Deur Vicki de Beer. Foto deur Neil Corder
Gebruik die ertjiesop as basiese bestanddeel en vervang net die bevrore ertjies deur ’n bestanddeel van jou keuse soos by ons variasies hier onder.
Basiese pureesoppe
Ingredients
- 500 g gevriesde ertjies
- 3 middelslagaartappels, geskil en in blokkies gesny
- 1,5 liter (6 k) hoenderaftreksel
- 125 ml room
- sout, laat weg indien jy aftrekselblokkies gebruik
- gemaalde swartpeper
Instructions
- Sit die ertjies, aartappels, en aftreksel in ’n middelslagkastrol en verhit oor matige hitte tot dit begin kook.
- Sit die deksel op en kook die sop vir 10 min. of tot die aartappels sag is.
- Verwyder die kastrol van die hitte en verpulp die groente met ’n handmenger. Sit die kastrol terug op die hitte en voeg die room, sout en peper by en verhit. Sit dadelik voor.
Variasies
Voeg ’n hand vol vars gekapte kruisementblare voor opdiening by of voeg ’n koppie gekapte, gerookte ham of chorizo by die sop nadat dit met die handmenger verpulp is.
Variasies op basiese pureesop
Witboontjie-en-spek-sop
Die sop is egte trooskos en vinnig om te maak omdat jy gaar, geblikte boontjies gebruik. Gebruik cannelinni- of suikerboonjies vir die resep. Vervang net die ertjies deur 500 g (2 blikkies) gedreineerde boontjies en voeg 100 g (6 repies) bros gebraaide rugspek wat in blokkies gesny is by nadat dit verwerk is. Voeg laastens ’n hand vol gekapte pietersielie by. Jy kan die spek deur dieselfde hoeveelheid gerookte ham vervang as die speksmaak te oorheersend is. Maal swartpeper net voor opdiening oor.
Botterskorsie-en-lemoensop
Vervang die ertjies deur 500 g botterskorsie - koop sommer dié wat klaar geskil en in blokkies gesny is, dit spaar baie tyd. Verminder die aftreksel tot 1,25 liter (5 k) en voeg 250 ml (1 k) vars lemoensap pleks van room aan die einde by. Voeg die skil van een lemoen en 2 ml (½ t) neutmuskaat by net voor jy die sop vir die tweede keer verhit. Eindig met ’n skeppie crème frâiche op elke bakkie sop.
Ander kombinasies
- Die botterskorsie kan deur 500 g geskilde en gekapte wortels vervang word. Voeg steeds die lemoensap by soos hierbo beskryf.
- Laat die lemoenskil weg en voeg 10 ml (2 t) kerriepoeier by. Gooi dan 250 ml (1 k) klappermelk pleks van lemoensap by.
- Jy kan die botterskorsie by 200 ºC in die oond rooster. Sprinkel olyfolie, growwe sout, gemaalde swartpeper, 2 kaneelstokkies en ±30 ml (2 e) heuning oor voor jy dit by die res van die bestanddele voeg vir ’n heerlike smaakvariasie.
Spinasiesop
In dié resep het ons die ertjies deur 500 g (2 pakke) Engelse baba-spinasie vervang wat ’n delikater geur as gewone spinasie het, maar gewone spinasie werk ook goed. Druk ’n bietjie suurlemoensap net voor die einde in die sop vir ’n heerlike, vars smaak. Krummel sowat 100 g fetakaas net voor opdiening by die sop en roer deur. Hou net die sout dop as jy die feta byvoeg - dis nogal sout.
Lees ook: Basiese roomsoppe
Aftreksel: Die basis van goeie sop
Probeer ook hierdie wortel-en-lemoen-sop