gekry het om my in al vier te kon uitleef.
Maar ek kom maar altyd terug na skryf toe – dalk bloot omdat dit my enigste uitlaatklep vir idees is omdat ek nie kan verf of teken nie. Ek luister die afgelope tyd met nuwe ore na musiek en het selfs vir my ’n elektriese kitaar gekoop omdat ek nie my tromme in die woonstel kan speel nie. Toneelspel was altyd iewers op die agtergrond, maar ek het dit nogal geniet om in die laaste ruk ’n bietjie meer daarvan te kon doen. Dis die naaste wat ek al gekom het aan daardie gevoel wat jy voor of in ’n musiek-gig kry. Die adrenalien pomp en jy moet jou oorgee aan die toneel en jou medespelers. Regie is vir my ook lekker en op ’n vreemde manier makliker as die res. Dalk daarom dat ek dit spaarsamig moet doen, anders gaan my ander liefdes daaronder ly.
Waar woon jy, en waar sal jy nog graag wil woon?
Ons woon tans in Tuine. ’n Klomp van my vriende in die bedryf is my bure, so dis baie lekker en ons is stapafstand van Tafelberg. Ek sal baie graag in Berlyn, Amsterdam en iewers in Japan ook wil woon. En eendag wanneer ek genoeg geld het, dalk ’n tydjie in New York.
Wat weet niemand van jou nie?
Min mense weet ek het ’n swart gordel in karate. Ek het dit op skool gekry en ongelukkig direk daarna opgehou. So, ek weet nie meer hoe baie daarvan ek sal onthou as ek nou deur ’n ninja aangeval word nie!
Hoe sal jy jouself beskryf?
Ek lewe redelik in die hede met ’n sterk nostalgiese streep oor die verlede en byna geen konsep van die toekoms nie. Maar ek werk daaraan! Andersins is ek redelik lui totdat ek heeltemal meegevoer word deur iets, en dan kan ek nie ophou werk nie. Ek is lief vir mense en enige vorm van skep.
Wie bewonder jy?
Die ware eerlikes tussen ons, want hulle speel ’n baie belangrike rol in die samelewing wat nie genoeg waardeer word nie. Ek bewonder enige iemand wat in ’n mate sy ego kon tem, of minstens probeer.
Het jy ’n motto?
Ek glo Douglas Adams het dit die beste opgesom met sy “Don’t panic”.
Wat maak jou kwaad?
Rassisme en klakouse.
En wat maak jou bly?
Dat ek nog in my lewe ’n Hoverboard gaan ry.
Waaroor voel jy baie sterk?
’n Universele, basiese inkomste. Ek glo iewers in my leeftyd gaan die wêreld ’n moeilike besluit moet neem – net omdat iemand nie werk het of kan kry nie, beteken dit nie hy kan nie eet en drink en lewe en leer nie. Tegnologie het reeds die resies gewen. Daar gaan nooit weer genoeg werk vir almal wees nie. Ons sal die idee moet laat vaar dat almal moet werk.
Uit iets soos Hotel lei ek af dat humor vir jou belangrik is …
Humor is die enigste lens waardeur realiteit vir my sin maak. Ek en my broers gesels gereeld oor die kosmiese grap wat die mensdom tot hier gekry het. Om onwillekeurig te lag moet een van die lekkerste dwelms wees wat daar is. Mense herinner my gereeld daaraan dat ek vir my eie grappe lag, maar ek reken as jy nie in jou eie grap kan glo nie, hoe moet iemand anders dit dan doen? Ek dink ook baie van die wêreld se probleme word veroorsaak deur humorlose mense wat hulself hopeloos te ernstig opneem. As ek eendag nie meer die snaakse in die tragedies op my pad kan insien nie, moet julle maar genadedood inspan.
Die man agter die vele projekte
• Beer vertel hy het nie ’n vaste roetine nie. “Ek het hoegenaamd geen roetine nie! Dis my redding en my ondergang.”
• Hy kook ook “hoegenaamd nie”, en sy gunstelingkos is soesji. “En ek hou van ’n lekker G&T.”
• Lees is ’n gunstelingtydverdryf. “Ek lees verskillende goed, maar het onlangs weer George Saunders se kortverhale ontdek.” Beer en Laura, sy meisie, is dol op fliek. “Maar ons hou nie van in die bed lê en op die skootrekenaar kyk nie. Ons hou van die grootskerm en die springmielies. Ek hou van alle soorte flieks, behalwe voorspelbare romcoms. En ek is nou so ’n bietjie moeg vir flieks oor superhelde. Ek’s gek na wetenskapsfiksie.” Sy gunstelingakteurs is wyle Philip Seymour Hoffman en Emma Stone.
• Tussen sy baie projekte deur ontspan hy graag saam met sy broers en vriende. “Ons jag watervalle en bring soveel moontlik tyd in die natuur deur. Ons woon net so onder Moeder Tafelberg en gaan klouter gereeld tussen haar boesems in.” Dit help ook sommer met die fiksblyery. “Ek eet ook redelik gesond en merendeels herbivories.”
• Het hy enige gevleuelde woorde oor die liefde? “My gunstelingwoorde oor die liefde kom uit Massive Attack se liedjie “Teardrops”: “Love, love is a verb, love is a do word.”