As jou hart breek – drie vroue deel hul hartbreekverhale Deur Mariette Snyman. Hooffoto: iStock/Anna_leni
As jou hart breek …
Die verhouding waarin ek vyf jaar lank betrokke was, het my hart gebreek,” sê die vrou met die helder oë. “Wanneer dit sleg gaan met my, voel ek ’n fisieke pyn in my hart. Tydens ’n mediese ondersoek het die kardioloog gesê daar’s nie fout nie. My vermoede is bevestig: dis ’n emosionele pyn.”
Hoekom in Valentynsmaand oor gebroke harte skryf? Omdat dit deel van die (ware) werklikheid is. Midde-in die vrolikheid loop mense met pyn, soos Clarissa* hier bo.
Die vroue wat hul verhale vertel het, het my met nuwe ontsag vir die liefde gelaat. Die liefde wat jou so hoog kan lig, gooi jou soms hard teen die grond. En tog blus dit nie noodwendig die hoop of die hartstog nie. Die vlam bly brand, al maak dit suiwer seer.
Daarom is dié artikel nie ’n “heel jou hart”-artikel nie. Dit gee net vroue se ervaring weer. Hoe en of ’n gebroke hart herstel, hang van baie dinge af. Daar is altyd hulp, maar kitsoplossings bly skaars.
Lees ook: Ja, jy kan meer van jouself hou!
Clarissa is in haar laat dertigerjare en het ’n suksesvolle sakeonderneming. Sy het Klaus* by ’n sakegeleentheid ontmoet. Die romanse het geblom, hoewel hulle mekaar min kon sien omdat hulle ver van mekaar woon.
“’n Jaar ná ons begin uitgaan het, het ons weer ’n wonderlike naweek saam gehad. Kort daarna het ek ’n e-pos gekry waarin Klaus sê hy beëindig ons verhouding. Dit was vir my ’n ongelooflike skok. Daar was geen aanduiding dat iets verkeerd was nie.”
Mettertyd het Klaus die breuk herstel, maar ’n paar maande later het dit weer gebeur.
En weer.
’n Sielkundige het Clarissa aangeraai het om alle bande met hom te verbreek, maar sy kon nie.
“Ek het later uitgevind Klaus sien steeds sy vriendin uit ’n vorige verhouding wat oor etlike jare gestrek het. Dit moes my gewaarsku het, maar ek was emosioneel klaar aan hom verbind.”
As jy terugkyk, sien jy jou foute, maar ín die situasie bly jy hoop. “Hy is ’n skans teen die alleenheid, jy dink hy is jou lewensmaat. Jy sal nie sommer omdraai en wegstap van die een wat jy glo vir jou bedoel is nie, al is daar kopspeletjies en leuens.”
Presies wanneer haar hart gebreek het, weet Clarissa nie. “Daar was ander tekens soos ’n slaapversteuring, depressie, ’n onvermoë om te werk. Die ergste was wanneer hy my geïgnoreer het of alleentyd gevra het ‘om duidelikheid te kry’. Die ure, dae, maande se wag op ’n oproep het my waansinnig gemaak.”
Clarissa sien nou nog die skade aan haar selfbeeld. “Ek sukkel soms om my tussen mense te handhaaf. Dit voel of ek emosioneel aangerand is. ’n Fisieke letsel genees nog, maar as jy binne stukkend is, sien niemand dit nie. Dié verhouding is die grootste trauma wat ek tot nog toe ervaar het, groter as die leefstylsiekte wat op my pad gekom het. En tog het dit vir my ’n geestelike verdieping gebring.”
Op die vraag of sy nog vir Klaus omgee, sê Clarissa eenvoudig ja. “Ek weet nie of opregte liefde ooit ophou bestaan nie. Jy kan emosie tog nie aan- en afskakel nie. Die ironie lê vir my in hoop. Hoop hou jou aan die lewe, maar dit maak jou ook dood. Hoop het my seerkryproses vyf jaar lank uitgerek.”
Lees ook: Hoe om ’n positiewe selfbeeld te kweek om gelukkiger te wees
Die sin in pyn
Gwendolyn* (18) is ’n kunsstudent wat sê haar hart het twee keer gebreek.
“’n Break-up bring ongelooflike teleurstelling, jou drome lê aan skerwe en ’n mes steek in jou hart. Dis ‘n dark night of the soul en dit bring baie pyn, want jy dink jy kon dalk iets daaraan gedoen het.”
Maar dis nie net sleg nie.
“Jy word in ’n oogwink so afgebreek dat jy in connection kom met wie jy regtig is. Jy vóél jou emosies, en dis amazing. Jy leef in die nou.”
Lees ook: Praktiese raad vir angstigheid en uitbranding
Haar mislukte verhoudings het haar gedwing om eerlik te wees met haarself, sê Gwendolyn. “Ek weet nou ek was verslaaf aan die eerste ou wat my hart gebreek het. Ek kon nie alleen wees nie en het my eiewaarde aan sy goedkeuring gemeet. Ek sou enigiets doen om hom te plesier, selfs nadat hy my gelos het. Ek was verwond, maar darem nog oop genoeg om lief te raak vir iemand anders.”
Tog was sy in dié verhouding nie werklik gelukkig nie. “Ek het later besef ek bly by hom oor ek bang was ek kry niemand anders nie. Ek het hom gelos, wat een van die moeilikste goed was wat ek ooit moes doen. Ek het twee weke omgehuil.”
In daardie tyd het Gwendolyn die eerste keer werklik na haarself begin omsien. “Ek moes my eie stukkies optel. Waar my fokus altyd op ’n ou was, het ek nou geleer om lief te raak vir myself. Stadigaan het ek agtergekom ek hoef nie te settle vir minder as wat ek wil hê nie. Die pyn het geboorte gegee aan ’n nuwe ek.”
*Skuilnaam
Lees ook: Leer hoe om selfgeldend te wees
Bloudruk van die liefde
Eva* sê dis eers wanneer jy deur al die skadu’s van die woord “liefde” gestap en jou hart oor die intensiteit daarvan gebreek het, dat die woord ‘n nuwe, ryper betekenis kry.
Sonder die liefde is geen woord waar of pynloos nie, en die pad wat ek tot hier gestap het, het my deur al die waarskynlike en onwaarskynlike skakerings van hierdie universele emosie geneem.
My eerste, primitiefste liefdesverhouding was dié met my biologiese ma. Sy, twintig jaar oud, en ek fetusklein en salig onbewus van haar verwerping wat vir my voorlê. Hoeveel uur het dit geduur voordat sy besluit het om my maar liewer by ’n weeshuis te loop aflaai? Voordat of nadat ek my eerste skree geskree het? Noodkrete wat tot vandag toe nog aanhou eggo in die leegheid van daardie éérste kamer wat my siel vir hierdie ding wat die mense liefde noem, oopgemaak het.
Die lief word vir ander daarná was ’n versigtige versugting, want die antisipasie van verwerping was reeds ingegraveer in my brein.
Tog … Ek het verlief geraak, getrou, die ma van twee pragtige kinders geword en was dankbaar en tevrede met my beker wat tot bo-oor die rand vir my geskink is. Maar êrens in my onderbewussyn het ’n stem van lank terug my wysgemaak dat dit nie sal hou nie. Dat ek die een of ander tyd verwerp sal word.
En in daardie kritieke tyd van vertwyfeling het iemand anders my wysgemaak daar’s ’n beter liefde en ’n regte paradys, ekstase en al. Ek het die appel gepluk en geëet en in die verskriklike val my brose hart, en ook dié van my dierbares, in duisend stukkies hoor splinter. Die pyn was akuut. Só akuut dat ek een Saterdagmiddag die see wou inloop. Die omdraai kan ek nie eens onthou nie.
Net die yskoue wind en die godverlate strand en die verskriklike groot niks rondom en in my. En die eindelose pad terug na my motor.
Wegtrek uit die dorp en jare lange terapie het gehelp vir die stadige toegroei van die wond in my hart, sonder dat ek regtig verstaan het wáárom ek prooi was.
En die pyn oor die opregte liefde van ’n lewensmaat wat ek sommerso uit my hande laat glip het? Dit het steeds ’n eggo van sy eie in die tweede leë kamer van my hart.
Die tyd het aangestap en die oerverlange om lief te hê en liefgehê te word los ons nooit. Ek het weer liefgekry. En weer getrou.
En weer het die angs van voortydige verlies my beetgekry. Dalk het my man my nie regtig lief nie? Dalk …? En wéér het ek my in my sotheid laat bedwelm deur mooier en sagter en “egter” woorde. Woorde wat hierdie slag nie net vertel het van ’n paradys nie, maar beloftes gemaak het om vir altyd en altyd veilig in hierdie volmaaktheid te bly.
Net, daar’s nie volmaakte paradyse nie.
Lees ook: Raak ontslae van jou emosionele bagasie
Hierdie slag sou ’n oordosis pille ’n sagter uitweg wees. ’n Uitweg uit die seer en verwarring in en rondom my. Want ek het geglo dat ek sonder hom, sonder sy liefde, niks is nie; ’n eensydige emosie wat deur die branders op die rotse sal uitspoel of saam met die wind sal wegwaai.
Liefde. Hoe vreemd het hierdie woord nie toe geword nie. Só, asof dit ’n nuwe woord is. Of ’n lelike een. Die bloudruk daarvan was tog in my brein.
Die verlies, die seermaak, die skuld … dit alles het my hart laat hurk van die pyn, asof dit stuk vir stuk uit my borskas geskeur word. Toe het ’n leegheid die plek daarvan ingeneem; ’n ontstellende niksheid. Nóg ’n leë kamer waarvan ek die deur en luike naïef oopgegooi het sodat die son daarin kon skyn. ’n Skuilte waar ek kon ingaan en by die kaggel van sy begrip kon gaan troos soek. Ek het met my hart en siel en ’n nuwe geloof geglo hy is Die Een wat die knaende honger in my hart sou stil.
Maar die werklikheid het ook hierdie deur van die hoeveelste hartkamer afgeruk, die vensters uitgeslaan. Hierdie keer met groter geweld, groter pyn, groter verlies. Die grootste hiervan, die verlies van my selfrespek.
My terapeut en vriendin was my enigste hoop, my enigste stukkie kers in die donker kringe wat ek aanhou kruip het. Om en om het ek myself gesleep om tot by die begin van hierdie ek te kom. En oor en oor het sy geglo ek kán.
Alleen kom ’n mens nie hierdeur nie. Alleen verstaan ’n mens nie.
Vandag, ’n leeftyd later, besef ek dat ek die verkeerde deure en vensters in my hart oopgemaak het vir die son, langs verkeerde en vreemde vure gaan sit het omdat ek koudgekry het.
En uiteindelik het die woord “liefde” ’n nuwe, ryper betekenis gekry. Dis eers wanneer ’n mens deur al die skakerings en skadu’s daarvan gestap het, en jou hart oor die intensiteit daarvan gebreek het, dat mens verstaan. Verstaan dat liefde die siel se intense en kragtige hunkering na sy ewebeeld is. En dat ons pyn, hunkering en vervulling werklik veel wyer en dieper lê as die dimensie wat ons ken.
Daarom, juis daarom, het ek ophou soek na die verlore paradyse in ander se gee en vra. En die vervulling en die eenvoud van hierdie oerdrang – wat ons liefde noem – in myself leer ontdek.
Soms, net soms, huil die wind nog deur daardie eerste leë kamer in my hart. Maar omdat ek verstaan, kry die res van my nie meer so koud nie, en voel ek nie meer so godverlate nie.
En kan ek weer liefhê.
Lees ook: Maak kreatiwiteit deel van jou lewe en wees gelukkiger