Ek droom dikwels dat ek een of ander taak tussen ‘n groep vreemdes moet uitvoer – en ek kan my skoene nêrens kry nie. In terme van spanningsvlak lê dié terugkerende nagmerrie nogal hoog op die richterskaal. Volgens droomwoordeboeke is skoene die simbool van jou sosiale aansien of jou gereedheid vir die toekoms; ek is duidelik bang dat ek iewers in onvoorsiene omstandighede my naam met ‘n plank gaan slaan.
As jy mooi daaroor dink, gaan ons 21e eeuers baie blasé met skoene om. Vir millennia het mense hul voete teen rowwe terrein, die weer en ander ongurighede probeer beskerm. Eers moes iemand ‘n dier doodmaak en dan die vel bewerk voordat dit as voetbedekking kon dien. As ék in die oertyd so ‘n luukse besit het, sou ek my elke aand met my skoene stewig aan my lyf voor die slaapvuur tuisgemaak het.
Hoeveel pare skoene het ek al in my lewe gedra? Ek onthou hoe my ma iets sags voor in my eerste paar skoolskoene gedruk het; hoe ek eendag kartongespes vir my blinkleerkerkskoene probeer prakseer het sodat ek soos Rooikappie in my storieboek kon lyk, en in watter pyn die “point shoes” vir die balletklas my op hoërskool gedompel het. Dalk is ‘n skoenpartytjie ‘n goeie idee – ‘n kuier waarheen elkeen hul gunstelingskoene dra en allerhande skoenstories uit hul verlede opdis.
Skoene kan jou hart natuurlik met vreugde vul: die hoëhakskoene in jou kas wat sê jy het oplaas danslesse begin neem, die karaktervolle knewels met voetslaankilo’s op, of die fyn steweltjies wat jy eers gereken het buite jou begroting val.
Die lekkerste bly egter om op ‘n sonnige dag jou skoene uit te trek en kaalvoet oor louwarm seesand of koelgroen gras te loop.
Of nee: dis om die bekende voetval van die mens wie se skoene jy die graagste langs joune op die sitkamermat voor die leerbank sien, uiteindelik op jou voordeurtrappie te hoor.