Instructions
1 Gooi die melk en vanieljepeul in ’n kastrol en verhit oor matige hitte maar moenie laat kook nie. Verwyder van die hitte.
2 Klop die eiergele en suiker in ’n groot mengbak tot lig, dik en romerig. Jy moet ’n agt kan vorm met die beslag wanneer jy die klitser oplig en oor die oppervlak trek.
3 Haal die vanieljepeul uit die melk. Klop 60 ml van die warm melk by die eiermengsel in. Klop die oorblywende melk ook in en gooi dan in ’n skoon kastrol.
4 Roer vir 8-10 min. oor lae tot matige hitte, of totdat die vla verdik en maklik die agterkant van ’n lepel bedek.
5 Moenie laat kook nie, want dit sal skif. Gooi die vla in ’n plat vlekvryestaalbak en laat effens afkoel. Bedek en sit in die yskas totdat dit koud is.
6 Roer die vrugtepuree in die vla in.
7 Gooi in ’n roomyskarring en karring tot die roomys verdik.
8 Gooi in ’n plastiekhouer en vries oornag.
Probeer ook ...
Framboos-suurlemoen-en-tiemie-roomys
Maak die basiese resep maar verhit die melk met die skil van 1 suurlemoen en ’n paar tiemietakkies daarin. Roer 500 g fyngemaakte frambose in die vlamengsel in.
Geroosterde perske-en-vanielje-roomys
Maak die basiese resep maar verhit 2 vanieljepeule, in die lengte oopgesny, saam met die melk. Sny 500 g perskes ruweg in stukke en haal die pitte uit. Gooi 30 ml (2 e) olyfolie en 60 ml (¼ k) heuning oor die perskes en rooster by 200 °C tot goudbruin en sag. Verwerk met ’n stokmenger tot ’n fyn puree en laat afkoel. Roer by die vlamengsel in.
Bloubessieroomys
Maak die basiese resep maar roer 500 g fyn gemaakte bloubessies by die vlamengsel in.
Liquorice-roomys
Maak die basiese resep. Verhit 100 g grof gekapte liquorice-lekkers saam met die melk totdat die liquorice gesmelt is. Gooi ’n paar druppels swart kleursel by net voor dit gevries moet word.
Papaja-en-gemmer-roomys
Maak die basiese resep. Verwerk 500 g geskilde en grof gekapte papaja saam met 2 cm gerasperde gemmer tot glad. Roer deur die vlamengsel en sit oornag in die yskas.
Basiliekruid
Maak die basiese resep. Verhit 60 ml (¼ k) suiker, 60 ml (¼ k) water en 15 ml (1 e) suurlemoensap in ’n kastrol tot die suiker opgelos is. Laat afkoel. Verwerk die suikerstroop en 2 hande vol basiliekruid saam tot baie fyn. Meng by die vlamengsel in.