Daar’s dae dat ek my verbeel ek loop op ’n balanseerbalk. Een van daardie houtgedoentes waaroor jy voetjie-vir-voetjie moet skuifel. Ek punt my tone, dink oor elke tree en voel hoe die sweet op my voorkop uitslaan. Ek weet: net een skewe trappie, te veel gewig op die een voet en ek land op die vloer.
Hierdie was so ’n week.
So bevind ek my op Kathu, daar waar jy die hart van die Kalahari kan hoor en waar die grond se kleur en dié van sy sonsondergange dieselfde rooi skynsel het. Die dorp bars uit sy nate. Blyplek is skaars en werk volop vir dié wat bereid is om skouer-aan-die-wiel te sit. Daar’s nuwe winkels om elke hoek en draai; die ekonomie groei.
“Wat hier gebeur is dalk goed, maar of dit vir my menswees goed is? Ek weet nie.”
Dié opmerking vang my stadsbrein onkant. “Hoe so?” vra ek. “As jy jou net één maal aan die rumoer oorgegee het, gewoond geraak het aan die geraas en gejaag, vergeet jy iewers om na die kleur van die grond te kyk. Dan is dit bitter moeilik om weer jou eie ritme te kry,” sê die vrou, wys agter haar kasregister.
Haar oë blink tranerig. Hierdie ding raak haar Kalahari-hart diep.
Ek kan nie gou genoeg uit die winkel nie. Die dag is amper om; daar’s 223 onbeantwoorde e-posse, voorbereiding vir die volgende dag se opleidingsessie, beplanning vir die volgende week . . . en iewers tussendeur ’n kinderpartytjie om te beplan.
Half twee die oggend skrik ek wakker, my ritme versteur. Ek’s op die balanseerbalk. Die moeilikste is om kop en lyf bymekaar te hou. Dit kos fokus, deursettingsvermoë. Het die wyse agter die kasregister iets beet?
Ek sit regop, maak slaperig my lysie:
• Eet meer gesond.
• Slaap meer.
• Oefen.
• Spandeer meer tyd saam met man en kinders.
• Luister, moenie net hoor nie.
• Nooi familie en vriende vir ete.
Ek bekyk die sinlose spulletjie. Vrommel terstond die papiertjie op. Basta met dié nonsens, dink ek en gee ‘n selfvoldane tree vorentoe op my balk.
Die volgende oggend vergesel Bobby van Jaarsveld my in die kar op pad myn toe. Mens hoor wat jy wil hoor, hoor ek my man se stem in my kop toe Bobby sentimenteel sing:
“As jy weet wie jy is en waarheen jy gaan
Is die reis soveel beter
Want jy val en jy leer om weer op te staan
Dit los jou met die wete
Dat dit bly net ‘n keuse
Dis my keuse
Laat my lewe laat my sing
Laat my val en weer begin
Ek sal opstaan en weer aangaan
Met wat die lewe vir my bring . . .”
Die vrou agter die kasregister is in my kop. Ek wil haar gaan soek, my storie vertel. Want vanoggend weet ek weer balans is vir my anders as vir haar. Dis okay.
Ek loop op my balk en probeer staande bly tussen die die rumoer, die gejaag, die adrenalien. My eie toertjie. Elke nou en dan put ek groot vreugde uit die Kalahari se rooi grond en nog rooier sonsondergang.
Ek draai die radio hard en basuin saam met Bobby: “Laat my lewe, laat my sing . . .”
Dís my balans.
Tot volgende week,
Marí