Maak jou basiese choux-deeg so:
- 300 ml (150 g) koekmeel, gesif
- 300 ml water
- 120 g botter
- 4 eiers
Voorverhit die oond tot 200 °C. Voer ’n bakplaat deeglik met bakpapier uit.
1 Bring die water en botter oor hoë hitte tot kookpunt.
2 Haal van die stoof af en voeg onmiddellik al die meel by. Meng tot ’n gladde deeg en laat afkoel.
3 Klits die eiers liggies met ’n vurk en voeg bietjie vir bietjie by die deeg. Meng goed tot ’n gladde, blink deeg vorm.
4 Spuit ’n ring met ’n deursnee van 20 cm met ’n spuitsak met ’n 1 cm-tuit op die bakplaat. Spuit 12 bolletjies met die res van die deeg. Smeer met ’n nat wysvinger oor die deeg vir ’n mooi, gladde profiterool. Sprinkel liggies met water.
5 Verhoog die oondtemperatuur tot 220 °C en sit in die oond. Verlaag die temperatuur tot 180 °C sodra die poffertjies nie meer rys nie (sowat 10 min.). Bak vir nog 20 min. tot goudbruin en bros. Skakel die oond af en laat verder in die oond uitdroog. Haal uit en laat op ’n draadrakkie afkoel.
Gâteau St. Honoré (hooffoto)
Genoeg vir een 30 cm-gâteau
1 hoeveelheid aarbeimousse (kry ons basiese vrugtemousseresep hier)
1 choux-deegring (sien basiese resep bo)
12 choux-poffertjies
ligpienk Chantilly-room
ligpienk harde koekversiersel
1 Maak ’n gaatjie aan die onderkant van elke profiterool (choux-poffertjie) en vul dit met die mousse met ’n spuitsak met ’n 1 cm-tuit.
2 Pak die gevulde poffertjies op ’n draadrakkie op ’n bakplaat. Skep ’n bietjie van die harde koekversiersel op elke profiterool en laat so 5 min. staan sodat die oortollige versiersuiker kan afloop.
3 Sit die choux-ring op ’n dienbord. Gebruik die res van die koekversiersel as “gom” om die poffertjies op die ring vas te plak.
4 Vul die binnekant van die gâteau met die mousse.
5 Vul die gâteau met ’n stertuit-spuitsak tot bo met die ligpienk chantilly-room. Sit dadelik voor.