Deur Maryke Roberts. Foto’s: Clifford Roberts
Dis die Bateleur Chardonnay 2020 wat daardie gesogte titel ingepalm het. Die stompstertarend of berghaan (Bateleur in Engels) is Suid-Afrika se voël van die jaar en as De Wetshof se belangrikste wyn-etiket, is dit genoeg rede om ‘n behoorlike wynproe van hierdie bekroonde wyn te hou.
Só het Johann de Wet, uitvoerende hoof van die landgoed, onlangs by ‘n noenmaal en proe in Kaapstad by die gesogte Salon van sjef Luke Dale-Roberts vertel.
“Die voël is op die bedreigde spesie lys en ‘n majesteuse dier wat min mense die kans kry om te sien.”
Hy het vertel dat sy pa, Danie, destyds met die eerste bottelering van dié Chardonnay in 1991, Bateleur gedoop het. Hy het destyds besef hierdie is ‘n spesiale wyn en elke wintervakansie met sy seuns, Johann en Peter, in die Kruger wildtuin gaan kuier. Toe hulle weer die berghaan sien, wat hoër vlieg as ander voëls en elegant op die windstrome gly, het hy geweet dis die regte naam vir sy wyn.
“Want hy het gevoel hierdie is ‘n wyn wat ook hoër vlieg as enige ander. Hy klap nooit sy vlerke, is grasieus, maar sterk.”
Danie de Wet word nie verniet as Suid-Afrika se Mnr. Chardonnay gereken nie. Statistieke van die wynlandskap in die sewentigerjare toon dat ongeveer 60% van die totale wingerd-aanplantings uit Steen, Palomino en Cinsaut bestaan het. Hier was geen Chardonnay nie. Danie keer in 1971 as 22-jarige wynmaker begeesterd van die Geisenheim Instituut in Duitsland terug na die familieplaas, maar besef gou die leemte aan Chardonnay en ander edel wit kultivars.
Hy was oorgehaal om edele wit druifsoorte te plant, omdat sy professors hom laat besef het dat De Wetshof se grond en klimaat uiters geskik sal wees om uithaler-witwyne te maak.
Hy is egter wreed ontnugter omdat Suid-Afrika toe net nie die druifsoorte gehad het om wêreldklas wyne van te maak nie. Hy en ’n paar eendersdenkende wynboere het besef dat om ’n beter toekoms vir die wynbedryf én wêreldklas wyne te maak, nuwe kultivars nodig is en om hierdie visie te verwesenlik, daar landbouwette omseil sou moes word, want anders gaan hulle 15 jaar moet wag!
Danie kuier in 1972 in Europa en sien die sukses wat van sy klasmaats met wil kultivars in die warmer streke floreer. Twee mislukte pogings om materiaal van oorsee in te bring, breek gelukkig nie sy moed nie. Danksy ander privaat landgoedere wat – deur Swaziland ondermeer – baie goeie Chardonnay-materiaal die land ingesmokkel het en sy goeie vriend, Jan Boland Coetzee, bekom hy uitstekende materiaal. Jan het in 1980 vir Joseph Drouhin, een van Boergondië se voorste Chardonnay-produsente, gewerk en het steggies uit die Clos des Mouches-wingerd gesny en saam met die skrywer, Emile Joubert se pa, Fritz, ’n joernalis wat Jan in Frankryk besoek het, gestuur. Emile was ook by die funksie by Salon en kon eerstehands nog staaltjies vertel.
“Drie sulke pogings is uit die wingerde van Clos de Mouches suksesvol uitgevoer: van stokkies wat in my pa se jaspante ingewerk is tot sjokoladeboksies vol stokkies en kernfisikuste wat gehelp het en die Coetzee-gesin se bagasie en seun se doeksak wat ingespan is, toe hulle ’n jaar in Frankryk teruggekeer het na Suid-Afrika.”
Johann de Wet het in 2006 by De Wetshof aangesluit en toe al geweet van die “wonderlike mistieke Chardonnay-wingerd van 3,5 hektaar” wat in 1987 geplant is en waaruit die Bateleur-druiwe kom.
Hy en sy broer, Peter, wat op die plaas vir logistiek en finansies verantwoordelik is en ook die vonkelwyn maak, onthou ook dat die Bateleur elke Sondag met lamsboud bedien is, toe hulle nog jonk was. Maar Chardonnay is volgens hom geweldig veelsydig en ‘n pasmaat vir bykans elke dis, soos wat sjef Luke Dale-Roberts se spyskaart bewys het.
Benewens die Bateleur-proe van die 2006, 2009, 2012, 2018, 2020 en 2022 oesjare, het ons ook die geleentheid gehad om ander ongehoute; gehoute Chardonnays en Peter se vonkelwyn, die Blanc de blancs, te proe.
Johann het vertel: “My filosofie is om die vingerafdruk van die grond waaruit die druiwe kom, vas te vang. Elke oesjaar verskil natuurlik, maar daar is ‘n goue draad regdeur te bespeur. Daarom proe ons vandag die jongste na die oudste.
“Ons wynmaak verander nie. Ons gebruik 90% nuwe vate en dit verander nie. Maar modegiere verander. En ons filosofie het ook effe vernuwe. Ons oes die druiwe so koel as moontlik. Ons wyne is nou skraler en meer mineraalagtig, maar alle oesjare verouder baie goed,” het hy vertel.
Lees ook: Twee eeue van erfenis gevier