As jy sekere kosse weier, ly jy dalk aan ‘Avoidant, restrictive food intake disorder’ deur Salomé Delport. Foto: LuckyBusiness/istock images
Kos? Nee, dankie!
Kosweiering en kosgevegte is ou nuus in menige huis. Soms is dit ’n gier wat oorwaai. Maar nié as jou kind of maat aan ARFID ly nie.
Lees ook: 3 maniere hoe jy vanjaar meer ekovriendelik kan eet
Essie se verhaal
“Ons drie susters is mollig. Ons is in ons veertigerjare en dra nommer 18’s.
“In 2011 het my dogter verloof geraak aan iemand wat uit ’n ‘hoër stand’ as ons is, as ek dit so kan stel. Sy het ’n baie mooi troue beplan – nie groot nie, móói. Almal in daardie familie is SSSSS – slank, stylvol, sjarmant, suksesvol en slim. Ons begin gesels oor mooi lyk vir die troue, wat by vroue mos op dieet neerkom.
“Foto’s jok nooit nie,” het ons gelag. “As jy op die troue rietskraal lyk, dan is dit hoe jy áltyd is. Maar ons – of ten minste ek – was ook doodernstig … en vir seker ’n bietjie minderwaardig teenoor die nuwe skoonfamilie.
“Ek het ’n paar keer vantevore dieet, en elke keer vyf, tien kilo’s verloor, wat stadig teruggekruip het. Lateraan maak jy eerder vrede met jou lyf as om na ’n ligter een te strewe. Ek het nie weer kans gesien vir ’n intense fokus op kos, koslyste en porsies afweeg nie. Ek wou maklik en sonder drama gewig verloor.
“Hulle sê mos jy moet simplify. Dit is toe dat ek besluit het dieetkola as my tussenhappie en vir middagete is eenvoudig. Jy dink niks nie; jy is nie in ’n versoeking nie. Jy doen net een ding. Dit het soos ’n bom gewerk. Ek was binne ses maande heelwat skraler – mooi betyds vir die troue.
“Ek kan nou nog nie sê hoe dit daarvandaan skeef geloop het nie. Eers was ek net gewoonweg trots daarop as ek sien ek is ‘die kleinste’ in die geselskap. Jy kry baie komplimente, en dit is lekker as alle klere mooi pas.
Lees ook: Leer jou kind hoe om gesond by die skool te eet
“Dalk het die probleem begin met ’n diep wens om nie weer gewig aan te sit nie. Of dalk met ’n wens om respek? Ek was desperaat bang ek verloor beheer en begin soos tevore eet. So het kos in my mond begin ‘stol’. As ek ’n lepel pap in my mond sit, het ek angstig geword. Dit het gevoel asof die happie pap my soos ’n magneet in ’n swart afgrond inlok en ek op die rand van ’n krans staan en vasskop. En dan los ek die pap en drink eerder kola – en ek voel ontsettend verlig dat ek ontsnap het. Ek het ophou ontbyt eet, sonder dat iemand dit agtergekom het.
“’n Jaar later het ek net saans geëet, en dan ook net ’n happie vleis en dalk ’n tamatie of so. Ek het ’n lysie ‘veilige’ kos gehad – kola, babatamaties, sampioene, komkommer en ’n bietjie vleis. Jy kan oral so eet. Op teepartytjies bied jou vriendinne gou vir jou kola aan, en as jy uiteet, is my veilige kos altyd op die spyskaart. Jou kola raak jou troos – dit is jóúne, dit is altyd byderhand en daar vir jou, en dit is veilig.
“My man het begin opmerk ek is te maer. Ek het ook begin dink ek is brandmaer maar as ek kos sien, is dit asof ek wou stik. Lateraan kon ek niks anders as my veilige kos insluk nie.
“Ek het angstig begin raak oor ander dinge ook. Op ’n dag het ek ’n werklike paniekaanval gekry. My man het met my hospitaal toe gejaag – dit lyk mos soos ’n hartaanval as jy nie weet wat jy makeer nie. Toe het die hele storie uitgekom. Hy het die dokter vertel hoe ek op kola leef. Die dokter het my vir anoreksie na ’n sielkundige verwys maar dié het gou gesê ek het ’n vermydingsprobleem.
“Vandag eet ek reg maar in jou kop is een of ander grens vir altyd oorgesteek. Kos en etenstyd is vir my ’n verpligting – dit is nooit sommer net ’n ligte keuse of ’n lekkerte nie. Ek kyk steeds met agterdog selfs na iets so onskuldig soos ’n appel. Ek moet vir myself preek en sê ‘eet maar, dis oukei’. In my drie jaar op kola het ek ook my beendigtheid benadeel, en ek hoop om met ’n gebalanseerde eetpatroon die skade te herstel.”
Lees ook: 4 foute wat jy maak wat keer dat jy by jou dieet bly
Essie en ARFID
Essie se verhaal is tipies van ’n toestand met die amptelike naam van ARFID, of avoidant, restrictive food intake disorder.
ARFID is baie soos anoreksie, behalwe dat die persoon nie soveel gepla is met hul voorkoms nie, verduidelik die webwerf van die National Eating Disorders Association (NEAD).
Hulle sê dat sowat een uit elke tien mense vroeër of later ’n eetstoornis ontwikkel – van ooreet tot kosvergryping. NEAD sê mense is oor die algemeen baie bewus van anoreksie en bulimie, maar nie van die ander stoornisse soos ARFID en lakseermiddelmisbruik nie.
En tog is elkeen van hulle ernstig genoeg dat lyers daarvan kan sterf. Trouens, volgens NEAD is die sterftestyfer onder mense met eetstoornisse die tweede hoogste van al die soorte gemoedsiektes, na opioïedafhanklikheid. Jou kans om te sterf weens depressie is sowaar kléiner as jou kans om weens ’n eetstoornis te sterf.
Kinders kan ook kos weier.
Het hulle ARFID? Nie noodwendig nie. Baie kinders én volwassenes het sterk voorkeure en afkere. Dit word eers as ’n probleem beskou as die kind nie groei nie, of as ’n volwassene abnormaal gewig verloor weens hul eetgewoonte.
Lees ook: Eet jou maag gesond
Hoe help jy?
Uiteindelik het die persoon professionele hulp nodig, maar jy as naaste is waarskynlik die eerste en selfs enigste een wat besef iets skort. Mense met ’n eetsteurnis is dikwels baie broos, skaam en selfbewus daaroor, en/of sonder insig dat hulle werklik ’n probleem het.
Soos altyd is dit die beste om met ’n informele, rustige gesprek te begin, met ’n oop gemoed en sonder beskuldigings, vernederende kommentaar of veroordeling. Wees eerder baie eerlik oor jou bekommernisse en sit die feite soos jy dit sien, uiteen.
Die doel is om die persoon te oorreed om vir professionele hulp te gaan. Party stem maklik in. As iemand nie instem nie bly liefdevol maar ferm hieroor.
Lees ook: 3 mites oor eiers wat jy nie moet glo nie
Akeso Montrose Manor in Kaapstad spesialiseer in die rehabilitasie van mense met allerlei eetstoornisse. Linda Swanepoel, wat nou betrokke is hierby en hul nasorgprogram hanteer, sê die meeste mense is uiteindelik desperaat genoeg om te wíl verander maar weet nie hóé nie.
“Die kern van die probleem lê dikwels by beheer en angs dat hulle beheer gaan verloor as hulle hul gedrag moet verander.”
Lees ook: Die 10 beste kosse wat vir enige dieet sal werk
Stappe vir herstel
“Die eerste basiese beginsel is dat die persoon moet aanvaar dat hy/sy ’n alles-of-niks tipe is. Vir hom/haar kom balans nie natuurlik nie, om watter rede ook al. Hulle moet leer om hul lewe te struktureer rondom ’n gebalanseerde leefstyl – vaste etenstye, ’n gebalanseerde dieet wat alles insluit, ’n bietjie oefening en genoeg afleiding en slaap.
“Die meeste het ook hulp op psigiese vlak nodig. Ons het baie sukses met gespreksterapie, en fokus veral op vaardighede soos die vermoë om negatiewe situasies te leer verdra. Radikale aanvaarding – die vermoë om te aanvaar dat alles, en veral jy, nie perfek hoef te wees nie – is net so belangrik. So ook emosionele selfregulasie, of die vermoë om op ’n gepaste manier situasies te verwerk wat jou ontstel.”
Lees ook: Kies jou eie verslankingsdieet
Tekens en simptome van ARFID
- Jy het baie gewig verloor, of ’n kind groei nie normaal nie.
- Jy eet net ’n paar soorte kosse, kom wat wil.
- Enige druk om ander kos te eet maak jou angstig en ontstel jou.
- Jy het ’n abnormale vrees dat jy sal stik of naar word.
- Jy het geen belangstelling in kos nie.
- Jy voel met etenstyd altyd “te vol” of “het maagpyn” en kan nie nog eet nie.
- Jy is nie bekommerd oor gewig of liggaamsbeeld nie.
- Baie lyers kla van spysverteringsprobleme, soos hardlywigheid en sooibrand.
- Baie lyers is koulik, lusteloos, voel en word soms flou, slaap sleg, en voel dikwels duiselig en moeg.
- Vroue begin maandstondes oorslaan en hou mettertyd op menstrueer.
- Lyers se naels word bros, die vel word droog, baie ontwikkel sagte harigheid oraloor.
- Hul immuniteit verswak en hulle kry maklik verkoue, en wondjies genees stadig.