Basta met dié kaboutervloermoer deur Ina Genade.
Dit is vir seker daardie tyd van die jaar. Ek voel dit in my lendelam ledemate en sien dit op die gesigte van my tydgenote. En, ook op my kinders en húlle tydgenote se gesiggies.
2018 het sy tol geëis.
Vir baie was dit bloot nog ’n jaar met werk, huishouding, sport, akademie en wat nog. Vir ander was dit ’n jaar van groot verliese. Soveel kennisse en vriende het ’n geliefde afgestaan aan die dood. Heelwat vriende moes die stukke optel na ’n versplinterde verhouding – hetsy ’n huwelik van ’n dekade of meer, of ’n vriendskap vol misbruik wat na maande gesneuwel het.
Lees ook: Stereotipes maak stukkend
Daar was soveel hoogtepunte die afgelope jaar: Nuwe studie- en loopbaandoelwitte is bereik. Nuwe verhoudings is gevier. Kinders het verjaar, skoolgegaan, presteer, mylpale bereik.
Lees ook: ’n Briefie aan my sterk kinderhart
En alles klaarblyklik op ’n drafstap, want net nou die ander dag het ons nog Kersvakansie- en skoolklereskuld afbetaal, en hier is ons alweer met albei voete in “silly season” met al sy gedwonge groot uitgawes!
Net as ’n mens dink dié jaar was voorwaar vreemd, slinger ’n sogenaamde reus ’n klip netjies tussen ons oë.
Hoekom die media steeds na Eskom as ’n “kragreus” verwys, weet ek nie. Want dié kalant is duidelik eerder ’n kabouter vol kleutervloermoere.
Lees ook: Wat jy nou moet weet oor beurtkrag
Net toe ons behoorlik 2015 se donkerdramas uit ons geheue verban het, kom Ta en kondig ewe skielik deur sy onwillige lakeie – die plaaslike pers en regerings – dat daar “beurtkrag” ingestel is. Sommer so, sommer skielik.
Asof ons moet bly wees ons kry nog ’n beurt om krag te hê? Nee, dêmmit.
Soveel stories word deur Kragkabouter opgedis oor die rede vir die gebrek aan krag en nog meer verskonings word uitgedink oor hoekom ons as verbruikers die skuld moet dra vir die “skielike” situasie.
Bog en basta.
Jare en jare se vergrype en gebrek aan insig om te luister na regte kenners wat maan oor instandhouding, het nou behoorlik ’n stok in die speke gesteek. Voel die “reuse” dit aan hulle eie bas? Watwou. Hulle kragopwekkers is propvol brandstof en hulle sakke bult met bonusbuit.
Lees ook: Ses vrae aan Johan Booysen
Wat sal hulle nou wôrrie. Vir hulle is dit net lastig, dié stories rondom die werklike redes, sien.
Intussen bekyk ons gewone mense daagliks die skedules vir wat dit mag werd wees. As ons in die kragkabouterkonsert se tweede vertoning is, weet ons om heeldag die motors buite te parkeer en die vuurhoutjies en kerse byderhand te hou van laatmiddag af. Mens weet nooit. Soms is jy gelukkig, soms is die geleende kwartier met ligte ná die roosterwegspringtyd bloot ’n pasella van korte duur.
Ons hou ons gereed om die lewe vir onsself makliker te maak. As jy rekenaarwerk verloor omdat jy vergeet om elke paar minute te “save” of in donkerte gehul word as die klok slaan, is dit mos jou eie skuld, of hoe?
Elektriese toestelle wat oppak en skielik na jare se getroue diens, op ’n dag nie meer werk nie, is mos blote toeval? Motorhuisdeurbatterye raak onklaar, yskaste maak nie meer so koud nie, geisers gee die gees én yskaswater op die mees ongeleë tye en huisalarms raak besete. Maar, die Kragkabouter was sy hande in onskuld – daar is geen verband met die gereelde kragonderbrekings nie.
Se dinges.
Hoe durf die manne met die bultende sakke, ego’s en flou verskonings ons so kniehalter?
Lees ook: Jacques Pauw: Vreeslose woordvegter
Wat word van die sakeondernemings wat heeltemal afhanklik is van krag – waarvoor hulle duur betaal, elke dag van die maand! – as daar sommer so ’n twee, drie ure hap uit hulle inkomste gebyt word elke dag?
Die ouers wat elke aand na ’n lang dag van brood win, maar tevrede moet wees met ’n koue toebroodjie vir elke gesinslid vir aandete want dis alwéér beurtkrag?
En, natuurlik kry jy die sonstrale. Diegene wat dié gagga situasie gebruik om hulle reënboogstraaltjie te piepie: “Beurtkrag is wonderlik, want uiteindelik dwing dit my om niks te doen nie…”
Weet jy wat? Ek, en vele soos ek, is heeltemal in staat genoeg om niks te doen nie as ons lus het. Ons het nie ’n kragmaatskappy se toestemming of onbevoegdheid nodig daarvoor nie.
Maar, as ons wel geweldig baie het om te doen, want ons inkomste, huishouding, gesondheid, onderneming, en dergelike ander dinge, hang daarvan af dat ons die krag waarvoor ons betaal, tot ons beskikking het, dan gaan ons nié saamsing in die reënboogniksdoenkoor nie.
Want, nie almal is so gelukkig om niks te doen as die kragkabouter se gier hom pak nie. Nie almal is so gelukkig om steeds uit ’n kraantjie te tap of dit nou by buislig of kerslig is nie.
En die “dit wys jou net wat jy alles het om voor dankbaar te wees”, hou ook nie water nie. Die jongste studies het bewys dat beurtkrag lei tot meer toelatings van kinders in hospitale se noodeenhede (“Die waarheid oor beurtkrag”, Netwerk24, Saterdag 8 Desember 2018). Dit raak veral kinders en gesinne in minder gegoede areas wat ten tye van beurtkrag afhanklik is van gevaarliker energiebronne soos kerse, paraffienlampe en oop vure.
Om vir my te sê dat beurtkrag ’n manier is om my op my knieë te dwing om dankie te sê vir my seëninge, is vir my baie dieselfde as die “hulle is gelukkig om nog te lewe” of “sy kan gelukkig wees sy is nie verkrag nie” absurde, nonsensopmerkings na ’n rooftog en aanval. Dit verskuif dit wat gruwelik verkeerd is en die skuldlas mooitjies na die slagoffer. ’n Slagoffer wat moet dankbaar wees dat erge dinge, maar nie erger dinge nie, gebeur het? Loutere snert.
Ek is baie moeg om te hoor dat ek die skuldlas moet dra vir ander se gebreke en onbevoegdheid.
As ’n balaklawaboef in die middel van die nag in my reeds oorbeveiligde ruimte tree, weier ek om dankbaar te sug omdat dit of dat nie gebeur het nie. Hy hoort nie daar in die eerste plek nie.
As ’n boepensbeheervraat aan die begin van die Suid-Afrikaanse somer besluit dat hy die skuld op my en ander verbruikers van die produk wat sý sakke laat bult, vir die gebrek aan die lewering van die produk wil plaas, weier ek om deel te neem aan sy skuldspeletjie.
Intussen word ons gemanipuleer om dankbaar te wees dat hulle ons tot dankbaarheid vir betaalde dienste geskok het met dreigemente van geen elektrisiteit oor die feesseisoen nie en nou ewe skielik skyn ’n rooskleuriger gloeilampie van gekanselleerde beurtkrag weer?
Vat jou vloermoer en verskonings en trek vinger, Ferreira.
Vir nog heerlike lekkerlees-bloginskrywings deur Ina Genade, klik hier.