Geniet jou kind se oorspronklikheid. Wees trots op haar sensitiwiteit en haar lojaliteit teenoor vriende. Moenie van haar verwag om die groep te volg nie; moedig haar eerder aan om haar passies na te jaag. Prys haar wanneer sy goed vaar, al is dit op ’n gebied wat jou nie interesseer nie.
Nuwe mense, situasies en geleenthede kan vir jou kind ’n uitdaging wees. As hy terugdeins, is dit weens die nuutheid van die situasie of weens oorstimulasie, nie noodwendig omdat hy kontak met mense wil vermy nie. Introverte hou van sosiale kontak, maar op hul eie voorwaardes.
Die sleutel is om jou kind geleidelik aan nuutheid bloot te stel. Respekteer sy grense. Dit gee hom meer selfvertroue as wanneer jy hom in situasies indwing of hom oorbeskerm. Laat hom voel dat sy emosies natuurlik en normaal is, maar stel hom ook gerus dat daar niks is om voor bang te wees nie: “Ek weet dit kan snaaks voel om met iemand te speel wat jy glad nie ken nie, maar ek wed daardie seun sal graag saam met jou karretjies speel as jy hom vra.”
Stel jou kind aan vreemde kinders voor as hy nog klein is en bly in die omgewing as jy sien hy vind baat daarby. Prys hom as hy sosiale risiko’s neem: “Ek het gister gesien hoe jy na daardie vreemde kinders toe stap. Ek weet dit kan moeilik wees, en ek is trots op jou.”
Pas by jou kind se tempo aan; moet hom nie aanjaag nie. Mettertyd sal hy agterkom dat hy déúr sy ongemak kan beweeg en by die pret aan die ander kant uitkom. As jy jou kind help om sy emosies kalm te hanteer, sal hy dit later op sy eie kan doen.
Stel jou kind geleidelik aan nuwe sosiale situasies bloot. As sy bang is om na ’n verjaardagpartytjie te gaan, kan jy haar vooraf vertel hoe dit gaan wees en met rollespel oefen om die maatjies te groet as sy daar aankom. Gaan vroeg sodat sy een van die eerste gaste is en tuis kan voel voordat die hele groep opdaag.
Leer jou kind eenvoudige sosiale strategieë wat haar in ongemaklike oomblikke kan help, byvoorbeeld: “Glimlag, staan regop, en maak oogkontak.” Leer haar om die vriendelike gesigte in ’n groep uit te soek. Help haar uitwerk met watter maatjies by die skool of speelgroepie sy lekker speel.
Indien nodig, wees op die uitkyk vir sosiale vaardigheidswerkswinkels vir kinders. Hier word kinders geleer om by groepe aan te sluit (al is dit net op die speelgrond), hulself aan maats voor te stel, en liggaamstaal en gesigsuitdrukkings te lees. Dit kan jou kind help om die moeilikste deel van die dag – skooltyd – te navigeer.
As jy ’n introvert onderrig
Geniet jou studente of leerders wat maklik deelneem. Maar neem ook die skames, die saggeaardes, dié wat graag op hul eie werk en hulself bestuur, en dié met ’n onverklaarbare passie vir skeikunde-stelle of negentiende eeuse kuns in ag. Hulle is die denkers, ingenieurs en kunstenaars van more.
As jy ’n introvert bestuur
As jy ’n bestuurder is, is ’n derde tot die helfte van jou werksmag introverte, al lyk dit dalk nie so nie. Dink twee maal oor jou organisasie se kantooruitleg. Moenie van introverte verwag om opgewonde te raak oor oopplanontwerpe nie – ook nie oor verjaardagvierings tydens die etensuur of spanbougeleenthede nie. Maak die meeste van introverte se sterk punte: hulle is die mense wat diep of strategies kan dink, ingewikkelde problem kan oplos, en kanaries in jou steenkoolmyn kan raaksien.
As jy die groep se mening wil hê, kry elke individu se oplossing per e-pos of op papier voordat hulle mekaar se bydraes sien. Direkte kontak tussen werknemers is belangrik omdat dit vertroue bou, maar groepsdinamika beperk kreatiewe denke. (In “Quiet” beskryf Susan Cain navorsing wat hierdie stelling staaf.)
Sorg dat werknemers een tot een- of kleingroepinteraksie het. Moenie selfversekerdheid of welsprekendheid met goeie idees verwar nie. Onthou dat ‘n proaktiewe werksmag waarskynlik beter sal vaar onder ‘n introverte as ‘n ekstroverte of charismatiese leier (die navorsingsresultate is in “Quiet” beskikbaar.)
Lees ook: Is jou kind ADHD of begaafd?