Aunty Merle The Musical in Johannesburg deur Corlia Fourie. Foto’s verskaf
Die gehoor lag dat die trane loop in Marc Lottering se heerlike musiekblyspel Aunty Merle The Musical wat uiteindelik na drie seisoene in die Kaap in Johannesburg aangekom het. Die spelers speel, sing en dans nie net tegnies goed nie, maar met hul hele hart.
Die verhaal draai om Aunty Merle se dogter Abigail, gespeel deur Tracey Lee Olivier wat met die whitey Alan White (Paul du Toit) gaan trou. Daar is egter ’n onaangename geheim in Abigail se verlede wat deur haar vorige kêrel, Denver Paulse (gespeel deur Loukmaan Adams), ge-openbaar word om die trouplanne te verongeluk.
Daar is nie een swak skakel in die opvoering nie, maar Marc Lottering steel die kollig met sy vertolking van die titelrol. Tydens onderhoude vertel hy dat hy die karakter gegrond het op sy ma en twee van haar vriendinne wat hy as kind dopgehou het. Mensig, maar hy is ’n goeie waarnemer en ’n uitstekende akteur en komediant. En ’n baie oortuigende Aunty Merle van Elsiesrivier.
Die musiekspel deins nie terug van kontroversiële kwessies en sosiale kommentaar nie: rassisme, homoseksualiteit, staatskaping ens. kom onder die loep, maar dit word op ’n manier aangebied wat die lagspiere prikkel.
Die musiek is geskryf deur Tarryn Lamb en Marc Lottering en sluit heerlike liedjies soos “I believe in love”, “Don’t call me Ouma”, “Always a Lekker Story” en “Hier kom ‘n Ding” in. Die pryswennende regisseur, Lara Foot, het die regie – so goed – waargeneem.
Daar is heeltemal niks in die produksie wat ‘n wanklank veroorsaak nie. Dit word werklik aanbeveel.
Kaartjies vanaf R145. Vir meer inligting, besoek die webwerf: www.joburgtheatre.com
Gesels saam met die hutsmerk: #MerleInJozi