Die roomsop is heerlik met ’n ekstra skeppie dik room of crème fraîche en saam met pannekoekstapeltjies. Vervang die helfte van die gewone sampioene deur wilde sampioene soos porcini’s vir ’n spesiale geleentheid.
250 g (1 pakkie) portobellini of knopiesampioene, middeldeur gesny
5 ml (1 t) sout
1 liter tuisgemaakte hoenderaftreksel of 1 blokkie hoenderaftreksel aangemaak in 1 liter water
250 ml (1 k) melk
¼ ui, geskil
2 naeltjies in die ui gedruk
1 lourierblaar
6 peperkorrels
30 g (30 ml) botter
30 g (55 ml) koekmeel
5 ml (1 t) sojasous
vars gerasperde neutmuskaat volgens smaak
Instructions
Opdiening: ’n Hand vol sampioene - enige verskeidenheid soos oestersampioene, portobellini of swartsampioene. Sny dit in dik skywe en soteer in ’n rokende pan tot sag.
Smelt die botter in ’n middelslagkastrol, voeg die uie en sampioene by en soteer tot sag. Voeg die aftreksel by en laat vir sowat 15 min. prut.
Verhit die melk met die lourierblaar en peperkorrels in ’n kastrolletjie. Smelt die res van die botter in ’n ander kastrol en voeg die meel by, roer tot dit ’n pasta of roux vorm, verwyder die lourierblaar en peperkorrels (of syg dit deur ’n sif) en voeg die melk geleidelik by die meelmengsel. Roer deurentyd.
Bring die melkmengsel tot kookpunt, verlaag die hitte en laat vir ’n minuut prut. Voeg die sampioenmengsel by en laastens die sojasous en neutmuskaat.
Maak die sop fyn en glad in ’n voedselverwerker of met ’n handmenger.
Sit die pannekoekies in die middel van die sop en vorm ’n toring met van die gesoteerde sampioene tussenin of strooi net die sampioene voor opdiening oor die sop.
Variasies
Artisjok en suurlemoensop met romerige Griekse jogurt
Dit is altyd gerieflik om ’n paar blikkies artisjokke in die kas te hou om hierdie elegante sop op te tower. Gebruik die basiese resep vir die sampioensop.
Vervang die sampioene deur 250 g geblikte artisjokke (gedreineer). Soteer eers die uie en voeg dan die artisjokke en aftreksel by. Rasper die skil van ’n suurlemoen by die sop en druk net voor opdiening ’n bietjie suurlemoensap in die sop. Sit die sop met vars gekapte sprietuie en ’n skeppie dubbelroom Griekse jogurt voor. Geblikte salm werk net so goed, verwyder net die swart velletjies. Jy sal 2 x 200 g-blikkies salm benodig. Gebruik ook room pleks van melk en giet aan die einde 15 ml (1 e) sjerrie by.
Aspersie en parmesaanroomsop met mascarpone
Gebruik die basiese resep vir die sampioensop. Vervang die sampioene deur 250 g vars aspersies wat met die hand in klein stukkies gebreek is. Soteer eers die uie en voeg dan die aspersies saam met die aftreksel daarby. Roer aan die einde 60 ml (¼ k) gerasperde parmesaan in die sop en sit warm voor met ’n skeppie mascarpone op elke bakkie sop. Eindig met ’n paar parmesaankrulle wat jy met ’n groenteskiller kan sny, of nog gerasperde parmesaan.
Blomkool en bloukaassop
Gebruik die basiese resep vir die sampioensop. Vervang die sampioene deur 250 g blomkoolblommetjies wat met die hand in klein stukkies gebreek is. Soteer eers die uie en voeg dan die blomkool en aftreksel by. Krummel laastens sowat 50 g romerige bloukaas soos gorgonzola of simonzola by die sop en laat smelt. Geur ook met neutmuskaat en swartpeper. Krummel net voor opdiening ekstra bloukaas oor die sop.