genoeg vir 8
Gebruik regte Arborio- of risottorys as jy risotto maak.
2,5 liter (10 k) hoenderaftreksel (maak jou eie: klik hier vir die resep)
60 ml (¼ k) botter
1 ui, fyn gekap
400 g (1 pak)
arboriorys
125 ml (½ k) droë witwyn
80 ml (1⁄3 k) koue botter, in blokkies gesny
125 ml (½ k) fyn gerasperde parmesaankaas
sout en gemaalde swartpeper
hand vol pietersielie, gekap
parmesaankrulle vir die voorsitslag
1 Verhit die aftreksel in ’n kastrol oor lae hitte sodat dit baie stadig prut.
2 Smelt die botter in ’n groot pan oor lae hitte en soteer die ui vir 5 min. tot sag, maar nie bruin nie.
3 Verhoog die temperatuur effens, voeg die rys by en braai tot dit opgewarm is en elke korrel met botter bedek is. Roer met ’n houtlepel.
4 Voeg die wyn by en roer deurentyd tot dit weggekook is.
5 Gooi ’n koppie van die warm aftreksel by die risotto, net genoeg om die rys te bedek. Roer sodat die rys nie aan die boom van die pan vas sit nie. Laat die aftreksel amper heeltemal wegkook voor die volgende koppie bygevoeg word. Die hele proses moenie langer as 18 min. duur nie. Die rys moet romerig wees, sag aan die buitekant maar nog ferm aan die binnekant.
6 Haal van die hitte af en laat die risotto vir 1 min. rus. Roer die koue botter vinnig by en dan die parmesaan. Geur na smaak.
7 Sprinkel pietersielie oor en sit voor met parmesaankrulle. Sit dadelik voor.
#rooirosewenk
Risotto moet dadelik voorgesit word as dit gaar is. Die Italianers sê pesto pronto en skep dit op warm borde. Die rys moet ook nie te sag gekook word nie, dit moet steeds “byt” in die middel hê, of al dente soos die Italianers sê.
Oondgebakte risotto
As jy nie tyd het om risotto te roer nie, kan jy dit met groot sukses in die oond bak.
Voorverhit die oond tot 150 ˚C.
1 Sit 175 g arborio-rys in ’n diep oondpan op ’n warm stoofplaat.
2 Voeg 750 ml warm aftreksel by die rys in die oondpan. Bedek met foelie en sit op die middelste rakkie in die oond. Bak vir 20 min.
3 Maak die risotto oop en roer 30 ml (2 e) gerasperde parmesaan deur. Bedek weer met die foelie en bak vir nog 15-20 min. of tot die rys gaar is en al die vog geabsorbeer is. Eet pesto pronto!