Vra jou slagter om die lende en varkpens saam te ontbeen en in een stuk te hou. Op die manier kry jy ’n reuse-rol wat asemrowend lyk op tafel én sommer ’n klomp mense kan kos gee. Vra die slagter ook om vlak kepe in die vel te sny.
• 1 ontbeende varklende en varkpens in een stuk
• 100 g vinkelsaad, liggies gerooster
• ’n groot hand vol marjolein-blare
• 45 ml gekapte knoffel
• 45 ml olyfolie
• Maldon- of ander seesoutvlokkies
Bloubessiepansous
Genoeg vir 500 ml
Jy kan bevrore bessies gebruik as jy nie vars bessies kan kry nie.
• 1 klein ui, geskil en fyn gekap
• 10 ml (2 t) olyfolie
• 60 ml (¼ k) Crème de Cassis (bessie-likeur)
• 100 ml beesaftreksel
• 125 ml (½ k) bloubessies
• 125 ml (½ k) swartbessies
• 30 ml (2 e) suurlemoensap
• 45 ml (1½ e) heuning
• 250 ml (1 k) pansouse van die geroosterde varkrol
Instructions
Voorverhit die oond tot 170 °C. 1 Laat lê die oop rol op ’n skoon werksvlak met die vel na onder. 2 Meng die vinkelsaad, marjolein, knoffel en olyfolie en vryf dit aan die binnekant van die rol. 3 Rol die vleis op en bind plek-plek met kombuistou vas. Sit die rol in ’n groot oondpan en rooster vir 2 uur. Haal uit, maak toe met foelie en laat rus vir 15 min. 4 Skakel die oondrooster aan en stel die oondrakkie op die laagste vlak. 5 Strooi Maldonsout oor die vel en sit die vleis vir 20-25 min. onder die rooster sodat die vel lekker krakerig kan bak. Hou fyn dop sodat die vleis nie brand nie. Haal uit en sny in skywe. 6 Sit met die bloubessiesous en groente voor.
Bloubessiepansous
1 Braai die ui in olyfolie tot sag, gooi die likeur by en kook af. 2 Voeg die beesaftreksel, bloubessies, swartbessies en suurlemoensap by. 3 Kook vir 20 min. op lae hitte tot die sous dik word. Geur met sout en peper. 4 Roer die heuning en pansouse by en proe of die sous in balans is. 5 Voeg nog heuning by indien dit te suur is.