“Visblikke, jamblikke, drie-by-drie. Ons is, ons is, weet julle wie?”
Dit dreunsing vanaf die pawiljoen. Hier onder op die baan brand die son fel. Sweetdruppels kronkel teen ons rug af, ons tonge klou dor aan ons verhemelte.
Hy is anders. Ons jongste was nog altyd anders.
Die wegraak in sy eie wêreld, kleintyd se temerige praat, sy sosiale onbeholpenheid, sy koes vir oog- en lyfkontak. Sy obsessies en verbysterende kennis rakende sy belangstellings. Sy skerp humorsin, sensitiwiteit vir God, sy fyn aanvoeling vir mens en dier. Die bemeestering van die moeilike en die sukkel met die maklike. Sy begaafdheid wat afgekamp staan tussen sy ore. Die naar word vir groente en vrugte, sy trane sodra dinge te vinnig verander, sy wiegende sit en staan wanneer spanning oplaai.
Ons eerste leidraad was ’n artikel in rooi rose wat opgevolg is met omvattende toetse en evaluasies. Sy andersheid kry ’n naam: Aspergersindroom.
Hy is anders. Ons jongste was nog altyd anders
Ons liefde en humorsin kombers hom teen die koue onvergewensgesindheid van die wêreld.
Ons raak gewoond aan sy stem agter die pilaar tydens etenstye, want hy is gevoelig vir reuke en geure soos botter in ’n yskas.
Met verwondering merk ons die belt om sy langbroek wat sy lyf amper drie keer omsingel. Dit blyk toe sy perd se toom te wees.
Verstrooid vergeet hy die gloeilampie en los sy pa tussen hemel en aarde op ’n hoë leer. Vermaan Manlief streng dat kru taal nie in die huis geduld word nie.
Die Asperger-vastrap en flappende hand langs die oor veredons ons knus, because we love his weirdness.
Matriek
Matriek breek te gou aan. Die lading is te swaar en die druk te hoog, en meltdowns bars soos vuurspuwende lawa oor sy brein. Dit verbrand kennis tot ’n hopie as. Koorsaanvalle en diarree verswaar die las.
Om die beurt werk ek en Manlief agt tot tien ure ’n dag met hom, naweke en vakansies ingesluit. Ons halt-stuit angstig voor dae van neurologiese ineenstortings, soekend na ’n makliker pad. Ons vind net die skynende liggie vlak voor ons voete en gee net één verbete treetjie op ’n keer.
Maar op ’n ongenadig warm dag stap ek baklei-baklei die veld in, met die opstand skurf in my siel.
“Weet U van hom? Sien U hom raak, of is dit net die kinders met blink bekers, die A-plussers en dié met goue-letter-sertifikate wat U oog vang? Maak hy enigsins ’n skadu op U horison, of is U te besig om saam met die dawerende applous hande te klap vir dié op die rostrum?”
Warm woedetrane stroom oor my wange en magtelose protes maak alle genade dood. Ek verwyt, veroordeel en beskuldig God van liefdelose traak-my-nie-agtigheid, van belangeloosheid en bevoordeling. Ek bal my vuis, en dwase drif kolk soos ’n verwoestende rivier.
Warm woedetrane stroom oor my wange
Tussen aalwyne met rooi kerspunte gaan sit ek op my bidklip, sat baklei, en in die koel briesie hoor ek Sy fluisterstem:
“Wat is in jou hart, my kind?”
Sy sagte stem vermurwe my dun, bitter lip, en ek loer versigtig. Sonder verweer bekyk ek die groen monster wat dikgevreet, tevrede ’n lêplek gekry het. Jaloesie. Afguns. Wrewel. Nyd. Dit tier welig en my ribbekas kramp pynlik met die toeklamp van droefheid.
Bloederig breek my hart…
Teen sononder is ek voos gehuil, ontknoop, rein en heel. Vervlietend sien ek die groen gedrog tussen kiepersol en klip verdwyn.
Skemer het my vredig op die werf ingewag. Die donker was voor my by die huis.
Bidplekke en engele
Ons bidplekke spring oral op soos wildegras: by die Kleilatdam, in die Kloof, op die Hoëveld.
Hand-aan-hand staan ek en Manlief voor God se troon: Om die ondenkbare te dink, die onmoontlike te vra.
God stuur engele op ons pad:
Annatjie wat met sagte oë en ’n omgeehart sy fasiliteerder en Wiskundetutor is.
Madelé wat ’n jaar se mondelinge bepunt en die swaarkry met lekkerkry klaarkry.
Rachie wat ons professioneel bystaan met raad en verslae en ’n oorvloed empatie.
Hantie met ’n onskatbare wysheid en insig vanuit jarelange studie en ervaring.
Eindeksamentoesighouers in Zeerust wat begrypend die ekstra myl stap om my kind te akkommodeer.
Die pylvak breek aan en drupsgewys, een vir een, verlaat ons hartsmense die pawiljoen. Hulle kom staan sonkant by ons langs die baan; sy boeties en skoonsussie, ouma, tannies, ooms, nefies, niggies, liefste hartsmaatjies. Hulle bid, moedig aan, ondersteun, onderskraag: Hou bene hou! Hou bene hou!
Armswaaiend-kopskuddend storm hy en God op die wenstreep af
God skut my kind in, en sy geloof reik diep in Sy wese. Hy tap vanuit Sy groot mag en skuil by die Allerhoogste wat meltdowns afweer, Goddelike kalmte laat heers, en moed en deursettingsvermoë vêr bokant sy eie kragte gee: die Gees wat raad gee en bystaan in elke vraestel.
Weird, armswaaiend-kopskuddend storm hy en God op die wenstreep af en saam vermag hulle die ondenkbare, die onmoontlike.
Ons is…
“Visblikke, jamblikke, drie by drie
Ons is, ons is, kan julle raai?
Ons is die Begenadiges, wat vanuit die duisternis gered is tot in Sy Lig.
Ons is die Afhanklikes, wat steun op Hom, vir wie Hy die regte pad wys.
Ons is die Bekwames, wat tot alles in staat is deur Jesus Christus wat ons krag gee.
Ons is die Blyes, wat onsself toewikkel in Jesus se spierwit mantel van Geregtigheid.
Ons is die Vrymoediges, wat dapper sy Troon van liefde en omgee nader.
Ons is die Weggesteektes, wat in die Geheime Plek van die Allerhoogste se hart woon.
Ons is die Geliefdes, wat Hy koester en teer vertroetel.
Ons is die Beproefdes, wie se geloof vir Hom kosbaarder is as goud.
Ons is die Gesnoeides, wat in Hom groei en vrug dra.
Ons is die Getugdigdes, wat Sy wil soek in al ons denke, dade en doelstellings.
Ons is die Bome geplant by waterstrome, wat vrug dra en wie se blare groen bly al is daar droogte en skroeiende hitte.
Ons is die Tentbewoners, met ’n vaste huisadres in die Hemel.