Hier sit die manne, dink ek, maar dit is nie die Royal-hotel nie. Dit is die Werkloosheidsvoorsieningsfondskantoor in Middelburg. Dit is net ná 8:00 en daar is 35 ouens in die WVF-ry – net aan die navraekant. Ek sal terugkom, sê ek vir Pa wat saamgekom het “om te kyk of jy sal veilig wees”.
Om 14:45 kan ek my geluk nie glo nie, want al wat in die ry agtergebly het, is ’n vrou met krukke, amper soos die lam seuntjie in Die Rotvanger van Hamlin.
“Ons help nie meer dié tyd mense nie,” verklaar die amptenaar die leë sitplekke. Van halfdrie af verwerk hulle net aansoeke. Maar hy kry my moedelose gesig jammer, ek moet net ’n bietjie vir sy buurman wag.
Snaakse goed gaan deur jou kop so onder die reguit blik van mnr. Membathisi Mdladlana, minister van arbeid, uit die goue raampie bokant jou kop. Het jy, bevoorregte, ooit gedink jy sal met jou ID en ’n afbetalingsbrief op jou skoot sit en wag vir ’n aalmoes uit die hand van die staat?
Die skoolhoof het nie verniet al daai jare terug met saalopening gepreek oor die gelykenis van die talente nie: Jy het nogal geleer, ewe verder gaan leer en kromgestaan in die soutpanne sodat jou CV nie so skaam ingeryg soos ’n somersosatie moet lyk nie. Jy het seker ’n keer ’n lui kollega te hard voor die bors gegryp en partykeer penne verloor, maar darem nie uitveërs gesteel en huis toe gevat nie.
Die ironie. Jy, wat net twee maande terug saam met die res van die gesin vir Ousus se oudste gesê het: “Tukkies toe met jou”, sit nou sonder jop. En vir hoeveel jare het jy nie finansiële kopie taalversorg oor ánder mense se werkverlies nie? Jy is amper lus en val in ’n gat van narsistiese selfbejammering, man.
“How are you?” roep die buurman my toonbank toe, en ek kom agter my vryskutkontrakte by die koerante het sowaar ook UIF, soos dit in die volksmond bekend staan, afgetrek. Maar Beeld en Rapport se personeelmense hou al vakansie, ek moet Januarie teruggaan.
Joe, en ek het so ’n lekker werk gehad, daar word dan partykeer flieks gemaak oor reisjoernaliste! “Die goeie oue tyd, my vriend,” het ons hand vol redaksielede verdrietig vir mekaar gesing voor ons uitmekaargespat het met die toemaak van ons tydskrif. Die ou wat wel in die maatskappy kon agterbly, het ons geweet, kry die swaarste. Gelukkig het die enkelma met twee kinders ná die eerste maagsweermaand werk gekry, net ons ander drie wag vir die doppie uit hierdie anderste bar.
“Julle moenie julself verwyt en dink as julle anders gedit of gedat het sou dinge beter uitgewerk het nie,” probeer ’n oudkollega troos, maar daai dik onderlip is al weer hier half onder jou tande. Ons het nie vir die dêm sonsondergange gekyk nie, ons moes hulle afneem. Al daai laat nagte, naweke en bloedsweet tussen die blaaie, en hy sê dít!
’n Mens kom uit jou ongedurigheid agter jy soek half iemand om kwalik te neem, maar wie? Die nuwe, jong besturende direkteur? Die uitgewer? Ons het, soos skoolkinders, vir die personeelbeampte ’n bynaam uitgedink, maar “die ekonomie” het op die amptelike persverklaring gestaan. Die res van die gebou se harte het saam met ons gebloei; ’n wildvreemde vrou het in trane uitgebars toe sy groet.
Jy kan nou probeer vinger wys, het die skoolhoof sweerlik ook destyds kwytgeraak, maar drie vingers wys terug. Ek het ’n kans gewaag, ek het geweet ek gaan vir ’n jong tydskrif werk, en, soos Abraham H. de Vries se balsem-sin vir ons verslae gees in die laaste uitgawe gelui het: “Alles waardevols is weerloos.”
En spyt kan ek nie wees nie, nie oor al die wonderlike mense wat my pad gekruis het nie, nie oor die vreemde klippe wat ek kon oplig vir stories nie en allermins oor die herinneringe wat jy deur baie langer as sewe maer jare sal kan dra: Daai regop staan op die branderplank (al het almal gesê die brandertjies op die foto lyk kléin), die onbeplande – en onbeklede – swem in die kloof (ons het nie die draai in die pad terug stroom toe gesien nie) … en as my pen-sondes my eendag inhaal en die galgtou my einde is, sal ek nou weet om as laaste maal te vra vir melktert uit Swellendam se koperpanne.
Buitendien, ek is steeds bevoorreg: “Ma,” bel ek huis toe, “sal Ma-hulle die gemeste kalf slag?”
“Hier het so ’n maer hoendertjie verbygehol gekom wat ons gevang het,” sê sy, maar ek weet die Oosstraat-hotel se deure staan oop vir solank ek dit oor my hart kan kry om daar te bly, nie anders om nie. My (en die bank se) huis is vanweë die Kaapse draai verhuur (hou, huurders, hou, ek wil nie terugtrek tamatiestraat toe nie). En as ’n mens so tussen die versekerings en medies deur mooi werk met daai twee-en-’n-half-maande-pakket …
“If God closes a door, He opens a window,” haal vriend en vyand vir jou uit The Sound of Music aan. Ja, ek glo dit, knik ek kop. Wat is die plan? wil hulle dan in dieselfde asem weet.
’n Ryk, enkellopende boer is nie ’n oplossing op kort termyn nie, het my pel op Trompsburg laat hoor. “Ek werk aan ’n projek, my tan en my pa se wynversameling,” sê ek vir almal. Hou dit lig, lig. “Projek” is vaag genoeg dat dit maar kan skeefloop sonder die skaamkry agterna; ’n mens begin skanse oprig vir die selfbeeld, kom ek agter.
Maar ’n versigtige “het jy al iets?” is ’n vraag wat hom drieweekliks kan herhaal, besef jy ook gou. Jou mense gee om, praatjies maak is al genade. “Man, dit reën so lekker in Mpumalanga, jy sal nie glo hoe groen die wêreld al is nie. En ek draf so lekker.” Die serotonien moet loop, spot jy.
Tyd is skielik volop. Oor Kersfees bak ons kleinkoekies en ek speel so lank Monopoly saam met Ousus se seuns dat ek twee keer ’n skoonheidskompetisie wen. Dit is huise en hotelle net waar jy kyk.
Die regte mark lyk nie so lekker nie. Ekonoom Mike Schüssler meen in Suid-Afrika gaan daar nie vanjaar ’n merkbare verskil tussen die lot van geskoolde en ongeskoolde arbeid wees nie: na verwagting gaan nog 100 000 mense hul werk verloor. Finansiële dienste en eiendom se indiensnemingsverwagtinge is die swakste, sê die pers.
Vryskutdeure slaan toe. Al verskil tussen my en 20% van joernaliste by die Afrikaanse koerante landwyd is dat ek voor Krismis geweet het ek is in my dinges in, hulle weet ook die swaard gaan val, net nie oor wie en wanneer nie.
Terug in die WVF-kantoor kan ek sien die oes aan nuwe werkloses het nie skraler geword nie. Jonk en oud, aangetrek en oorpak, keps en kopdoek, ons sit die rye vol. Hoeveel van hulle het honger kinders by die huis, en hoe gaan hulle skoolklere koop?
“Are you here for your employees?” vra die ou met die bril langs my.
Die res van hoofstuk twee en drie wil niemand hoor nie, almal was al in die tou vir ’n gesteelde ID of nuwe lisensie. Nóg sit, vorms en verkeerde nommers. Maar uiteindelik, oor ’n maand moet ek met my bankrekeningnommer terugkom.
In dié bootjie was ook al twee aangetroude neefs met MBA’s. “Dit was van die ergste tye in my lewe,” sê die mediese ou, en die ou uit die mynwese het by motors verkoop gaan draai, weet ek.
Wat maak jy as die een CV na die ander wat jy uitstuur in niemandsland verdwyn? Sal dit help om goedkoper gesigroom te begin koop? Of hoe lank kan jy jou haarsny rek sonder dat jy slonserig lyk en mense jou jammer kry?
Tyd bly volop.
Die bure se papegaai fluit darem al vir my roomkleurige bene as ek soggens verbydraf, en Pa trek elke Sondag ’n kurkprop uit.
Man, dit was ’n reënjaar soos min in Mpumalanga. Maar nou byt die luggie al soggens, die Hoëveldse winter is nie ver nie.
As daardie skoolhoof dit nie gesê het nie, sê ek dit nou sommer namens hom: Moedhou en aanhou. Alles sal regkom, sê Jan Brand, die karnallie.