Dit was die woorde waarmee glanssjef Bertus Basson die deelnemers aan vanjaar se naelbyt-seisoen van kykNET se Kokkedoor Vuur & Vlam-koswerklikheidsreeks byna die hasepad laat kies het.
Op sy beurt het koskenner Kobus Botha vertel dat die eerste skilferkorsresep in die jare 1300 neergepen is! Dit nogal deur ’n Franse priester. En daar was nie die gerief van ’n oond soos deesdae die geval is nie.
Maar in die agste episode was daar genadiglik wyse hulp byderhand in die vorm van ’n gesoute en gewilde bobaasbakster van die Noord-Kaap. Ja, Tannie Skuinskoek het kom inloer. Dis natuurlik Theresa de Vries van Brandvlei wat in die eerste seisoen van Kokkedoor Kyk & Kook haar staal getoon het.
‘Koue hande, koue werksoppervlakte, koue kombuis, koue botter . . . alles wat Kokkedoor Vuur & Vlam se kombuis nie is nie,” het Bertus die deelnemers nog verder skrik op die lyf gejaag, want hulle moes skilferkors te maak . . . op die vuur!
Lees ook: Kokkedoor trek ’n ander voorskoot aan vir nuwe seisoen: Het jy wat dit vat?
Vir die uitdaging moes daar koffiekoek, ’n outydse melktert en dan ’n tradisionele fyngebak voorberei word.
Die oorstelpte wenners van hierdie uitdaging was onthoubraaier Jay Maan (51), ’n onthoubraaier-oopvuursjef van Pretoria en sy kinkelbraaier-spanmaat, Francois Binneman (35), ’n professionele sjef van Port Elizabeth. Dit was ook die eerste keer dat die twee langs mekaar voor die vuur gestaan het.
Wat sê Jay?
Jy’t gesê die woorde “bak” en “bak op vuur” het jou moed laat sak. Hoe het jy gevoel na afloop van die uitdaging?
Die uitdaging was uiteindelik groot pret, alhoewel ek aanvanklik so ’n bietjie in my broek gebewe het! Ek bak selde, en die gedagte om ’n melktert op die vuur te maak het na ’n ongelooflike moeilike taak gevoel. Maar, soos met alles oor die oop vlam, het ek besef dit kom neer op temperatuurbeheer en tydsberekening. Dit was ’n goeie herinnering dat selfs die uitdagendste take op die vuur kan werk as jy dit met geduld en fyn aanvoeling aanpak.
Toe die nuwe spanne aangekondig is, was jy duidelik teleurgesteld dat jy spanne moes ruil. Het jy en Francois mekaar vroeg reeds tydens die uitdaging maklik gevind?
Ek was verseker teleurgesteld om spanne te ruil want ek en Lollie (Lorianne Heyns) het goed saamgewerk. Ja, ons bord het in ’n vorige episode onder die onderste twee beland, maar met ’n paar klein aanpassings kon dit net so maklik in die top-twee gewees het. Dit wys net hoe straf die kompetisie is op hierdie punt van die reeks!
Wat Francois betref het ons vinnig ’n ritme gevind. Ek het regtig my tyd saam met hom geniet – ons het goed saamgewerk van die begin af. Hy het ’n groot rol gespeel in die sukses van die uitdaging en ek kon op hom staatmaak – en ek hoop hy kon ook op my staatmaak. Dit was ’n lekker ervaring om ’n nuwe dinamiek in die kombuis te ervaar en om uit my gemaksone te klim.
Kan jy beskryf hoe dit gevoel het toe jy daai pot se deksel oplig en Francois sê die koek is 100%?
Ja, ek onthou daardie oomblik baie goed! Kyk, ek was baie nervous toe ek daai deksel oplig, maar toe Francois sê die koek is 100%, was ek sommer oor die maan van verligting en blydskap. En bo en behalwe dat die koek reg uitgekom het, was dit boonop vrek-lekker – presies my tipe koek! Ek hou nie van té soet koeke nie, so hierdie een was perfek vir my smaak.
Hoe maklik was dit vir jou om die Ooni-oond te verstaan na jou eerste proeflopie verbrand het? Sal jy weer een inspan?
Ek wag nog steeds vir Ooni om vir my en Francois ’n oond te stuur vir daai wen! Gelukkig het ons genoeg melktertvulsel gemaak vir ’n tweede poging want die eerste poging sou ons verseker huis toe gestuur het. Maar toe ek eers die Ooni onder die knie gekry het, was dit heelwat makliker. Ek het net besluit om nie vir ’n enkele sekonde my oë van daardie melktert af te haal nie! Foute maak ons beter, né?
Wat het Tannie Skuinskoek en Kobus se terugvoer op jou melktert vir jou beteken?
Dit was lekker om die terugvoer van Kobus te kry. Tannie Skuinskoek wou selfs vir my ’n drukkie kom gee. Ek wag nog! Maar ek wil ook sê, die terugvoer wat ek elke week van Kobus en Bertus kry, is vir my baie belangrik. Alhoewel ek bly is oor die positiewe kommentaar, is die uitdagende terugvoer net so waardevol. Beide Kobus en Bertus is albei hoog aangeskrewe in hul onderskeie velde. Dis presies in lyn met wat ek doen. Dit help my om nie net te fokus op wat goed gaan nie, maar ook op waar ek kan verbeter. Elke episode se terugvoer, of dit nou positief of hard is, is deel van wat my as Mr Braai Guy vorentoe dryf.
Vertel meer oor hoe dit gevoel het toe julle as die wenspan aangekondig is.
Kyk, ek was baie verlig om te weet ek gaan nie huis toe nie en dat ons nog ’n kans het om verder te kom in die kompetisie – dáárdie oomblik is vrek-lekker. Ek is wel ook ’n realist, en wetende hoe taai die kompetisie nog gaan word, het ek besef ek moet die oomblik geniet. Maar daar kom weer ’n nuwe uitdaging vir my en Francois. Ons moet net aanhou om ons beste te gee en om te presteer. Die scenario saam met ’n nuwe spanmaat is real. Francois en ek moet mekaar nog beter leer ken as spanmaats en saam aan die dinamiek begin bou.
Wat sê Francois?
Jy het gesê dat jy Suid-Afrikaanse kostradisies na nuwe hoogtes neem. Hoe het jy gevoel oor hierdie uitdaging?
Ek het dit as ’n voorreg en ’n groot verantwoordelikheid gesien. Suid-Afrikaanse kos is diep-gewortel in my stories, mense en herinneringe – en om daarmee te eksperimenteer sonder om die siel daarvan te verloor, is ’n fyn balans. Dit was opwindend en uitdagend, maar elke gereg wat ek gemaak het, het my net nóg meer trots gemaak op waar ons kos vandaan kom én waarheen dit kan gaan.
Die idee van yskoue sodawater vir jou skilferkorsdeeg – is dit ’n algemene gebruik of iets wat jy self besluit het om te doen?
Ek het al gehoor van mense wat koue water of selfs asyn gebruik, maar ek wou iets anders probeer. Die bruis van sodawater help om die deeg nóg ligter te maak, en die koue temperatuur keer dat die botter te vinnig smelt. Herman Lensing het by my stasie verbygestap, ’n rukkie gestaan en gekyk hoe my skilferkorsdeeg lyk – en ek kon aan sy gesig sien dat hy beïndruk was. Dit was ’n lekker gevoel want hy is nou wraggies iemand wat kán bak! Ek moet sê, dit was ’n bietjie van ’n kans wat ek gevat het, maar dit het gewerk – en dít is mos waaroor kosmaak gaan.
In ’n stadium het dit gelyk asof jy en Jay reeds jare lank ’n span is. Hoe was die ervaring om saam met Jay te werk?
Van die eerste oomblik af was daar net ’n natuurlike vloei tussen ons. Jay is kreatief, energiek en net so passievol oor kos soos ek. Ons het mekaar goed aangevul – hy het baie gestres om op te vuur te bak, maar ek dink my kalmte en gemak om met enigiemand te kan werk, het hom ook rustig gemaak. Daar was natuurlik oomblikke van stres, maar ek het hom regtig bewonder vir hoe hy homself gedra het – en ek het hom met respek en integriteit behandel.
Jy het gesê “you better watch out” wanneer jy die slag uit die boks klim. Vertel vir ons meer.
Ek dink mense het dalk ’n sekere idee gehad van wat ek kan, of nie kan doen nie. Maar ek weet dat ek my kreatiwiteit en tegniek kan inspan om mense te verras. Daardie oomblik was vir my soos om te sê: “Ek’s hier om te speel, en ek’s hier om te wen.” Ek hou daarvan om mense te laat dink ek gaan links draai, en dan verras ek hulle deur regs te gaan!
Toe julle as wenners aangewys is, was jy baie bly omdat by die huis geglo word jy kan nie bak nie. Wat beteken hierdie wen vir jou? En wat gaan jy beslis nou by die huis bak?
Hierdie wen is vir my meer as net ’n titel – dit is bewys dat ek wél kan bak! By die huis het almal altyd gespot en gesê ek moet maar liewers net by kook bly, maar nou het ek bewys dat ek albei kan doen. Ek gaan beslis my skilferkors verder vervolmaak en dalk ’n klassieke melktert maak – net om vir almal te wys ek’s nou ’n bakker ook!
Wat is die grootste les wat jy tot dusver tydens Kokkedoor Vuur & Vlam geleer het? En watter impak het dit op jou vandag?
Ek het geleer om myself te vertrou. In ’n kompetisie soos hierdie is daar min tyd om te twyfel – jy moet jou instink volg en op jou vaardighede staatmaak. Hierdie ervaring het my meer selfvertroue gegee, nie net as kok nie, maar ook as iemand wat kan innoveer en aanpas. Dit is iets wat ek definitief saam gaan vat in my loopbaan, in ons spysenieringsmaatskappy én my persoonlike lewe.
Kokkedoor Vuur & Vlam word Donderdagaande om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Stream) uitgesaai. Episodes sal ná uitsending ook op Catch Up beskikbaar wees.
Lees ook: Fourie se verlede kom klop: Ontmoet Diepe Waters se geheimsinnige Bianca